Klein Libertas-teater sal herbou word ná verwoestende brand

Die Klein Libertas-teater in Stellenbosch is op 13 Junie 2015 in 'n brand verwoes Foto: Henk Fourie, Facebook

Die Klein Libertas-teater in Stellenbosch is op 13 Junie 2015 in ‘n brand verwoes Foto: Henk Fourie, Facebook

Die eienaars van die bekende Klein Libertas-teater in Stellenbosch in die Wes-Kaap wat Saterdagoggend in ʼn brand verwoes is, is vasbeslote om so gou moontlik die teater te herbou.

Henk Fourie (39), mede-eienaar van die teater, het Maandag aan Maroela Media gesê daar is geen sprake vir die familie om ʼn einde aan die teater te bring nie. “Ons is vuur en vlam om die teater so vinnig moontlik weer op die been te bring,” het hy gesê. “In hierdie stadium is almal nog ’n bietjie deurmekaar en ly aan skok oor wat gebeur het, maar ons wil die teater so gou moontlik herbou. Ons sal graag wil hê dit moet op dieselfde plek herbou word, want dit is die perfekte ligging vir die teater.”

Die teater en al sy inhoud is heeltemal in die brand verwoes en miljoene rande se skade is daardeur aangerig, het Fourie gesê.

Volgens Fourie word vermoed ʼn elektriese kortsluiting het die brand veroorsaak, maar dit sal eers bevestig kan word wanneer die brandweer se ondersoek afgehandel is. “My pa het seker die teater so 06:30 die oggend kom oopsluit toe hy vlamme op die verhoog gesien het. Hy het eers na die kantoor gehardloop om die brandweer te bel en toe is hy terug om te kyk of hy die vlamme kan blus, maar daar was niks wat hy kon doen nie. Die vlamme het hom by die gebou uit gedruk. Dit was seker omtrent net 20 minute, toe is alles weg.”

Fourie het gesê hulle wag om by die plaaslike munisipaliteit te hoor wat die volgende stap sal wees, aangesien die gebou aan die munisipaliteit behoort het.

Intussen probeer die teaterpersoneel om dringend ander venues te kry vir vertonings wat reeds by die Klein Libertas-teater geskeduleer was. “Ons is in gesprek met die Universiteit Stellenbosch om te hoor of die Tienertoneelfees soontoe geskuif kan word en soek ook ʼn ander venue waar die Klein Libertas-koor kan oefen, omdat hulle binnekort ʼn vertoning het,” het hy gesê.

“Dit is moeilik om in al die puin en rommel die positiewe sy raak te sien, maar ons probeer positief wees. Dalk is dit die ideale geleentheid vir ʼn nuwe begin,” het Fourie gesê. “En die ondersteuning en boodskappe wat ons vanaf die publiek ontvang, is net ongelooflik. Duidelik het hierdie teater vir mense baie meer beteken as wat ons besef het, en dit is wonderlik om te weet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Dis goeie nuus. Alhoewel dit in die Kaap is wonder mens tog of daar versekering op die gebou is ?
Daar is mos ‘n neiging by munisipaliteite om nie te verseker of slaan ek die bal mis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.