Klein Mia Cara veg steeds verbete

José en Sumien saam met hul kinders, Mia Cara en Sofia (Foto: Facebook)

Die sesjarige Mia Cara Ferreira van Somerset-Wes in die Wes-Kaap veg steeds verbete teen kanker terwyl haar ouers meer as R6 miljoen moet insamel sodat hul dogtertjie die beste moontlike kans op lewe kan hê.

José en Sumien Ferreira het vroeër aan Maroela Media vertel die gesin was verpletter toe hul oudste kind sowat twee jaar gelede met leukemie gediagnoseer is. Mia Cara moes sowat 21 maande van intense chemoterapie, lumbale punksies en beenmurgbiopsies ondergaan, en die gesin was verheug toe hul kind glo in remissie gegaan het. Die ouers het egter in Mei vanjaar gehoor dat sy ʼn terugslag gehad het en dat die chemoterapie van voor af sal moet begin.

Behandeling in die VSA wat as T-sel-terapie bekend staan sal in dié stadium haar beste kans op oorlewing en ʼn volle herstel wees aangesien ʼn beenmurgoorplanting én bestraling erge newe-effekte, soos onder meer breinskade, kan hê.

Ferreira het Dinsdag gesê die geldinsameling vorder goed, maar die gesin het steeds baie geld nodig om te verseker dat Mia Cara dié T-sel-terapie by die Philadelphia-kinderhospitaal kan ontvang.

“Terwyl ons besig is om die geld te probeer insamel, kan sy steeds nie voluit leef nie – sy is steeds tuis omdat ons dit nie kan waag dat sy in aanraking kom met enige kieme weens haar swak immuniteit nie. Die geringste kiem kan baie ernstige gevolge vir haar hê. Dis erg om haar hier te hou, maar dis wat ons moet doen terwyl ons wag vir die behandeling,” het hy gesê.

Die Ferreira-gesin wil poog om minstens 4 000 mense by ʼn veldtog betrokke te kry waarin elke individu sowat R500 per maand vir net twee maande skenk. Hy sê die gesin sal dus ná sowat twee maande in staat wees om dan die volle deposito aan die Philadelphia-kinderhospitaal oor te betaal.

“ʼn Vriendin wat naby ons woon het met die idee vorendag gekom. Sy het gesê sy lê nagte wakker en bekommer haarself oor Mia Cara. Hoewel sy en haar gesin nie self die geld het nie, het sy voorgestel dat dit waarskynlik ʼn manier is om die geld vir ons dogtertjie in te samel.”

Mia Cara gaan einde Oktober haar laaste reeks chemoterapie-behandeling ontvang. Sy sal dán die T-sel-terapie moet ontvang en die gesin sal dus in staat wees om die deposito aan die hospitaal te betaal.

Ferreira sê die gesin wil elke weldoener bedank wat tot dusver betrokke geraak het en ʼn verbetering in Mia Cara se gesondheid ʼn werklikheid gemaak het. “ʼn Mens wil nie sê dit gaan sleg nie, maar jy wil ook nie sê dit gaan goed nie – goed is tog so relatiewe begrip vir ons. Dit gaan goed as sy hier by ons is en veilig is en asemhaal. Maar die kwaad is nog daar en dis belangrik om hierdie terapie te ondergaan.

“Ons gesin stoei voort – ons weet die Here gaan ʼn weg baan waar daar nie noodwendig een was nie. Ons wou al meer as een keer die huis verkoop het, maar dan besef ons dat ons moontlik in die toekoms ʼn reserwe gaan nodig hê. Daar is gelukkig mense wat ons van heinde en ver ondersteun en ons glo dat ons met genade hierdie behandeling kan laat gebeur.”

ʼn Trustfonds is in Mia Cara se naam gestig om die gesin te help om geld vir die T-sel-behandeling in te samel. ʼn Facebook-blad, Hope for Mia Cara, is ook gestig om lede van die publiek oor haar vordering op hoogte te hou. Om betrokke te raak, besoek dié Facebook-blad of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Asb ·

Gebruik asb koeksoda dit versmoor die kanker selle! Drink die koeksoda met water.

Jodine ·

Genade.. jy klink soos n expert… het jy kanker gehad of n familie lid en hul was genees van kanker deur koek soda met water te drink… indien – well done…. boere rate help ni vir kanker nie….

MeisieMens ·

Koeksoda? Wil nie lelik klink nie, maar dan het JY die kuur vir kanker ontdek….

My moeder gaan op die oomblik vir haar 2e rondte chemo, en koeksoda het nie vir haar gehelp nie. Sy drink daagliks koeksoda. Maar nie vir die kanker nie, vir SOOIBRAND.

MeisieMens ·

Sterkte aan Mia en haar gesin. Ek stuur Engele, want die geveg is in ons Vader se hande!

Olga ·

Asb…..
Asb moet nie sulke snert praat nie, jy speel met mense se lewens!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.