‘Klein oorwinning’ nadat Mediclinic inentingsbeleid staak

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Mediclinic Suider-Afrika/Facebook)

Honderde werknemers van Mediclinic is verheug nadat die hospitaalgroep besluit het om die inwerkingstelling van sy verpligte inentingsmandaat vir eers te laat vaar.

Hoewel 94% van die groep se werknemers reeds die entstof teen Covid-19 ontvang het, is daar volgens Mediclinic minstens 345 werknemers wat aangedui het dat hulle nié ingeënt wil word nie en aansoek om vrystelling van die verpligte inentingsmandaat gedoen het.

Twee prokureurs, Delia de Vries en adv. Sabelo Sibanda, het verlede jaar die stryd teen verpligte inenting in die werkplek aangesê en namens sommige werknemers maande lank druk op Mediclinic uitgeoefen om nié met verpligte inenting voort te gaan nie.

Hoewel dit nie duidelik is of die prokureurs se volgehou druk ’n invloed op Mediclinic se besluit gehad het nie, bestempel De Vries dit as “’n klein oorwinning”.

De Vries vertel aan Maroela Media dat hulle klagtes vanaf minstens 33 werknemers van die hospitaalgroep ontvang het. “En dit is net diegene wat bereid was om na vore te kom en namens ander ook te praat. Daar is nog baie ander.”

Argieffoto van Mediclinic ter illustrasie. (Foto: Mediclinic Suider-Afrika/Facebook)

De Vries en Sibanda het in Desember ’n brief namens die werknemers aan Mediclinic Suider-Afrika gerig, waarin hulle die hospitaalgroep vra om onder meer duidelikheid oor die entstof te verskaf en met regstappe dreig.

“Dit is ons betoog dat die inligting wat aan ons kliënte beskikbaar gestel is, onvoldoende is om hulle in staat te stel om ’n ingeligte besluit te neem of hulle die Covid-19-inenting moet neem al dan nie,” lui die brief wat Maroela Media onder oë gehad het.

Mediclinic Suider-Afrika het ontvangs van De Vries se brief bevestig, maar nog geen antwoorde op die vrae in die brief verskaf nie.

Daar is ook onder meer in die brief aangevoer dat ’n verpligte inentingsmandaat inbreuk maak op werknemers se regte ingevolge onder meer artikel 12 van die Grondwet en daarom ongrondwetlik is. Dié artikel stipuleer dat elkeen die reg op liggaamlike en sielkundige integriteit het, waarby inbegrepe is die reg op sekerheid van en beheer oor hul eie liggaam; en om nie sonder hul ingeligte toestemming aan mediese of wetenskaplike eksperimente onderwerp te word nie.

“Ons is nie gekant teen inenting nie. Ons is wel pro-keuse,” verduidelik De Vries.

Mediclinic Suider-Afrika het Woensdag in ’n verklaring gesê die besluit om sy verpligte inentingsmandaat tydelik te laat vaar, is geneem met inagneming van die verminderde risiko in die werkplek weens die Omikronvariant.

Die hospitaalgroep bly wel onwrikbaar in sy siening dat inenting die beste beskerming teen ernstige infeksie en dood bied.

  • De Vries en Sibanda beoog nou om verskeie ander groot maatskappye, waaronder Woolworths, ook aan te vat oor hul verpligte inentingsmandaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

krodedil ·

Well done, De Vries en Sibanda . Hou hulle regsaanspreeklik vir enige newe effekte.

domheks ·

Mooi so! Iemand het verder gedink en die besighede aangevat! My lyf, my besluit!

Swerwer ·

Mag Covid 19 en die Inentingsveldtog asseblief nou op ‘n ent kom. Hou op om dit in die bevolking se kele af te druk. Dit is daar, dat die wat wil ingeent word, dit doen en los die res uit. Saam met Covid sal ons leef, daar gaan nog baie sulke plae en siektes hul koppe uitsteek en “so be it.” Die lewe gaan aan, dit gaan nie stilstaan nie. Kyk maar na daardie jare se Swart Griep. Dit het gekom en die mense het aangegaan, en vandag jare later sit ons weer met dieselfde gemors. Help nie jy wil almal se lewens op hou plaas en dink die probleem gaan verdwyn nie.

Yolandie ·

Ek stem volkome saam. Die absurd histerie oor Covid moet nou end kry. Ons lewe al ons hele lewe saam met kieme en viruses, siektes en kroniese kondisies asook terminale siektes. Niemand was nog ook so histeries gewees om ons van alle ander siektes en kwale te red nie.

Anel ·

Baie mooi. Hoop ander doen dit ook. Selfs mediesefondse wat lede dreig met premieverhoogings as jy nie bewys jy is gespuit nie. Nou wonder ek of mense wat operasies moet kry sal kan sonder dat nodig is vit virus toets?

VaalDonkie ·

Ironies genoeg sou ek al lankal gespuit gewees het as ek nie druk van my werkgewer gehad het nie. En as Dr Zuma se ogies nie so geblink het elke keer as sy van inspuitings praat nie.

Hermien ·

Ek hoop daardie sekuriteits beampte (Gideon Kok van Ndaka Security Services wat dienste aan SASOL verskaf) wat sy werk verloor het kan ook gehelp word!

Andrew ·

Maar let nou op die maaaaaaar , die “justification” van alles hoofstroom “onwrikbaar in sy siening dat inenting die beste beskerming teen ernstige infeksie en dood bied”. Eie lewe eie keuse, finish.

Sannie ·

Ek kry n onderhoud na byna 2 jaar van werk soek. Kry die werk maar op die einde word ek gevra vir bewys van inenting . Ek nie gespuit nie en gaan ook nie net daar word ek gesé hulle kan my nie aanstel nie

Miskruier ·

Dié is ook die rede vir die protes by Kovsies. Ons kinders is nie proefkonyne nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.