Klein Ruan (1) sterf: ‘Ons is stukkend, maar God bring troos’

Ruan (Foto: Verskaf)

ʼn Egpaar van Heidelberg in Gauteng sê hul enigste troos ná die dood van hul eenjarige seuntjie is dat hy nou “sonder pyn en met hope liefde in die hemel speel”.

Die eenjarige Ruan, wat al sy hele lewe lank in en uit die hospitaal is, is verlede maand ná ʼn lang siekbed oorlede.

Maroela Media het vroeër berig oor Ruan en sy tweejarige boetie, Ruben, wat verlede jaar albei beenmurgoorplantings nodig gehad het. Ruben was vroeër onder meer 54 dae in die waakeenheid weens die sogenaamde “Pneumocystis jiroveci”-longontsteking, ʼn virus wat mense met ʼn baie swak immuunstelsel aanval. Ruan is gebore met gastroskise, ʼn toestand waar die baba se ingewande aan die buitekant van sy lyf ontwikkel.

Katinka Roodt, die seuns se ma, sê hulle het toe wél beenmurgoorplantings ontvang, maar Ruan se gesondheid het na dié operasie selfs meer agteruitgegaan.

“Ruben se liggaam het onmiddellik die skenkerbeenmurg aanvaar. Hy het heeltemal gesond geword en is soos ʼn nuwe seuntjie. Al vyf Ruan se moontlike skenkers het deur die mat geval en ek moes toe vir hom die beenmurg skenk. Sy liggaam het dit verwerp, en van daar af het dit sleg met hom begin gaan. Ons was die laaste paar maande meer in die hospitaal as by die huis,” verduidelik sy.

Ná die oorplanting het Ruan die sogenaamde “Graft vs host”-siektetoestand ontwikkel wat gelei het tot erge diarree – ʼn toestand wat die eenjarige elke kort-kort weens dehidrasie in die hospitaal laat beland het.

Roodt sê hoewel dokters aanvanklik bekommerd was, het Ruan weer gesonder geword. Sy sê hy het sowat ʼn maand voor sy afsterwe een aand net na middernag wakker geword en erg opgebring.

Die egpaar het met hom na die hospitaal gejaag waar hy op ʼn drup gesit is omdat hy reeds gedehidreer was. Hy is die volgende oggend rondom 11:00 in die waakeenheid opgeneem. “Die dokters was bekommerd; hy het vinnig begin asemhaal en die toontjies aan sy regtervoet het swart geword. Die dokters het gesê hy het twee bakteries opgedoen. Ek het die dokter gevra: Wat moet ek nou doen? Toe sê sy ek kan net bid.”

Klein Ruan se liggaam het later in septiese skok gegaan omdat die gifstowwe wat teen die bakteries baklei het, in sy liggaam vrygestel is.

Die kaartjie wat die begrafnisonderneming vir die diens gemaak het (Foto: Verskaf)

“Selfs toe alles op sy donkerste gelyk het, het God weer ingetree. Gebed het byna alles reggemaak. Dit het gelyk of hy gesonder word, hy het weer kleur in sy vel gekry en sy niere het weer begin funksioneer. Ons was so dankbaar.”

Kort ná Ruan weer gesonder geword het, het hy nóg ʼn bakterie en ʼn fungus opgedoen. Roodt sê sy hele liggaam het begin swel en dokters was weer eens nie positief nie. Maar toe word klein Ruan wéér gesonder.

“Die dokters se monde het oopgehang, hulle kon dit nie glo nie. Maar wonder bo wonder het die Here weer ingetree, en Ruan het weer begin lyk asof hy op die herstelpad is,” sê sy.

In dieselfde tyd het dokters egter ʼn MRI-skandering gedoen wat getoon het dat Ruan erge bloeding op die brein het. Volgens die dokters was die eenjarige in ʼn vegetatiewe toestand.

“Die dokters het gesê hy sal nooit weer die normale goed kan doen soos loop of sit of sy fopspeen suig nie. Maar hy het tóg reageer, hy was tog teenwoordig wanneer ek met hom gepraat het. Op 27 Mei het ons egter net geweet: Daar was niks wat ons kon doen nie; dit was tyd soos die Here dit bepaal het. My man was in 2010 langs sy ma se eie sterfbed en hy het die tekens geken toe Ruan vlak begin asemhaal het. Maar ons weet hy was nie in pyn nie: daar was geen hoë pols of bloeddruk nie. Hy het net doodeenvoudig sy laaste asem uitgeblaas.

Roodt sê hoewel haar hart stukkend is, vind sy vertroosting in die wete dat Ruan by God is. “In sy jaar en 10 maande op hierdie aarde het hy mense reg oor die wêreld aangeraak. Mense het gesê hulle het God gevind, of hulle praat nou meer met die Here as voorheen. God het ʼn plan met sy lewetjie gehad. En ons sal hom onthou soos hy altyd was; ʼn liefdevolle seuntjie wat gaande was oor eet, wat ongelooflik diep in ons harte gekruip het en altyd daar sal bly.”

Die gesin wil spesiale vermelding maak van The Mosaic Funeral Group wat Ruan se diens en verassing einde verlede week gratis aan die familie verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

TDW ·

Ek is regtig jammer om van die afsterwe van jul seun te hoor. Baie sterkte, mag die Here julle dra deur hierdie hartseer tyd.

(Aan maroela media, waarvan was hy en sy boetie siek dat hulle beenmurg nodig gehad het? En waar is die berig wat voorheen geplaas is?)

MissDemeanor ·

Mense ons kan ander kinders help as ons registreer as “stem cell donors”. Maroela Media dit sal soveel beteken as jul ietsie kan skryf oor hoe SAMBR en skenkers mense se lewens ge red het.

Retha ·

Sit ek omtrent en huil soos ek lees. My hart is seer saam die ouers s’n. Daardie klein lyfie het soveel deurgemaak en tog het hy baklei om gesond te word. Ek bid dat God hierdie pappa en mamma styf vashou en met tyd vertroosting bring en die seer minder maak.

Sandra Nieuwoudt ·

SCID (Severe Combined Immunedeficiency).

Dit was die siekte se naam

Ena ·

My hart is so seer vir daardie gesin.
Waar en hoe gaan n mens te werk om as n skenkerte registreer.
Is dit soos die bloedbank?
Ek sal defnitief belangstel om getoets te word.

Enése van der Walt ·

Hi Ena. Dit is nie heeltemal dieselfde nie, want waar bloed van bv enige B—positiewe skenker na n B-positiewe ontvanger geneem kan word, moet stamselle of beenmurg n baie nabye genetiese ooreenkoms tussen die skenker en ontvanger toon. Skakel gerus die SA Beenmurgregister by (0)21 447 8638 vir meer inligting.

Gesiggie ·

Aan hierdie Mamma en Pappa… woorde sal nie jul eina kan wegvat, en my hart ruk in twee om net na die mooiste gesiggie te kyk… al die pyn wat Ruan moes deurgaan, al jul gebede.. Jesus wou nie dat hy nog meer seer kry, hy is nou sonder pyn en n Engel kind van God…waar hy is, is hy nou weer gesond en hardloop hy rond in die Hemel… my Innige meegevoel, mag Jesus jul stuif vas hou, en mag jul weet dat Ruan altyd naby jul sal wees, al kan jul hom nie sien nie… hy is daar… RIP Ruan Engelkind….

Leon ·

Ek het hierdie tragedie redelik gevolg, aangesien my broer en sy vrou direk by die familie betrokke is. Hulle, en ons almal eintlik, het gebid en gehoop op verbetering en genesing, maar ons kan nie SY rigting met ons bepaal nie. Klein Ruben was baie aan huis van my broer en skoonsus, so die hele verhaal is baie tragies.
Baie sterkte vir julle, ons weet SY krag sal julle almal deur hierdie tyd dra.

Al ·

My hart breek vir jul, en sterkte. Hy is nou ñ pragtige gesonde seuntjie in die hemel.

Liza ·

Rus saggies kleine Ruantjie, en sterkte aan die ouers……..

Nettie ·

Dit is maar beter so, die arme ou dingetjie het net gely. Sterkte aan die gesin en familie.

VanAfrika ·

Elke keer as ek lees oor n kleinding wat ons vir die hiernamaals verlaat het, krap dit my van voor af om, omdat ek enetjie teen my medewete hemel toe moes laat gaan en wat vir die familie voorlê. Dis nie maklik nie, al wat ek kan sê ek voel saam met julle want n mens se hart bly stukkend.

MissDemeanor ·

Nog iets….5 van die kind se skenkers het deur die mat geval. Weet julle hoe min geregistreerde beenmurg skenkers daar in SA is? Maar net 64 000 en die kanse dat 2 mense dieselfde weefsel tipe het is bitter biter bitter klein. As jul simpatie het met Ruan se familie en ander families soos syne, gaan registreer as n skenker by SAMBR. Die proses om “beenmurg” te skenk is baie eenvoudig en gladnie seer nie (dit word gedoen onder lokale verdowing, soos by die tandarts). Moenie dat jou vrees vir n naald lei tot die voorkombare dood van ‘n kind nie. Daar waar hul die naald in jou steek sal slegs sensitief wees vir n paar uur. Die mense wat sterf aan leukemia en ander siektes se familie sy pyn is ondraaglik en hou n leeftyd. Gaan registreer asb as “stem cell” skenker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.