‘Klein vegtertjie’ 14 weke te vroeg gebore

Baba Charmé (Foto: Verskaf)

’n Jong ma van Middelburg waak tans by haar babadogtertjie se hospitaalbed nadat sy Saterdag sowat 14 weke te vroeg in ’n staatshospitaal in dié dorp in Mpumalanga gebore is.

Die piepklein baba Charmé weeg maar 640 g en word tans gemaklik en warm gehou.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie wat ouers met mediese hulp bystaan, het Donderdag aan Maroela Media vertel dat klein Charmé “vasbyt”, maar dringend spesiale mediese sorg benodig – mediese sorg wat die staatshospitaal waar sy tans opgeneem is nié kan bied nie.

Volgens Schoeman het Charmé vanoggend ’n noue ontkoming gehad toe haar hart gaan staan het. Daar word vermoed dat sy te vroeg van die C-pac, ’n suurstofmasjien, gehaal is en is inderhaas weer aan die masjien gekoppel nadat sy bygebring kon word.

“Sy is ’n regte klein vegtertjie,” sê Schoeman.

Volgens Schoeman staan Charmé ’n goeie kans op oorlewing mits sy die regte mediese sorg ontvang. “Ons het baie staatshospitale gekontak, maar hulle is net nie ingerig om ’n vroeggebore baba te behandel nie. Sy kort private sorg en die regte spesialiste.”

Charmé se ouers is nog baie jonk en kan nie bekostig om vir die private sorg vir hul eersteling te betaal nie. Volgens Schoeman benodig die paartjie sowat R90 000 as deposito om Charmé in ʼn private hospitaal te laat opneem, waarna koste sowat R15 000 per dag in dié hospitaal sal beloop.

Baba Charmé (Foto: Verskaf)

Charmé se familie het gevolglik die Child Medi-organisasie gekontak om namens hul geld in te samel om dié pienkvoet ’n kans op lewe te bied.

Schoeman is oortuig daarvan dat Charmé uiteindelik ’n normale lewe sal kan lei. Sy verwys na die soortgelyke geval van baba Mia van Polokwane wat óók te vroeg gebore is en vir wie geld ook ingesamel moes word sodat sy die regte mediese sorg kon ontvang. “Vandag is baba Mia een jaar oud en springlewendig en gesond. Charmé sal ook wees as ons haar help,” sê Schoeman.

“Charmé sal waarskynlik ’n maand tot ’n maand en ’n half in die hospitaal moet bly om aan te sterk, maar sy sal dit maak.”

Dié organisasie is dringend op soek na weldoeners wat kan help om Charmé na die Life Midmed-hospitaal, ’n private hospitaal in Middelburg, oor te plaas. Alle skenkings en betalings aan die hospitaal word deur die organisasie bestuur.

ʼn Trust is intussen begin vir diegene wat bydraes wil maak. Kliek hier vir meer besonderhede oor die trust.

Besoek die Child Medi-organisasie se Facebook-blad vir meer inligting of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pastoor ·

Haar 2de naam is Faith. Die Here wat ons dien kan vir klein Faith optel.

Nettie ·

Ek het dourie jare (voor 1994) in die Paarl Akademiese (Provinsiale) Hospitaal verpleeg. ‘n Staatshospitaal. Selfs dourie jare gelede was daar ‘n eenheid vir prem-babas, ook in die “kleurling”-gedeelte van die hospitaal. Provinsiale hospitale het toe vir álle tipes van mediese sorg voorsiening gemaak, dus vra ek: “Wat is fout met die stelling dat die staatshospitaal waar Charné tans opgeneem is, kan nie mediese sorg wat sy benodig, bied nie”. Dus: wat het in 25 jaar verander dat (die meeste) staatshospitale eintlik niks anders as “ICU’s” geraak het nie? Dit staan vir “ICU Dead”, nie “intensive care unit” soos baie mense sou dink, nie. Kan/mag mens die gevolgtrekking maak dat dít die gevolg van beheer deur die meerderheidsras /die ANC is?

IK ·

‘n Uiters bekwame hospitaal Midmed met in die intensiewesorgeenheid ‘n dame aan die hoof van sake wat weergaloos is. Ja, ek weet . . .

Wonder net ·

Min of meer een maand? Dink dit is eerder 4 maande plus. My seuntjie was 7 weke te vroeg gebore en was amper ‘n maand in NICU…

JM ·

Sterkte vir die ouers, wens ek kon help. My baba dogtertjie was ook Mei maand hierdie jaar 8 aande in NICU in Midmed na sy 4 weke te vroeg gebore is, die kostes vir haar 8 aande was R 83 000.

Ek weet van ‘n ander baba wat ook so klein was met geboorte in Midmed, terwyl my baba daar was, was dit die baba se 91ste dag daar en toe weeg sy nog net 1.5kg.
Sy is eers ‘n hele ruk daarna ontslaan.

Komkommer ·

@wonder net. Moenie so negatief wees nie, almal is mos anders, en dogtertjies is sterker as seuntjies. My dogtertjie is op 30 weke gebore (1,99 kg)en ek het haar huistoe gevat op dag 8….. As die Dr’s reken dit kan gedoen word is sy sekerlik nie so sieklik soos jou seuntjie was op daardie stadium nie. Sterkte vir baba en die ouers.

Wilma ·

Die ANC regering het als totniet met onbevoegde kaders. Hul brag met gratis mediese sorg maar dis so swak dit verdien ni om te brag ni.

Katerina ·

My oudste dogter was 1992 te vroeg gebore, sy het 970g geweeg. Was vir omtrent 6 weke in neonatal ICU. Sy was nog altyd baie gesond, het onlangs mamma van n tweeling geword. Maar dit was in die Tygerberg hospitaal in 1992 so hulle was uitstekend.

Ronell Coetzer ·

My dogter is op 25 weke gebore en het 700gr geweeg in 1999. Sy was 3 maande in neonataal in Pta-Oos Hospitaal. Sy het hierdie jaar matriek geskryf en is ń pragtige kind. Sterkte aan hierdie mamma en pappa. Ek bid vir julle dogtertjie.

Yolandie Toerien ·

Probeer Frere Hospitaal in Oos London. Hulle is mos op geknap deur Carte Blanche. Spesifiek die Pediatric Section.
Sterkte.
Ek is nou 26 weke. Dink baie aan julle.

Tali ·

Ons seuntjie is op 2 September 2018 gebore 28 weke 660g. Hy nou amper 4 maande. Dis ‘n baie lang pad om te stap. Hy was amper 3 maande in NICU en ons hospitaal rekening was R700 000. Dank die Vader ons het medies. Hoop julle kom reg en sterkte daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.