Klein ‘wonderwerksoldaat’ tuis ná 100 dae in hospitaal

 

Klein Ephraim Maleho saam met sy pa, Malvory van Wyk, ma, Beneline Maleho en ouboet Llyle. (Foto: Verskaf)

“Ons het gewonder, ‘hoe kan ons kind leef?’, maar ons het geweet dat daar iets baie spesiaal aan hom is.”

Só sê Beneline Maleho oor haar drie maande oue babaseuntjie, Ephraim, wat onlangs ná meer as 100 dae in die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Kaapstad ontslaan is.

Ephraim se ingewande en ʼn gedeelte van sy lewer was by geboorte buite sy lyf in ’n “deurskynende borrel” sigbaar.

Dié toestand staan bekend as exomphalos en die letterlike vertaling daarvan is “buite die naeltjie”.

Dit is ’n probleem wat in die buik voorkom en veroorsaak dat ’n geseëlde sak met ingewande en organe buite die liggaam vorm.

Volgens Maleho het die dokter reeds met haar skandering op 13 weke iets ongewoons opgemerk.

Hoewel dié nuus groot kommer by Maleho en haar man, Melvory van Wyk, veroorsaak het, het die ouerpaar geweet dat hulle alles in hul vermoë sou doen om hul seuntjie ’n kans op oorlewing te gee.

“Ek het God elke dag gedank wanneer ek my oë oopgemaak en die baba voel skop het. Dis asof Ephraim vir ons gesê het ‘Toemaar, mamma, ek is oukei’.”

Van Wyk onthou die geboorte van sy seun, deur middel van ʼn keisersnee, as “uiters emosioneel”.

“Ons was so verlig dat hy oorleef het. Die neonatale intensiewe-sorgspan moes hom dadelik stabiliseer en hy is na die intensiewe sorgeenheid (NICU) geneem.

“Ons was uiteraard baie bekommerd en het geweet dat hierdie die begin van ’n lang reis is.”

Die eerste drie maande van dié babaseuntjie se lewe het gevorderde neonatale intensiewe sorg vereis, waaronder ’n vindingryke tegniek wat die gebruik van vrugwaterweefsel van sy geboorte ingesluit het.

Dr. Ricky Dippenaar, hoofneonatoloog by die Netcare Blaauwberg-hospitaal, sê die proses was geweldig delikaat en dat Ephraim deurlopend in ’n streng beheerde omgewing in die intensiewe sorgeenheid gehou moes word om die dun membraan wat die “borrel” om sy organe gevorm het te beskerm en infeksie te voorkom.

“Wat Ephraim se letsel besonders ongewoon gemaak het, was nie net die grootte daarvan nie, maar die feit dat die helfte van sy lewer sowel as klein én groot ingewande deur sy buikwand gesteek het.

“Die letsel is gevolglik as ’n hepato-omphalocele (’n reuse-exomphalos) herdefinieer.”

Volgens Dippenaar kon Ephraim se organe as gevolg hiervan nie bloot geskuif en in plek gesit word nie aangesien sy buikholte nie ontwikkel het nie.

Die vrugwaterweefsel wat in Ephraim se behandeling gebruik is. Foto: Verskaf

Dít, sê Dippenaar, was ’n groot uitdaging.

“Ons het tyd nodig gehad sodat die vel kon groei om genoeg plek in sy buik te skep.”

Vrugwaterweefsel wat Dippenaar met Ephraim se geboorte sorgvuldig gestoor het, was ’n kerndeel van sy hoogs gespesialiseerde behandeling – veral in die voorkoming van septiese komplikasies.

“Hy het ons geleer wat dit is om ’n klein held te wees,” sê Dippenaar.

Dr. Beelke D’hondt, ’n pediatriese chirurg by die hospitaal, het Dippenaar geloof omdat sy die behoefte om die vrugwatersak te stoor, raakgesien het.

“Vrugwaterweefsel bevat stamselle wat beslis gehelp het om Ephraim se lewe te red.

“Ephraim se geval was uiters uitdagend, maar die vordering wat hy gemaak het, is merkwaardig,” sê D’hondt.

“Ons dank hierdie engele wat na ons seun omgesien het. Hulle was eerlik oor die risiko’s en het ons bygestaan om feitgebaseerde besluite te neem,” het Van Wyk oor sy seun se dokters gesê.

“Hy is ons klein wonderwerksoldaat.”

Ephraim sterk tans by die huis aan en het reeds goed gewig begin optel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Flower Girl ·

Dankie Vader vir goeie dokters en verpleegsters wat u aan die mens skenk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.