Kleindogter nog gereeld by gesiene oupa wat haar glo verkrag

Adv. Gerrie Nel en die familieregprokureur Amorette Gangle het die media Donderdag in Centurion toegespreek oor die saak waarin ’n oupa na bewering sy kleindogter (toe 3) verkrag het. Foto: Reint Dykema

Die burgerregte-organisasie AfriForum is bekommerd dat die vermeende verkragter van ʼn vyfjarige meisie van Pretoria onbeperkte toegang tot die kind het en haar selfs oppas terwyl haar pa uitstedig met sakebesoeke is.

Boonop is die dogtertjie se ma nou van molestering aangekla, ondanks die feit dat die kind reeds twee jaar gelede beweer het haar oupa het haar verkrag. Omdat die kind se ma nou op dié aanklag teregstaan, word sy net toegelaat om haar kind elke twee weke vir ʼn uur lank te sien.

Maroela Media het vroeër berig adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se eenheid vir privaat vervolgings, het Donderdag op ʼn nuuskonferensie in Centurion gesê hulle het besluit om betrokke te raak omdat die regsproses die slagoffer, wat drie jaar oud was ten tyde van die beweerde verkragting in September 2016, in die steek gelaat het deur nie haar oupa te vervolg nie.

“Dink net daaraan,” het Nel gesê, “die verkragting vind plaas in jou oupa se huis, waar jy veilig moet wees. Jy vertel jou ma en jou pa wat gebeur het. Aanvanklik glo jou pa jou; later het jou pa ʼn ander weergawe.”

Adv. Gerrie Nel sê AfriForum wil help sekermaak daar is geen nalatigheid in die regsproses nie sodat kinders behoorlik beskerm kan word. Foto: Reint Dykema

Die beweerde verkragting het glo aan die lig gekom nadat die dogtertjie haar ouers daarvan vertel het, voordat ʼn sielkundige ook glo die seksuele aanranding tydens ʼn sielkundige regsassessering bevestig het.

Nel sê die sielkundige het dit in haar verslag duidelik gemaak sy is oortuig daarvan dat die verkragting wel gebeur het, maar sy is gedreig deur die pa van die kind deur te sê dit sou haar berou dat sy ooit dié familie teëgegaan het. “Jou lewe gaan nooit weer dieselfde wees ná hierdie verslag wat jy uitgereik het nie,” het die pa van die kind volgens Nel na bewering gedreig.

Hy sê twee weke ná die beweerde voorval het iets by die kleuter se skool gebeur wat haar onderwyseres daarvan oortuig het die kind is gemolesteer. Sy het die ma gebel om haar daarvan te vertel, maar die oupa en pa het volgens Nel afsonderlik by die skoolhoof daarop aangedring dat die onderwyseres onmiddellik afgedank word omdat sy die familie beswadder het.

“Die pa is finansieel afhanklik van die [kind se oupa],” het Nel gesê.

Die naam van die beweerde oortreder kan nie bekend gemaak word nie, maar volgens AfriForum is hy ʼn suksesvolle, gerespekteerde sakeman in die finansiële bedryf.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het sonder die onderwyseres of die sielkundige se verklarings besluit om nie die kind se oupa te vervolg nie.

Nel sê sy afdeling het besluit “om die regte ding te doen” en die polisie te help om die saak te ondersoek nadat die ma van die kind na hulle toe gekom het. “Ons sê vir die polisie hulle moet ʼn verklaring van die juffrou kry voor die saak aan die aanklaer voorgelê word vir ʼn beslissing [oor of vervolg sal word].

“Nou sê ek vir u: Terwyl ek hier sit, het die polisie nog geensins die juffrou genader of ʼn verklaring van haar gekry nie. Ons het. Mense in my kantoor het die juffrou genader en haar verklaring gekry.”

Hy sê hulle het met die sielkundige en die skoolhoof gepraat. “Ek wil sê, die aanklaers saam met wie ek gewerk het en vir wie ek respek het, sal hierdie saak vervolg as hulle met die juffrou en met die sielkundige beraadslaag.”

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het gesê die organisasie wil toesien die polisie en nasionale vervolgingsgesag doen hul werk so goed dat daar geen rede is om in te gryp nie. Foto: Reint Dykema

Nel meen as daar ʼn behoorlike ondersoek was en alle getuienis in die dossier was toe besluit is om nie die sakeman te vervolg nie, sou hierdie saak al afgehandel gewees het.

Hy vertel die kind se ouers is intussen geskei. Nadat ʼn toesighouer en kurator oor die saak aangestel is, is die ma gevra om die kind aan nog ʼn sielkundige evaluering bloot te stel.

In dié evaluering is die weergawe omgekeer: “Dit wat die oupa gedoen het, is nou wat mamma gedoen het,” het Nel gesê. “En daai saak word toe onmiddellik geopen by die polisie. So, daar is toe nou ʼn saak teen die ma vir die verkragting van haar kind.”

Maar Nel meen: “Daar is sekere goed wat mammas nie kan doen nie. En daar is sekere goed wat oupas kan doen.”

Nel sê toe hulle die verslag ontvang, het hulle dr. Gerhard Labuschagne, wat jare lank hoof van die polisie se forensiese afdeling was en nou in privaat praktyk is, gevra om na die verslag te kyk. “Hy het ongelooflike kritiek teen dié verslag, teen alles in die verslag.”

Labuschagne het voorgestel dat die mense wat by die verslag betrokke is, onmiddellik by die Raad op Gesondheidsberoepe verkla word. Amorette Gangle, familieregprokureur, behartig dié proses namens AfriForum.

Nel glo vas as die saak die aandag gekry het wat dit verdien en wat sy afdeling nou van plan is om dit te gee, sou die vermeende oortreder lankal skuldig bevind gewees het.

Nel sê hulle het aansoek gedoen om ʼn sertifikaat wat hulle die reg sal gee om as aanklaer op te tree. Sodra dit toegestaan word, sal hulle die nodige stappe doen om weer met die klaagster oorleg te pleeg en die saak te herbou sodat die vermeende verkragter vervolg kan word.

Nel het op ʼn vraag van ʼn verslaggewer gesê hy verkwalik die polisie dat hulle die slagoffer in die steek gelaat het deur nie die ondersoek te doen nie “weens die profiel van die beskuldigde”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Avra ·

Geld wat storm is, maak nie als reg wat krom is. Hoe siek is hierdie siele nie en n kind moet daar onder ly..

Annie ·

Ontstellend.. Die kind behoort in n veilige omgewing te wees.

Hartseer Mamma ·

Molestering is een van die moeilikste gevalle om te bewys wanneer n kindjie betrokke is. Dis ook die geval waar mense jou die minste glo. Mag geregtigheid seevier.

Stormrider ·

Ons verneem graag ook van Gerrie se vordering met ander hoë-profiel sake wat hy bedryf in algemene gemeenskapsbelang.

Cherokee ·

Hy het onder meer die diplomatieke immuniteit wat die regering aan Grace Mugabe geskenk het, laat kanselleer en die regering gedwing om haar te vervolg. Hy het die NVG gedwing om Zuma te vervolg. Jy behoort nie met ‘n lepel gevoer te word nie. As jy koerant kan lees is jy groot genoeg om al hierdie nuus self raak te lees.

Gerhard Griesel ·

Ons (die publiek) moet onderskei tussen publisiteitsfoefies en werklike optrede. Afriforum het tot dusver nog nie ‘n enkele saak tot vonnis gebring nie. ‘Ja, maar onthou sulke prosesse neem lank’ is net ‘n ander manier om te sê ‘Ons kon dit nie regkry nie’.

hetta ·

dis n goeie saak maar ek voel die “bulldog” is absoluut toothless. anders sou hy sake soos die coligni manne, penny sparrow, chris hart, vicky momberg en die doodskis duo sn onder die loep geneem het. nee wat! soek eerder n maltees.

JKL ·

@Hetta, wat moes hy daar doen? Hy is n aanklaer NIE n verdedigende adv nie. 2) daai sake is deur die NPA gedoen, nie privaat nie.

Uhm ·

Uhm Hetta…so volgens jou, as die npa nie een van daai vervolg het nie, moes gerrie hul vervolg het? Gaan lees eerder op oor wat Gerrie ens doen voor jy jou onkunde kom wys.

robbie ·

julle laat julle mislei. gerrie doen net hoe profiel sake. maar sover, is geen saak nog afgehandel nie. sy “private vervolgings” gaan om publisiteit vir die vf+, niks anders nie.

lolla ·

as jy na die meeste beskuldigdes in verkrag en molesteer sake gaan kyk is dit meestal mense wat ‘veilig’ moet wees vir kinders….pa ..oupa….ooms…boyfriends …broers …onderwysers…pastore…predikante…. ens… baie min is regtig vreemdelinge….. en die kleinkindertjies moet getuig en word ondervra deur regskennis ens… en sulke sake word aanhoudend uitgestel en kan oor jare strek…hoe moet die arme kinders na so lank tyd nog onthou?…is dit regverdig teenoor enige verkragte en mishandelde mens…. nee die sake moet hanteer word in die kortste moontlike tydperk…. laat moordenaars ens sit

Janet ·

Nee daar sal seker eers gewag word om met die kind te gebeur wat met klein poppie gebeur het dan moet dit geoot nuus word. Dankie Adv Gerrie Nel

Lynne ·

Baie baie dankie AfriForum dat julle tot die dogtertjie se redding gaan kom! Mag julle net van krag tot krag gaan!

Jem ·

Skandelik dat kinders verkrag moet word en maar net teruggestuur word na dieselfde situasie omdat party mense te sleg is om die werk te doen waarvoor hulle betaal word.

christa ·

die man het ‘n kind maar sy pa moet nog vir hom sorg? hoe treurig is dit nie. Ek glo nog altyd ‘n pa is nie een wat die kind verwek nie, maar wel die een wat na die kind se belange omkyk en die kind versorg. As ‘n pa sy sout werd is sal hy nie kinders verwek as hy nie bevoeg is om ‘n vrou en kind te onderhou nie.

Lola ·

Siek. Die liedjie siembamba speel in my kop rond. Jy sal ook doen wat jy geleer is om te doen.

Jay ·

Maar my wonder of hy nie dit met sy kinder óók gedoen het nie…Dalk n bietjie ondersoek instel

Piet Pompies ·

Ons is self al Oupa en Ouma en ons is ons kleinseun se beskermer, nie omdat dit ons plig en verantwoordelikheid is nie, omdat hy dit verdien. Sy ouers is ook baie lief vir hom maar as sake bietjie ongemaklik raak (stout) dan kom maak hy nes by ons. Enige Oupa wat sy kleinkinders misbruik en sy onskuld te probeer bewerkstellig met geld behoort in die tronk.

adriana ·

Hoop die kind is weggeneem?
Kan julle dit bevestig Maroela want anders gaan ons ons dood bekommer!!

neeman ·

Ek wens ek kan weet wie hierdie gerespekteerde sakeman is,

Afrikaanse Knaap ·

Waar daar ‘n rokie is, brand daar ‘n vuurtjie. Ondersoek die ding ordentlik en laat reg en geregtigheid geskeid. Nie dat ek dink enige straf anders as doodstraf is regverdig vir iemand wat ‘n kind verskrag nie…

Alida ·

Wat maak sy status saak hy bly n kinderverkragter. Ek gee nie om watse pos hy beklee nie maak sy naam bekend.

Alida ·

Hoekom moet die belangrike anonieme verkragter nog vir die pa van die kind sorg? Duidelik is daar iewers gefaal. Mens leer jou seuns om te werk LW enige werk en jou verantwoordelhede na te kom veral as dit by kinders kom.

Mags ·

Jou eie kind en kleinkind. Siek verby.
Liewe magtig ek sal my kind met my lewe beskerm

Waarheid ·

Kry die kind daar weg! Die skade raak net groter!!! Doen die regte ding en kry die kind daar weg anders faal julle ook!

Ada ·

Dit help nie om te verkondig dat die skuldiges vervolg gaan word en julle doen niks om die kind uit die huidige situasie te krynie! Dit skree teen Hemele!

Volg Op ·

Is die kind al verwyder uir haar huidige omstandighede uit?
Dit is van kardinale belang.

sonja ·

Kinders van so jonk as drie het nie enige seksuele kennis nie tensy hy/sy daaraan blootgestel of met hul gebeur het nie. Hulle het nie die kognitiewe vermoë om so ‘n storie op te maak nie. As ek hulle was doen ek definitief ‘n volgende forensiese assessering en gebruik ook sommer anatomiese korrekte poppe.

Arizona ·

So net omdat jy n gesiene sakeman is kan jy maar lol met n kind want jy het geld. Die publiek sal gou genoeg weet wie dit is

waarheid ·

Waarom mag hierdie ryk verkragter bekendgestel word nie? Die Dros verkragter was dadelik bekend gestel.

Is die dogtertjie al van die verkragter af verwyder? Ook van haar hopelose ouers – soos dit vir my klink?
Laat weet asb Maroela?

EK SÊ MAAR NET... ·

Moenie veralgemeen en die Mamma hierby insleep nie. Sy baklei hand en tand vir haar kind se regte!!! Die Pa en Oupa is alleen aandadig!!! Mag hul albei nooit weer ‘n oog toemaak en rustig slaap nie!!!! Wens ek kan weet wie die Oupa is …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.