Kleiner partye dreig met regsaksie ná verkiesing

Jimmy Manyi. Foto: Dimpho Maja/ANA

Talle kleiner politieke partye het Donderdag gesê hulle is bereid om die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) na die kieshof te sleep weens ongerymdhede tydens Woensdag se algemene verkiesing.

Meer as tien kleiner partye, waaronder die APC, National Freedom Party, ATM, BLF, Land Party en SWRP, meen die verkiesing was nie “vry en regverdig” nie.

Afgesien van die ATM (African Transformation Movement) staan die partye amper geen kans om ʼn setel in die parlement te kry nie. Die ATM het teen 20:30 met meer as 62% van die stemme wat getel is reeds meer as 46 000 stemme ontvang.

Die partye het ʼn mediakonferensie by die OVK se nasionale verkiesingsentrum in Pretoria-Wes gehou waar Jimmy Manyi, leier van die ATM, gesê het die verkiesing was nie vry en regverdig nie weens al die berigte van ongerymdhede soos dat mense meer as een keer gestem het, ink wat maklik van mense se duime afgekom en stembriewe wat verlore gegaan het.

“Ons sê dat al hierdie dubbele stemme wat plaasgevind het die geloofwaardigheid van hierdie verkiesing op die spel plaas,” het Manyi gesê.

“Hulle prosesse is gebrekkig en daar is allerlei kwessies geopper waar voortsittende beamptes inkonsekwente besluite geneem het.”

Adil Nchabeleng, woordvoerder van die APC, het gesê van die kiesstasies is eers teen die einde van die dag oopgemaak terwyl mense by sommige kiesstasies weggewys is aangesien daar glo nie die nodige vorms was nie.

“Daar was belangrike kwessies wat reeds deur die OVK aanvaar is, hulle het onreëlmatighede opgemerk, maar niks is daaraan gedoen nie. Dit was ʼn vreedsame verkiesing, maar die prosesse, asook die wyse waarop die OVK die verkiesing gehou het, was nie vry of regverdig nie,” het Nchabeleng gesê.

“Dit was ʼn doelbewuste skuif om minderheidsgroepe en kleiner partye te ondermyn aangesien sommige uitslae baie betwyfelbaar is omdat bevolkingsdemografie nie die resultate ondersteun nie.”

Zanele Lwana, woordvoerder van die BLF, het gesê daar is bewyse van ongerymdhede in die verkiesing.

“Daar is ʼn duidelike politieke program om ʼn regering van nasionale eenheid te lei tussen politieke partye wat verbind word met die agenda van witmonopoliekapitaal. En hierdie politieke partye is die ANC, DA en EFF,” het Lwana gesê.

“Ons sien hier ʼn bespotting van partye, in ooreenstemming met ʼn agenda van radikale ekonomiese transformasie. Die resultate wat ons op hierdie bord sien, maak ʼn totale bespotting van al die werk wat ons gedoen het as sogenaamde kleiner partye.”

Die kleiner partye het gesê hulle is in gesprek met die uitvoerende hoof van die OVK, maar hulle sal die kieshof nader indien hulle nie tevrede is met die terugvoer wat hulle kry nie.

Die OVK het vroeër Donderdag aangekondig dat ʼn oudit van die stemproses gedoen sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kerrie Vlamskiet Briekstreep

.
.
Waar is julle bewyse ?..

Die reus laat gaan nie sommer die gans wat die goue eiers lê nie.

Hulle hou daai geldsakkie wat nooit leeg word nie vir altyd in die familie … buite-staanders is nie in die testament nie..
..
.
.

Chris du Preez

En dit is alles apartheid se skuld. Foeitog

Hennie

Hehe… en nou kla die groot boelies dat hulle geboelie word !!!

remondo

dis altyd iemand anders se skuld.

Christa

Moet ook sê, ek was net geregtig om nasionaal te stem, het my vormpie ingevul, maar is steeds 2 stembriewe in die hand gestop. Die beamptes is regtig onopgelei na my mening.