Kleiner sakeondernemings kou nou klippe

Antoinette van der Berg en haar span van haar koffiewinkel tydens ‘n Kersete. (Foto: Verskaf.)

Vir die meeste klein sakeondernemings is die gevolge van die Covid-19-pandemie ingrypend. Handelstoestande het vir 86% van die ondernemings versleg, wat aan ʼn onlangse peiling deelgeneem het. Van hierdie 86% het sowat 70% gesê dat die toestand ernstig versleg het.

Die peiling is deur Sakeliga onder die lede van sy sakegemeenskap gedoen en word op ’n weeklikse basis voortgesit om tred te hou met hoe die situasie ontwikkel. Sakeliga ontvang baie navrae oor wat nou as ’n noodsaaklike onderneming kan kwalifiseer, asook oor finansiële hulp.

Klein ondernemings in die knyptang

Antoinette van der Berg bedryf ʼn klein koffiewinkel met twee sjefs, twee kelnerinne en twee skoonmakers. “Ek kon my personeel aan die einde van Maart nog betaal, maar sal dit nie in April kan bekostig nie,” sê sy.

Selfs voor die amptelike inperking was daar ʼn afname in klandisie omdat mense bang was om uit te gaan. “Vanaf die sluitingsdatum moes ons ons yskaste leeg maak en my personeel het al die vars kos huis toe geneem – dit was op sigself ’n verlies. Ek is ook bekommerd dat mense ná die afsonderingstyd restaurante uit vrees sal vermy, maar ek kan dit nie met sekerheid sê nie.”

Van der Berg kon aan die einde van Maart reeds nie uitgawes soos munisipale rekeninge en verskaffers betaal nie. Daar was ook al agt pogings tot inbraak op haar perseel, wat uitgawes vir herstelwerk tot gevolg gehad het.

“Ons verloor tans alles – 100%. Ons het ’n lening teen ons huis aangegaan om die besigheid te koop, so ek kan nie eers aansoek doen vir sakeverligting nie. Ons het geen inkomste nie, so ek is regtig bekommerd oor al my vaste uitgawes,” sê sy.

Maryke Ciorovich het sedert die inperking nie meer ‘n vaste inkomste nie. (Foto: Verskaf.)

Net so het Maryke Ciorovich vandat die pandemie die wêreld getref het geen inkomste nie. Sy het aan die einde van 2019 haar eie reisagentskap in Alberton op die been gebring. Nadat sy vir jare by ʼn ander agentskap gewerk het, het sy besluit om haar eie ding te doen sodat sy meer vryheid kon hê om haar seun op skool te ondersteun. “Ek het vir regeringshulp en werkloosheidsversekering aansoek gedoen, maar nog geen reaksie gekry nie,” sê sy.

Celeste Engelbrecht beoog ook om vir finansiële hulp aansoek te doen. Haar dansskool op Middelburg bestaan uit vier werknemers en 150 studente. In Maart kon sy nog die rekeninge betaal, maar van die studente het intussen gekanselleer. “My man se randsteenonderneming kan ook nie tans werk doen nie, so aan die einde van die maand gaan ons kort kom met alles wat betaal moet word,” sê sy.

Morné Sher het van sy toerusting vir klante geleen sodat hulle steeds Crossfit by die huis kan beoefen. (Foto: Verskaf.)

Agt fiksheidsafrigters en nog twee voltydse werknemers wat by Morné Sher se Crossfit-ondernemings in Noordwes werk, is met die inperkingsmaatreëls hul hoofbron van inkomste kwyt. “Nadat die aanvanklike 21 dae afsonderingstydperk aangekondig is, het ons reeds 40% van ons lede verloor, maar met die verlenging voorsien ons dat ons nog ʼn groter ledeverlies sal sien,” sê Sher.

Drankwinkels loop ook onder die afsonderingsmaatreëls deur. Andries Beyers verwag om sowat R250 000 aan inkomste te verloor aan die einde van April by sy drankwinkel in Lyttelton. Hy betaal steeds lone, huur, versekering, water en elektrisiteit en kapitale uitgawes, sonder dat hy enige inkomste verdien. “Ek wil nie graag my werknemers in die steek laat nie, maar ek sal hulle waarskynlik nie in Mei kan betaal as ons nie die winkel se deure kan oopmaak nie,” sê hy.

Andries Beyers sê drankwinkels kan dieselfde voorsorgmaatreëls as supermarkte tref. (Foto: Verskaf.)

Beyers sê drankwinkels kan dieselfde voorsorgmaatreëls as supermarkte tref, deur net ʼn bepaalde aantal klante op ʼn slag in te laat, handreiniger by die ingang te plaas en aan bepaalde higiëniese vereistes binne die winkel te voldoen.

“Ek vermoed dat mense hul eie drank sal begin maak as hulle nie binnekort weer mag koop nie en dit sal erger gevolge inhou as wat die huidige gestruktureerde en gereguleerde stelsel van drankverspreiding inhou.”

Johann Barnard trek ook swaar vandat sy drankwinkel in Mpumalanga sy deure moes sluit – dit is sy hoofbron van inkomste. Daar was reeds ʼn inbraak by sy winkel met groot skade aan die deure se slotte en die vensters. “Ons het die meeste van die duur items toegesluit om dit so moeilik as moontlik vir diewe te maak indien hulle wel inkom. Ons maak maar daarop staat dat die sekuriteitsmaatskappy vinnig by die winkel sal uitkom as die alarm af gaan,” sê hy.

Johann Barnard sê hy bly egter positief te midde van die impak op sy sakeonderneming. (Foto: Verskaf.)

Positief en proaktief

Barnard bly egter positief. “Ons is in ʼn bevoorregte posisie om kos te hê vir die tydperk. Ons moet maar net mooi kyk hoe en waarop ons geld uitgee. Dit help nie om negatief te wees hieroor nie, ons kan maar bid en hoop vir die beste. Ten spyte van die finansiële verlies, glo ek gesondheid is belangriker. Ons werk gewoonlik redelik lang ure, so daar is nie baie tyd saam met die familie nie. Nou gebruik ek hierdie tyd om met hulle op te vang. Maak maar die beste van ʼn slegte saak.”

Om haar dansskool aan die gang te hou bied Engelbrecht tans klasse oor Zoom aan en neem dit op om vir die studente wat nie genoeg internetdata het nie, te stuur. Sy beplan ook om bykomende klasse in die Julie-skoolvakansie aan te bied. Verder as dit dink sy nog nie regtig nie. “Hierdie is net tydelik en ek hoop regtig alles sal herstel. As mense finansieel sukkel, is dit maklik om dansklasse te sny, maar ek help graag mense waar ek kan.”

Die meeste CrossFit-eienaars probeer om hul lede aktief te hou deur oefenprogramme aanlyn beskikbaar te stel. Sher het selfs van sy apparate aan bestaande lede geleen om tydens die inperkingstyd te kan oefen.

“Ons bly positief en sal proaktief bly om mense weer te lok om by ons aan te sluit wanneer die lockdown blues verby is, maar ons is ook realisties en besef mense is onseker oor hulle finansiële toekoms en dat hulle sekere uitgawes sal moet sny net om weer voor te kom. Ons hoop egter dat mense besef dat hulle gesondheid prioriteit moet wees in die tyd en dat hulle fiks en gesond bly sover hulle kan,” sê hy.

Celeste Engelbrecht saam met een van haar dansers. Sy gee nou aanlyn klasse. (Foto: Verskaf.)

Planne vir finansiële probleme

Die meeste kleinsakeondernemings klop by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) aan vir hulp en vra vir betalingsvakansies waar moontlik.

Ekonoom Dawie Roodt sê die WVF beskik tans oor ʼn surplus fondse, so dis wel moontlik om groot bedrae uit te betaal. Hy waarsku egter dat dit net op kort termyn verligting sal bring; die geld sal mettertyd op raak. Sy raad aan klein‑ en mediumgrootte ondernemings is om aansoek te doen vir hulp waar jy kan, baie mooi na jou kontantvloei te kyk, jou risiko’s te identifiseer en dit te bestuur.

Daniël du Plessis van Sakeliga glo dat daar nog heelwat maniere is waarop besighede die uitwerking van hierdie ingewikkelde omstandighede kan versag.

“Ondernemings wat nou onder geweldige finansiële druk gebuk gaan, veral met betrekking tot kontantvloei op kort tot mediumtermyn, kan hul finansiële verpligtinge herstruktureer, byvoorbeeld die betaling van lenings. Hulle kan ook met diensverskaffers en verhuurders vir toegewings onderhandel, en arbeid en besoldiging herstruktureer.”

Sakeliga het twee projekte van stapel gestuur wat daarop gemik is om noodsaaklike ondernemings te ondersteun. Noodsaaklik.co.za is ’n plek waar noodsaaklike maatskappye hulself kan registreer om dit vir verbruikers duidelik te maak dat hul wel vir sake oop is in hierdie tyd. Tweedens bied Sakeliga vir sy lede die geleentheid om ’n noodsaaklike dienste-sertifikaat te bekom, wat die regsposisie duidelik vir enige wetstoepassers uiteensit.

As deel van hierdie program het Sakeliga ook sowat R100 000 bewillig om, in samewerking met Kriek, Wassenaar en Venter Prokureurs, ondernemings in staat te stel om baie bekostigbaar regsadvies te bekom aangaande die status van hul onderneming.

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Fedup ·

It really is heart breaking to see small companies in such critical state. And to make things worse, employees will be losing their jobs. Asking for a payment holiday seem like a good idea, but eventually common sense tell me in reality it will only add interest, i think. I am not good with these matters. I really do wish everynone get some help from somewhere. Working hard and putting your heart and soul into a bussiness isn’t easy. Losing it can break people. Just don’t depend on the government. They honestly don’t care.

Jaco ·

is dit net wit besighede sonder BEE en regstellende aksie wat swaar trek, of ook our people se besighede?

Jannie van Niekerk ·

Mense wat stalletjies bedryf vir ‘n inkomste as gevolg van regstellende aksie (omdat hullke wit is) is ook nou hulle inkomste kwyt. En hulle word nie deur die Solidariteitsfond (oftewel die Rupert hulpfonds) gehelp nie. Ook nie deur die WVF nie.

Termiet ·

Hulle sal nie by jou koop nie want jy is nie swart bemagtig nie.

Rodger17 ·

Wat is die kanse vir n wit besigheid om finansiële hulp te kry?Zero persent!Dis hkm ek sê stig trusts en fondse spesifiek vir wittes wat geen hulp van regering sal ontvang nie

Alet ·

Bankrot is ons nou sonder inkomste… Een man besigheid wat vir 7 mense moet onderhou…

Pitbul ·

Ek sit presies in dieselfde bootjie… maar ons moet net sterk staan.

Willem ·

Die meeste besihede (Wes Kaap) word deur wittes bedryf. Ek sluit nie spazza winkels in nie. Van die eienaars het aansoek gedoen vir finansieele hulp en raai wat . BEE Dit is hartseer want van hul deure gaan toe bly.

Sonneblomkind ·

Terrible is nie n woord nie…..as jy onder op die food chain is dan is dit n donker wolk. Baie besighede betaal net tot 30 April nog hul werkers…daarna is daar nie n salaris nie en maatskappye kan dalk toemaak. UIF vir die maatskappye se mense…hoe lank gaan die UIF GELD HOU. KAN JY JOU HUIS HUUR DAARMEE BETAAL EN VIR N GESIN SORG..ANTWOORD KAN JY SELF BEANTWOORD

Ferdie ·

Ja nee. In my glorie in!!

Ek het 4 take away winkels in PÉ en omliggende dorpies, 38 staff en 5 Managers. Almal sit sonder werk na die Afsonderings tydberk. Die instanties soek boeke vir die laaste 3 tot 6 maande maar te danke aan Eskom lyk die state te swak om hulp te kry want ons het op die skedules geval waar ons krag meeste van die tyd op ons piek tye af was.

So daars net een manier en dit is in die hek vas. Fluit fluit my besigheid uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.