Kleinhoewe-aanval: Jong man oorleef tweede aanslag op lewe

Matthew Joubert voor die voorval. Foto: Verskaf

Matthew Joubert, die jong boer wat vroeër vandeesweek enkele dae voor sy 20ste verjaarsdag op ʼn kleinhoewe buite Pretoria in die bors geskiet is, het ʼn tweede aanslag op sy lewe oorleef.

Nicky Joubert (50), Matthew se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê hoewel Matthew se linkerarm lam en die koeël steeds in sy borskas is, is haar seun uit die hospitaal ontslaan. Dit gaan goed met hom.

Maroela Media het vroeër berig Matthew is Maandagaand op sy gesin se kleinhoewe buite Cullinan, oos van Pretoria, geskiet.

Matthew en sy ouer broer, Gideon (23), boer daar met inheemse bokke terwyl hul pa, Gideon (51), as konsultant vir ʼn IT-maatskappy werk.

Nicky het gesê die gesin het Maandagaand voor die kaggel gesit toe Matthew onthou het hy het vergeet om die duiwehok, sowat 30 m van die huis af, toe te maak.

“Matthew het uitgehardloop om die hok te gaan toemaak toe hy deur die aanvallers geskiet is wat weggekruip het. Hy het gevoel iets tref sy bors en het teruggehardloop na die huis toe. Hy het twee keer inmekaargesak voor hy in die huis was en gesê hy is geskiet. Daar was baie bloed. Dit het by die wond uitgespuit.”

Nicky het dadelik hulp ontbied terwyl Matthew se pa na hom omgesien het. “My man het twee mense buite die huis sien beweeg. Hy en Gideon het met ʼn vuurwapen uitgegaan en waarskuwingskote afgevuur om die aanvallers te verjaag. As hulle dit nie gedoen het nie, sou ons in ons huis aangeval gewees het.”

Matthew is na ʼn private hospitaal in die noorde van die stad gehaas en Dinsdag ontslaan. “Die dokter het gesê hulle kan nie die koeël uithaal nie. Dit sit in sy bors in die senuwees van sy ribbebene vas. As hulle dit uithaal, kan hy dalk die gebruik van sy linkerarm verloor. Ons gaan egter  ʼn tweede mening inwin om te kyk of die koeël wel verwyder kan word,” het Nicky gesê.

Nicky het gesê as ʼn mens na X-strale van die koeël kyk, wil dit voorkom of Matthew met ʼn kleinkaliber-vuurwapen geskiet is. “Die koeël het sy aorta met 3 mm gemis. As sy aorta getref was, dan was hy dood.”

Volgens Nicky het Matthew nog baie pyn en kan nie sy arm lig nie. “Maar hy is sterk en dit gaan goed met hom. Ons sal hom ondersteun.”

Nicky vertel sowat ʼn jaar gelede het aanvallers ook op Matthew geskiet. “Hy en sy broer het toevallig op ʼn groep mans afgekom wat by die grensheining was. Toe hulle by die mans wou hoor wat hulle daar soek, het een van hulle op Matthew geskiet, maar hom gelukkig nie getref nie. My seuns het die mans met ʼn haelgeweer verjaag,” het sy bygevoeg.

Die Cullinan-polisie het destyds ʼn saak van poging tot moord op Matthew ondersoek, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het aan Maroela Media bevestig die Cullinan-polisie ondersoek weereens ʼn saak van poging tot moord ná die jongste voorval. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. Die gesin span ook iemand se diens in om die verdagtes te help opspoor.

Nicky het alle rolspelers bedank wat hul gesin Maandagaand bygestaan het. “Die reaksie was oorweldigend en die gemeenskap se ondersteuning fantasties. Ons bure en lede van die gemeenskap, mense wat ons nie eens ken nie, het dadelik en ure lank na die aanvallers gesoek. Daar was selfs ʼn polisiehelikopter en die honde-eenheid in die soektog betrokke.”

Nicky het ook die polisie van Bronkhorstspruit en Cullinan, AfriForum en nooddienste bedank wat hulle bygestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Ella ·

Here Here ek bid dat die aanvalle op ons mense sal ophou. Ons wil net in vrede en veiligheid woon ( Ps 4)
Ek bid vir hierdie gesin hulle word sonder twyfel geteiken.

marco polo ·

Maroela, wat is n lae kaliber? Moet klein kaliber wees.

Tania Heyns ·

Dagsê Marco Polo

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Sarie ·

Dankie tog hy het nie ‘n wapen by hom gehad om homself te beskerm nie. Hy sou nou seker in die tronk gesit het vir poging tot moord as die aanvaller beseer was en vir moord as die aanvaller dood was.

John Samuel ·

Hoe sinoniem is daardie woorde tog nie met die suid afrikaanse polisie:

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie”.

Arme ek ·

In 2006 was ek in die been geskiet by ons huis, nadat ons agter oorval is, ons het eerste polisie gebel om uit te kom, toe jaag ons hospitaal toe met ander mense wat agterbly, by hospitaal, steke onvang, met n kruk huis toe gestuur, daar gekom en ons het nog so 10 minute gewag vir polisie.

Ek het in n gegoede buurt gebly daardie tyd, rant en dal

Johanna Botha ·

En die polisie doen niks …waneer word iemand gevangggggg !

Karen van Zyl ·

Johanna, ek is nou nie negetief of dit nie, maar as daar wel gevang word is hulle binne 5 minute uit daai poliesie kantoor. Daar is nie meer plek in die oorvol tronke nie. Nou dat ek dink, hoekom kan hulle nie nuwe tronke bou nie…….

Anoniem ·

Hoe tragies tweede aanval binne dae sterkte aan die familie deur die trauma tyd

Agie ·

Mens moet ook nie alles glo wat jy in die nuus lees nie. Partykeer wil mense net sensasie hê. Daar was SAPS van twee stasies, die honde eenheid en n helikopter, asook die plaaslike misdaad groep en verskeie bure wat gehelp soek het. Geen teken van n aanvaller nie.

Snowball ·

So Agie jy reken hy skiet homself ter wille van sensasie, want niemand kon die aanvaller aankeer nie? Of lieg Maroela Media oor die insident? Of dalk is dit ‘n gedokterde x-straal foto met die koeël in sy bors? Janee, êrens is ‘n skroef los…..net mooi dink waar!

Callie ·

Hoe ver wil ons nog ons koppe in sand druk soos volstruise. Het ons intilligensie vlakke gedaal. Ons word van n punt af uitgemoor, ons word ontwapen, ons grond gaan gevat word, ons medies gaan nie meer bestaan, nou dreig ramaphosa met aggresiewe bee wat ons ons werk gaan kos. Hemel weet, kom ons kry n dag en datum waarop wittes ook bymekaar gaan kom en soos die zulu nasie dit uitspel, tot hiertoe. Bid moet ons maar GOD gaan ons nie help as ons ruggraatloos daar wag vir HOM om ons te red nie. Skreeu ten hemele, asb, hou op net kommentaar lewer en staan op. Ek smeek.

Nikita ·

Dis goed die polisiehelikopter en honde-eenheid was ook daar saam al die ander wat bystand gebied het. Maar gaan hulle darem die volgende dag/dae aan met die saak al is leidrade min? Die polisie is nie meer wat dit was nie. Daarom sit hulle ook met n pophuis vol dossiere. Die volgende dag is daar net weer nog sake by wat hulle aandag verg. Die misdadigers & moordenaars raak die polisie baas. Gin wonder die meeste word nie meer gevang nie. Baie sterkte Matthew en familie.

Linda van Mosselbaai ·

Ons dank die Vader dat julle weereens beskem word & ons bid dat U in die harte sal werk van die wat sulke boosheid beplan.

Diefie ·

Ons glo saam dat die koeël wel uitgehaal sal word en hy sal die gebruik van sy arm behou.
Mag die Vader sy hand van beskerming oor julle hou.

Sarel ·

Daar sal dringend weer na art 49 van die Strafproses wet gekyk moet word, almal het die reg op lewe nie net misdadigers nie. Weens hierdie wet huiwer slagoffers om hulself te verdedig aangesien die slagoffer maklik opspoorbaar is. Indien jy n ander sy regte ontneem, kan jy as misdadiger jou dan op menseregte beroep? In n normale samelewing sou jy jou regte verbeur.
Verder het die SAPD die geneigdheid om van die slagoffer te verwag om bewyse te versamel en voor te le.
Ook word elke insident as n indivuduele voorval hanteer waar soortgelyke gevalle en soortgelyke instrumente gebruik is, of selfde omgewing plaas gevind het moet by mekaar gevoeg word en aan dieselfde speurder vir ondersoek gegee word . Dit sal kanse op sukses verhoog.

Sielsmoeg ·

Hemelse Vader, gryp in, genoeg is genoeg….. ons land is in anargie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.