Kleinhoewe-aanval: Koeël dalk môre uit bors verwyder

Matthew Joubert voor die voorval. Foto: Verskaf

Matthew Joubert, die 19-jarige boer wat Maandagaand op ʼn kleinhoewe buite Pretoria geskiet is, gaan Vrydag ʼn prosedure ondergaan om die koeël wat in sy borskas vassit te verwyder. Die koeël veroorsaak baie pyn en lamheid in sy linkerarm.

Sy ouers, Gideon (51) en Nicky Joubert (50), sal seker maak dat die koeël as bewysstuk by die polisie ingehandig word, in die hoop om sy aanvallers vas te trek.

Maroela Media het vroeër berig Matthew is Maandag omstreeks 19:00 op sy gesin se kleinhoewe buite Cullinan, oos van Pretoria, geskiet. Matthew en sy ouer broer, Gideon (23), boer daar met inheemse bokke. ʼn Onbekende aantal aanvallers het weggekruip en hom uit die bloute in die bors geskiet toe hy die duiwehok, sowat 30 m van die huis, gaan toemaak het. Hy het teruggehardloop na die huis waar hy voor sy ouers inmekaargesak het.

Matthew is na ʼn private hospitaal in die noorde van die stad gehaas en Dinsdag reeds ontslaan.

Volgens Nicky het ʼn dokter daar gesê hulle kan nie die koeël uithaal nie, want dit sit in sy bors in die senuwees van sy ribbebene vas. Matthew se ouers is glo ingelig as die dokters die koeël uithaal, kan hy dalk die gebruik van sy linkerarm verloor.

“Ons het hom Woensdag vir ʼn tweede mening na ons huisdokter, wat ʼn chirurg is, geneem. Matthew is verwys vir ʼn sonar om vas te stel hoe diep die koeël sit. Daar is bevind dit sit sowat 5 mm onder die vel en die projektiel is sowat 5,3 mm in deursnee. Die dokter gaan dit dus Vrydag in sy private praktyk onder lokale verdowing probeer verwyder,” het Nicky Donderdag aan Maroela Media gesê.

Volgens Nicky het Matthew steeds baie pyn en swel die wond nou op. “Ná môre se prosedure gaan hy hopelik weer soos sy ou self kan aangaan sodra die wond genees het. Ons het ook kenners van AfriForum se raad ingewin oor hoe om die koeël te verseël en by die polisie in te handig ten einde hulle in hul ondersoek by te staan.”

Dit wil voorkom of Matthew met ʼn kleinkaliber-vuurwapen geskiet is. Die koeël het sy aorta skrams met 3 mm gemis.

Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het aan Maroela Media bevestig die Cullinan-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord.

Maandag se voorval was die tweede aanslag aan die hand van aanvallers op Matthew se lewe. ʼn Jaar gelede het ʼn groep verdagtes op hom geskiet toe hy en sy broer die aanvallers by die grensheining van die kleinhoewe betrap het. Hulle het Matthew mis geskiet en laat spaander toe die broers hulle met ʼn haelgeweer verjaag het.

Niemand is nog in verband met die onderskeie voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

Baie sterkte vir almal. Ons glo dit sal alles goed verloop.

Essa ·

Sterkte Matthew en ouers. Ek bid vir voorspoed en sukses met die operasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.