Kleinhoewe-aanval: Ma (72), dogter (52) het aanvaller glo geken

Esmé en Priscilla Venter. Foto: Verskaf.

Die twee vroue wat Maandag op Wildebeeslaagte, ʼn kleinhoewe net buite Northam in Limpopo aangeval is, moet albei Woensdag operasies ondergaan.

Heinrich van Vuuren, ʼn familielid, het aan Maroela Media gesê sy vrou se ouma, Esmé Venter (72), en haar dogter (sy vrou se tannie), Priscilla Venter (52), woon saam op dié kleinhoewe.

Van Vuuren het gesê Priscilla is gestremd nadat ʼn gewas op ʼn jong ouderdom uit haar brein verwyder is en is aan die een kant van haar liggaam gedeeltelik verlam.

Hy vertel Esmé en Priscilla was die middag omstreeks 15:00 in die dorp om kruideniersware te koop en het na die kleinhoewe teruggekeer. “Hul tuinwerker, wat al vir so ʼn jaar en ʼn half op die plot werk, was in die tuin besig,” het van Vuuren vertel.

Esmé en Priscilla het die kruideniersware in die huis begin indra en Esmé het die motor op die gras getrek sodat dit gewas kon word.

Priscilla was in haar kamer en Esmé in die kombuis besig om kruideniersware uit die sakke te pak toe die werker haar van agter gryp en begin wurg. Haar dogter het haar angsgille gehoor en uit haar kamer gekom na die kombuis waarna die werker glo ʼn tuingraaf opgetel het en die ma en dogter daarmee aangerand het.

“Ons weet nie presies hoe nie, maar dit blyk dat tannie Priscilla in een stadium daarin kon slaag om die graaf by hom af te vat en hy het hulle toe met besems en moppe begin aanrand. Hy het hulle vir dood agtergelaat,” het Van Vuuren gesê.

Priscilla was bewusteloos en Esmé se enkel en arm is sleg gebreek. Die aanvaller het glo ook haar hande in ʼn stadium agter haar rug vasgebind.

Die man het op die vlug geslaan met Esmé se handsak en haar selfoon. “Ouma kon haar arms lossny met ʼn mes uit die laai. Ons het die bloedmerke in die laai gesien en gesien waar sy gesukkel het. Sy het toe, ons weet nie hoe nie, na die groot plothek geloop en die buurman wat oorkant die pad aan sy watertenk gewerk het, het haar hulpkrete gehoor.”

Hulp is vandaar deur die buurman oor die plaaslike noodradio ontbied.

Albei vroue is na die Mediclinic in Thabazimbi gehaas en Dinsdagoggend na die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg oorgeplaas waar hul in die hoësorgeenheid behandel word. Priscilla het ʼn skedelbreuk opgedoen.

“My tannie is kritiek, ouma is ʼn bietjie meer stabiel. Sy word vandag aan haar enkel geopereer. Sy kon met ons praat en vir ons sê dit was hý.”

Volgens Van Vuuren is die werker se huisie waarin hy op die erf gewoon het dolleeg en het hulle ook agtergekom dat hy die afgelope tyd glo stukke heining begin steel het. Spoorsnyers van die Heritage Protection Group (HPG)  kon sy spoor tot so ver as drie dorpe anderkant Sefikile sny en sou die soektog vanoggend weer hervat.

“Daar is nie woorde vir hierdie dinge nie … dit maak ʼn mens só kwaad.”

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het Woensdag aan Maroela Media bevestig dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

toy ·

Mense moet self werk en as daar ouer mense is, kan ‘n familielid help. Die hand wat kos gee word gebyt.

Rupert Ashford ·

Praat jy toy. Dit sal ook maak dat mense meer gekonsentreerd sal bly wat (dalk) geografiese meerderhede sal teweegbring soos Orania. Maar ek sal dit glo as ek dit sien – ons mense het deur die (kunsmatige) voorspoed van die verlede so selfgesentreerd geraak dat die laaste ding wat hulle sal doen sal wees om na hulle eie mense (veral die oues) om te sien.

Marinda ·

Sterkte vir julle.
Dis vreeslik dat mens niemand meer jan vertrou nie.

corne ·

watter goeie voorbeeld van sa die boonste berig word 2 aangekla van aanranding esv omdat hulle n moondlike krimeneel probeer aresteer hier word 2 mense aangeval op n plaas/plot en wat gaan hieraan gedoen word net mooi niks

belinda ·

BAIE STERKTE AAN DIE 2 DAMES, DIT IS HOEKOM ONS SELF ONS HUISE SKOON MAAK EN IN DIE TUINE WERK, MENS KAN NIEMAND VERTROU NIE MAAK NIE SAAK WAT DIE RAS IS NIE, SE OOK MAAR NET.

Theunis Eloff ·

Almal het komentaar oor die moord statestike. Kan ons weet hoeveel van die moorde word deur Imigrante gepleeg.
My VOORSTEL is kry die weermag om die grense te be waak. Sodat die voedings Bron van die krimenele, gestop kan word. Dan kan die poliesie gebruik word om die poliesie werk binne SA te doen. Want so vinnig hulle gevang en gedeporteer word kom hulle weer oor die greens terug. Dit is ń boxe king loop. Bring asb die komentaar onder die aandag van iemand wat iets daar aan kan doen.
Dankie. Theunis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.