Kleinhoewe-aanval: ‘Ons herken hulle nie eens nie’

Esmé en Priscilla Venter. Foto: Verskaf.

“As sy nie so hard baklei het nie, was ouma nie vandag hier nie.”

Só het Angelique Van Vuuren, kleindogter van Esmé Venter (72) wat Maandagmiddag saam met haar dogter Priscilla Venter (52) op ʼn kleinhoewe net buite Northam in Limpopo aangeval is, Vrydag oor haar tannie gesê.

Van Vuuren het bevestig ma en dogter word steeds albei in die waakeenheid van die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg behandel. “Hulle was vandat hulle hier aangekom het [Dinsdagoggend] nog elke dag geboek vir operasies, maar hulle kon nog nie een dag gaan nie,” het Van Vuuren gesê.

Priscilla het tydens die aanval ʼn skedelbreuk opgedoen en Esmé se arms en haar enkel is gebreek. Esmé en Priscilla se wangbene is ook albei gebreek. “Ons herken hulle nie eens nie, hulle is so opgeswel en blou en hulle oë is vol bloed.”

Dokters wil glo eers kyk of die swelling en vog op Priscilla se brein vanself sal sak voor hul opereer. Volgens Van Vuuren kan Priscilla met tye sinvol met hulle kommunikeer en ander tye weet sy nie presies waar sy is of wat om haar aangaan nie.

“Ouma [Esmé] kan wel met ons praat en is 100% bewus. Dit net haar hartklop wat so verskriklik laag is. Hulle kán haar nie nou opereer nie, sy sal doodgaan onder narkose. Daar is ook ʼn probleem met haar suikervlak.”

Van Vuuren sê ondanks hul erge beserings is ma en dogter albei sterk vroue en is die familie vol hoop dat hulle ten volle sal herstel. “Die feit dat hulle lewe maak dit makliker.” Sy het Esmé se toestand as kritiek en Priscilla se toestand as stabiel maar nie buite gevaar nie bestempel.

Maroela Media het vroeër berig Priscilla is gestremd nadat ʼn gewas op ʼn jong ouderdom uit haar brein verwyder is en is aan die een kant van haar liggaam gedeeltelik verlam.

Heinrich, Angelique se man, het vertel Esmé en Priscilla was die middag omstreeks 15:00 in die dorp om kruideniersware te koop en het na die kleinhoewe teruggekeer. “Hul tuinwerker, wat al vir so ʼn jaar en ʼn half op die plot werk, was in die tuin besig,” het van Vuuren vertel.

Hulle het die kruideniersware in die huis begin indra en Esmé het die motor op die gras getrek sodat dit gewas kon word.

Priscilla was in haar kamer en Esmé in die kombuis besig om kruideniersware uit die sakke te pak toe die werker haar van agter gryp en begin wurg. Haar dogter het haar angsgille gehoor en uit haar kamer gekom na die kombuis, waarna die werker glo ʼn tuingraaf opgetel het en die ma en dogter daarmee aangerand het.

Esmé het die werker as hul aanvaller identifiseer. Angelique het Vrydag aan Maroela Media gesê die familie het Donderdag die huis gaan skoonmaak.

“My tannie het my ouma verwoed beskerm, dis hoekom sy meeste van die houe gevat het. Ons vermoed daar was in ʼn stadium ʼn mes betrokke of dat sy hom op ʼn manier seergemaak het en hy daarom gevlug het. Daar was heelwat bloed by die agterdeur; hy het die deur gesluit en die sleutel gevat. Óf hy het hulle in ʼn stadium buite gehad óf daardie is sy eie bloed.”

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het Vrydag bevestig niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die aanvaller is geïdentifiseer ……………. Wys jou net hoe totaal onbevoeg 98% van ons SAPD-lede is ……………. Maar was dit nou ‘n WIT man wat twee SWART vroue aangeval het, was hy lankál in die tronk, sonder borgtog.

Veronica ·

Ek stem saam met jou Nettie! Swak polisie werk of gebrek aan wil om die krimineel te soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.