Kleinhoewe-aanval: Pa was ʼn ‘held’

Werner de Bruin en sy lewensmaat, Charlotte Freeman.

ʼn Pa van Pretoria is as ʼn held bestempel nadat hy Donderdag in die vroeë oggendure verbete probeer het om gewapende aanvallers van sy gesin weg te hou.

Werner de Bruin (33) is in ʼn woonstelop ʼn kleinhoewe in Boschkop, in die ooste van Pretoria, doodgeskiet toe ʼn aanvaller die woonstel se voordeur probeer oopbreek het. Sy lewensmaat, Charlotte Freeman (46), hul driejarige seuntjie en Freeman se agtjarige kleinseun het die aanval oorleef, maar is geweldig getraumatiseer.

“Dit is ʼn verskriklike ding, maar dit is wat dit is en ʼn mens moet probeer aangaan,” het Michael Joubert, Freeman se broer, gesê.

Die gesin woon in ʼn huis op die kleinhoewe en werk albei vir die veearts dr. Ockert Botha, aan wie die eiendom behoort. De Bruin het vermoedelik laataand nog televisie gekyk en gaan ondersoek instel toe hy omstreeks 01:30 die geraas by die voordeur hoor. Freeman en die kinders het reeds gaan slaap.

De Bruin het afgekom op die man wat die deur probeer oopbreek, terwyl Freeman intussen ook wakker geword het en gegil het dat hy die veiligheidsdeur moet probeer toekry, het Joubert gesê.

“Daar was ʼn struweling tussen Werner en een van hulle en Werner het hom probeer terugskop om hom uit die woonstel te hou.”

Die kinders het intussen ook wakker geword en histeries begin huil terwyl De Bruin en Freeman vergeefs om hulp geskreeu het. Die hoofhuis op die kleinhoewe is sowat 80 m van die plek waar hulle woon, maar niemand was in daardie stadium tuis nie.

Freeman het kopgehou en ʼn buurman, ʼn beampte by die plaaslike polisiestasie, gebel om te kom help.

“Alles het in ʼn kwessie van ʼn paar minute gebeur. Terwyl Werner die hek probeer toehou het, het ʼn tweede persoon hom deur die venster geskiet. Ek dink nie hy het eens besef daar was ʼn tweede en ʼn derde persoon buite nie.”

Die gewonde De Bruin het tot in die kinders se kamer gekom, waar hy inmekaargesak en enkele minute later gesterf het. Die ouer seuntjie het vermoedelik besef wat aangaan en het op die driejarige gaan lê in ʼn poging om hom veilig te hou.

Die drie aanvallers is in die huis in, waar Freeman by hulle gepleit het om te vat wat hulle wil. Een van die aanvallers het ook gedreig om die gesin se twee blaffende honde met ʼn stuk gereedskap te slaan.

Werner de Bruin en Charlotte Freeman.

“Ek dink Charlotte het besef Werner is geskiet, maar dalk nie dat die heeltemal so erg was nie,” het Joubert gesê.

Die polisiebeampte-buurman wat Freeman ontbied het, het intussen aangery gekom, en die rowers het met net twee selfone laat spaander. Hulle het oënskynlik geen belangstelling in die beursies of skootrekenaar, of ʼn motorfiets wat buite die huis gestaan het, gehad nie.

“As familie wil ons graag vir Van [die polisiebeampte] bedank. Ek is oortuig hy het ten minste Charlotte en die kinders se lewe met sy vinnige optrede gered,” het Joubert gesê.

Joubert het gesê sy suster het hom sowat 20 minute ná die voorval gebel.

“Sy was histeries en het geskreeu ‘Michael, help my, bel iemand om ons te kom help. Werner is geskiet’.

“Ek sit 1 800 km verder [in die Wes-Kaap], ek hoor die kinders huil en ek weet nie wat aangaan nie. En toe sny die selfoon uit. Dit was die ergste 20 sekondes van my lewe.”

Joubert het teruggebel en sy suster het verduidelik dat hulle aangeval is. Teen hierdie tyd het hulp minstens al opgedaag, maar De Bruin het gesterf voordat paramedici eens sy lewe kon probeer red.

“Werner was ʼn wonderlike pa en hy was ʼn baie goeie vriend vir my suster. Ons hele familie sal hom ewig dankbaar wees dat hy sy lewe gegee het om die aanvallers te probeer weghou.”

Freeman en De Bruin is die afgelope sewe jaar al in ʼn verhouding.

“Hulle het ʼn baie spesiale verhouding gehad en hy het alles vir haar gedoen. Nou is hy net weg en ʼn mens probeer sin maak van alles. My suster sit nou met hierdie absolute hartseer. Sy moet begrafnisreëlings tref, hulle seuntjie moet versorg word…

“Die twee kinders bekommer ons die meeste. Die driejarige besef nou dat sy pa nie daar is nie. Hy en sy pa was geweldig na aan mekaar en het alles saam gedoen. Hy besef baie goed iets is verkeerd. Die agtjarige is okei, maar hy is bewerig en hy mis vir Werner.”

Freeman bly intussen by haar dogter. Die kinders het voorlopige berading ontvang en die burgerregtegroep AfriForum het die huis na die voorval gaan opruim.

“Ek dink nie sy sal ooit weer wil teruggaan na daardie huis toe nie,” het Joubert gesê.

“Dit is verskriklik. ʼn Mens dink hierdie goed sal nie met jou gebeur nie. Dit is afgryslik.”

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie is op soek na vier aanvallers. Hulle is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Werner ·

As jy blank is en jy is ongewapen in hierdie land het jy moeilikheid

Tino ·

En dit is hoekom mens eers skiet en dan vrae vra.

Hierdie lafvaarts moet mos altyd 3 of meer wees.

Adam Adriaan ·

jammer om dit weereens te hoor. Les om te leer .Wees paraat en altyd wakker. Sorg dat jy jou lood inspuiting masien met naalde altyd gereed het, om die aanvaller te ent.

Blikkantien ·

So hartseer. Sterkte aan die vriende en familie. Dit is nie hoe ons veronderstel is om te leef nie.

Cherokee ·

Christel Cornelissen sê: …die ‘rowers’ het met 2 selfone laat spaander.
Sy bestempel dus moordenaars as rowers.
Geen belangstelling in beursies, skootrekenaar of motorfiets nie.
Die selfone was dus ‘n bonus want hulle was nie ‘rowers’ soos genoem, maar moordenaars op ‘n sending. Gestuur om hul bose dade uit te voer.

Persheks Adri ·

Dis hoekom ons wapens dra, maar groot hoed wil ons ontwapen!!!

Sterkte aan die familie in die moeilike tyd mag God julle dra

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.