Kleinkassie-akteur sterf

Adrian Alper as Gino in ‘Suidooster’. (Foto: kykNET)

Medelye het sedert Dinsdagaand vanuit die plaaslike televisiebedryf ingestroom nadat nuus oor die akteur, skrywer, stemkunstenaar en regisseur Adrian Alper se dood op sosiale media versprei is.

Die publikasie Actor Spaces was van die eerstes om dié nuus op X (voorheen Twitter) te deel.

Alper was bekend vir sy rolle in onder andere die TV-reeks Streaks van 1995, asook Generations, 7de Laan, Egoli, Plek van die Vleisvreters, Terug na Egipte en Suidooster.

Besonderhede oor die oorsaak en tyd van sy dood is nog nie bekend nie. Volgens die agtenskap Artists One Actors Management was hy 51 jaar oud.

“Ek het Adrian nie baie goed geken nie, maar toe ek in 1995 uit Bloemfontein trek na Gauteng met die hoop om in die vermaaklikheidsbedryf te werk, was hy die eerste persoon wat ek ontmoet het,” het Gizela Sharim, hoof van publisiteit by Starburst Promotions, aan Maroela Media vertel.

“Hy het my so mooi gehelp en touwys gemaak. Minder as twee jaar later het ek by Egoli begin werk, en ek werk vandag steeds in die bedryf. Ek sal altyd dankbaar wees vir Adrian se hulp,” voeg sy by.

Wilmer Müller van kykNET, wat saam met Alper gewerk het, het ook sy medelye met Maroela Media gedeel: “Dit is vir Suidooster se produksiespan en rolverdeling hartseer om van Adrian se afsterwe te verneem. Hy het vir baie mense vreugde in hul lewens gebring, en ons gedagtes is by sy geliefdes in hierdie tyd van verlies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kroo ·

Jammer — dink aan sy familie — het sy rolle altyd baie realisties vertolk !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.