Kleinkinders vermoor oupa en ouma

Argieffoto

Twee mans is Donderdag in die hooggeregshof in Bloemfontein skuldig bevind aan twee aanklagtes van moord, roof met verswarende omstandighede en brandstigting. Hulle het verlede jaar hul grootouers vermoor en daarna hul huis aan die brand gesteek.

Kabelo Sebotso (22) is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis vir twee aanklagtes van moord, 15 jaar vir roof en vyf jaar vir brandstigting. Drie van die vier vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Die ander kleinseun, Thokozane Gazide (31), is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir twee aanklagtes van moord, 15 jaar vir roof en vyf jaar vir brandstigting.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie is op 6 April 2019 ontbied na ʼn huis wat in vlamme gehul was in Thaba ’Nchu, digby Bloemfontein. Nadat die brand geblus is, is die liggame van twee bejaardes, Mantwa Sebotsa (72) en Lethakong Sebotsa (79), in die huis gevind. Hulle was getroud.

Die voorlopige polisie-ondersoek het aan die lig gebring dat die bejaardes eers aangerand is en dat petrol gebruik is om die huis aan die brand te steek.

Makhele sê die nadoodse ondersoek het gewys die bejaarde vrou is met ʼn knopkierie aangerand en die bejaarde man is met ʼn mes gesteek.

“Tydens die ondersoek is bevind dat die bejaarde egpaar reeds ’n beskermingsbevel teen hul kleinseuns Kabelo en Thokozane, gehad het. Een van die voorwaardes was dat hulle nie naby hul grootouers se huis mag kom nie. Thokozane is egter langs die brandende huis gewaar,” sê Makhele.

Makhele sê die kleinseuns het hul grootouers op 4 April vermoor en die huis twee dae later aan die brand gesteek. Hulle het ʼn televisie, radio, yskas en komberse gesteel. Hulle het die yskas by ʼn plaaslike pandjieswinkel verkwansel, voordat hulle met ʼn minibustaxi na Gauteng gevlug het.

Die kleinseuns is onderskeidelik op 29 Mei en 11 Julie verlede jaar deur die polisie in Thokoza in Johannesburg opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Hierdie walglike dade is egter nie n uitsondering nie. Daar word gereeld oor soortgelyke misdade berig dat selfs oumas verkrag word deur familielede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.