Kleinmond-man se lyk in see gevind: ‘Hy was ʼn rolmodel en geesgenoot’

Sarel en Joan Marais. Foto: Verskaf

Sarel en Joan Marais. Foto: Verskaf

Die man wie se liggaam Saterdag uit die see by Kleinmond gehaal is nadat hy vroeër die oggend met sy hond gaan stap het, was ʼn fikse en ervare stapper wat gereeld gevorderde staptogte onderneem het.

Maroela Media het vroeër berig dat Sarel Marais (69) se vrou onraad gemerk het toe hy nie teruggekeer het nadat hy die oggend oudergewoonte met sy seun se hond op die strand gaan stap en in die see geswem het nie. ʼn Soektog is van stapel gestuur en Sarel se liggaam is omstreeks 13:45 deur reddingswerkers in die see gevind waar dit in vlak water gedryf het.

Daan Marais, Sarel se broer, het aan Maroela Media gesê ʼn nadoodse ondersoek het intussen aangedui dat Sarel verdrink het. “Ons vermoed dat hy ʼn onverwagse floute of iets soortgelyks ervaar het, want hy was ʼn buitengewoon fikse en lewenslustige mens,” het Daan gesê. “Die hond, Thembi, is dwalend op die strand gevind.”

Sarel Marais en sy seun, Stephan, tydens 'n staptog in Patagonië. Foto: Verskaf

Sarel Marais en sy seun, Stephan, tydens ‘n staptog in Patagonië. Foto: Verskaf

Volgens Daan het Sarel, wat voorheen as lugvaartkundige ingenieur by Kentron (Denel Dynamics) gewerk het, die afgelope tien jaar saam met sy vrou, Joan, in Kleinmond gewoon. “Hy het amptelik in 2006 afgetree, maar nog tot in sy laaste lewensjaar oorsee kontrakwerk verrig te danke aan sy spesialis-vakkundigheid wat onbemande vliegtuie betref,” het Daan gesê.

“Sarel se liefde vir stap by die see en in die berge rondom Kleinmond het hom dikwels lang tye weggeneem, met die gevolg dat Joan Saterdag eers heelwat later onraad begin merk en alarm gemaak het. Sarel het verlede jaar nog ʼn uitgebreide staptog met sy seun, Stephan, in Patagonië onderneem.”

Volgens Daan het sy broer vir die mense om hom geleef. Hy beskryf hom as ʼn mentor, leier en vriend. “Ek weet nie van ʼn enkele vyand wat hy gemaak het nie, al het hy in so ʼn stresvolle omgewing gewerk. Sy kleindogters kon hom moeiteloos om die pinkie draai,” het hy gesê.

“Vir my was hy ʼn rolmodel, ʼn wonderlike vriend en die afgelope jare ʼn geesgenoot. Daar is vandag ʼn helse gat in my hart.”

Sarel word oorleef deur sy vrou, ʼn dogter wat in die VSA woon en ʼn seun in Somerset-Wes, sowel as twee broers, twee susters, ʼn skoonseun, skoondogter en twee kleindogters. Daar word die naweek ʼn private afskeidsgeleentheid in Kleinmond gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Karma ·

:-((( Hartseer, hartseer. sterkte aan die Oom se familie – ek is so bly woewe-kind is darem veilig gevind. Die Marais familie kan hulle troos daaraan dat hul Pappa gesterf het terwyl hy gedoen het waarvan hy gehou het.

Penellope Jones ·

Ai, dis so tragies! Baie sterkte aan sy geliefdes – ook aan Thembi.

Strandloper ·

Daardie klippe is baie glad. Sommiges so glad soos seep. Maklik om te gly, jou bewusteloos te val en dan te verdrink. My simpatie aan sy geliefdes.

Wessel ·

Jammer om te hoor! Hy was ‘n spesiale mens en kollega. Sterkte vir die familie.

John ·

Dis hartseer. Mense moet nie alleen stap nie, al is dit in ‘n veilige omgewing. Ongelukke gebeur gou en dan is hulp ver.

Daan Marais ·

‘n Mens kan ook nie dat vrees jou lewe oorheers nie. Om vir Sarel te sê hy moenie so alleen gaan stap nie, sou wees soos om vir hom te vra om op te hou asemhaal. Hy het die risiko’s begryp en aanvaar. Dit is ook so dat mens jou litte moes roer om by hom te te bly, so daar was nie baie wat regtig kon saamstap nie.

Hannelie ·

Ai dis so verskriklik hartseer. Baie sterkte aan Daan en sy familie, mag jul vertroosting vind in ons God se Arms.

Dirk ·

Sarel was ‘n wonderlike kollega en mentor! Hierdie tyding is so onverwags, maar ons dink aan jou Joan, kinders en familie. Mag ons Hemelse Vader jul vertroos en die seer verlig in die dae wat volg.

Willie van Biljon ·

Baie hartseer nuus vir ons almal . . . . . Sarel was letterlik vir ‘n paar dekades die staatmaker ingenieur en tegniese leier van die Onbemande Vliegtuig Span van Kentron. Dit was ‘n wonderlike voorreg om ‘n groot deel van my loopbaan met hom te kon deel. Baie sterkte aan jou Joan en aan die kinders gedurende hierdie moeilike tyd. Groetnis, Willie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.