Kleinmond rustig ná betogings

Betogings in Kleinmond in die Wes-Kaap (September 2017). Foto: Twitter via @diverene

Ná dae se gewelddadige betogings in Kleinmond in die Wes-Kaap was die situasie in die kusdorp Donderdagoggend weer rustig en is paaie wat voorheen gesluit was weer oopgestel.

Die Overstrand-munisipaliteit het op sy sosialemediaplatforms gesê die R44 in Kleinmond is in albei rigtings weer oopgestel, terwyl die riool- en vullisverwyderingsdienste van vandag af weer hervat sal word. Laerskool Kleinmond, wat vir twee agtereenvolgende dae gesluit was, het ook vanoggend weer heropen.

Intussen het die polisie bevestig vyf mense is Woensdag te midde van die betogings in hegtenis geneem. Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is ontplooi nadat betogers ʼn protesoptog vanaf Poppedorp na die R44-hoofweg begin hou het. “Die betogers het nie aansoek gedoen vir ʼn wettige optog nie en nadat hulle gevra is om uiteen te gaan, het hulle gewelddadig geraak teenoor die polisie,” het Van Wyk gesê.

Hy het gesê die geweld het geëskaleer en die polisie moes uiteindelik rubberkoeëls op die betogers afvuur om die situasie onder beheer te bring. Die geweld het tot 15:00 nog voortgewoed. Vier mense is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem.

“ʼn Lid van die gemeenskap het in 13de Laan skote in die lug afgevuur. ʼn Saak van afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare ruimte is aanhangig gemaak en een persoon is in hegtenis geneem,” het Van Wyk gesê.

ʼn Munisipale voertuig is ook aan die brand gesteek terwyl ʼn joernalis deur betogers aangerand is. ʼn Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is in dié verband aanhangig gemaak.

Betogings in Kleinmond in die Wes-Kaap (September 2017). Foto: Twitter via @diverene

Rudolph Smith, burgemeester van Overstrand, het vroeër aan Maroela Media gesê die betoging spruit uit die inwoners se ontevredenheid oor ʼn tender wat toegeken is vir die skoonmaak van strate in Kleinmond. Die tender is aan ʼn man van Zwelihle (tussen Sandbaai en Hermanus) toegeken en die inwoners is ontevrede omdat die tender nie aan ʼn plaaslike inwoner van Kleinmond gegaan het nie.

Van Wyk het Woensdag gesê dit het egter intussen aan die lig gekom die betogers eis ʼn begraafplaas, skool, gratis toegang tot die hawe en grond vir behuising.

ʼn Vergadering is Woensdagmiddag tussen Smith, Chris Nissen van die Menseregtekommissie, brig. Donovan Heilbron, bevelvoerder van die Overberg-distrik, en verteenwoordigers van die gemeenskap gehou waartydens daar ooreengekom is dat die gewelddadige protesaksie voorlopig gestaak sal word. Die gemeenskap sal vanoggend met Dan Plato, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, vergader om te probeer om ʼn oplossing vir die gemeenskap se besware te vind.

Van Wyk het gesê polisiebeamptes en ander wetstoepassers is steeds op die toneel om die situasie te monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pierre Ferreira ·

Ek het gehoor dat daar in Betty’s bay ook onluste is.
Die mense stuur boodskappe sonder om datums by te sit, dan weet ons nie of dit vandag gebeur of miskien laas jaar nie. Sit datums in julle (voice en geskrewe) boodskappe asb!
Weet iemand wat is die situasie tans daar in Betty’s bay?

AP ·

Pragtige Kusdorp ook nou n probleem , laat my dink alle plekke word nou beset en dan polities geswaai , baie jammer ons land is in so gemors .. sefde as Knysna , Brenton , Buffelsbaai , Sedgefield noem maar op .. opstokery is al lankal n groot probleem.

HPV ·

Koop ‘n hoëdruk brandspuit, die tipe wat boere agter op hul bakkies laai om veldbrande te veg en gebruik dit as ‘n waterkanon in die geval van onluste. Mens kan jou swembad of ‘n drom water vir watertoevoer gebruik. Sou wapens ter sprake raak, gebruik ‘n goeie wind of verfbal geweer. Gebruik vuurwapens slegs as ‘n absolute laaste uitweg as jy of jou gesin se lewens bedreig word.

Staal Burger ·

HPV is agter die tyd….weet seker nog nie daars ‘n droogte in die Wes-Kaap nie….nou wil hy nog water mors

Lee Randburg ·

Ek sal ook graag n stukkie grond vir behuising wil he in die Kleinmond area? Waar begin ek betoog?

Alida ·

Mens wonder noudat dit stil is in Kleinmond wat hulle nou gekry daarvan. NIKS !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.