Kleinsake: Kritiek op wysigingswetsontwerp

(Argieffoto: pixabay)

Die organisasie Sakeliga het sy kommer uitgespreek oor die Nasionale Wysigingswetsontwerp op Kleinsake wat die departement van kleinsakeontwikkeling vroeër vandeesmaand aangekondig het.

Die wysiging is hoofsaaklik daarop gemik om die ministeriële raadgewende liggaam te vervang met ’n ombuddiens en om die minister van kleinsakeontwikkeling te bemagtig om sekere handelspraktyke as “onregverdig” teenoor kleinsake te verklaar.

Sakeliga meen dat die verwydering van die raadgewende liggaam, wat die minister kon raad gee rakende ekonomiese en sosiale beleid wat die regulatoriese omgewing vir kleinsake in Suid-Afrika meer bevorderlik kan maak, ʼn fout is.

“Die raadgewende liggaam het in 2003 die vorige kleinsakeraad vervang, wat vir direkte kleinsake-verteenwoordiging in die departement voorsiening gemaak het. Die huidige voorstel om alle oorblywende direkte kleinsake-inset op regeringsbeleid in dié departement af te skaf, is dus betreurenswaardig,” het Sakeliga in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie meen ook die wetsontwerp se toevoeging van die begrip van “onregverdige handelspraktyke”, waarin groter sakeondernemings teenoor kleinsake kan verkeer, ook ondeurdag is.

“Die nuwe ombuddiens wat die raadgewende liggaam vervang, gaan verantwoordelik wees daarvoor om klagtes van kleinsake teenoor groter sake aan te hoor oor laasgenoemde se onbillike praktyke. Hoewel dit nie problematies is dat kleinsake kan kla oor die nie-nakoming van kontraktuele ooreenkomste nie, is die omvang van wat die minister as ‘onregverdig’ kan verklaar, onbeperk.

“Met die regering se onlangse optrede kan lede van die publiek dus die moontlikheid verwag dat die heffing van markverwante pryse vir ʼn verskaffer se goedere as ‘onregverdig’ verklaar kan word. Dit kan die markmeganisme met skadelike gevolge verswak.”

Volgens die organisasie is die belangrikste aspek van die wetsontwerp egter dat enige verwysing na die feit dat regeringsbeleid nadelig tot die sakeomgewing kan bydra, uit die Nasionale Kleinsakewet verwyder word.

Volgens Martin van Staden, Sakeliga-regsgenoot, blyk dit duidelik dat die regering deur dié wetsontwerp enige vorige erkenning terugtrek dat sy eie beleid en besluite negatief tot die kleinsakeomgewing bydra, en eerder beweer dat dit die gedrag van uitbuitende groot maatskappye is wat die sukses van klein ondernemings belemmer.

“Maar dit is juis regeringsgedrag wat die kleinsakeman in Suid-Afrika onderdruk. Elke jaarlikse indeks op ekonomiese vryheid of die gemaklikheid van sake bedryf, bevestig dat die plaaslike regulatoriese omgewing te outoritêr is. Dit ontmoedig die vestiging van nuwe en die groei van huidige ondernemings,” sê Van Staden.

Sakeliga stel voor dat ʼn nuwe Nasionale Kleinsakewet in plaas van dié wysigingswet aangeneem moet word. Volgens die organisasie moet die wet onder meer voorsiening maak vir die vrystelling van kleinsakeondernemings – 50  of minder werknemers – van die land se mees ekonomies indringende wetgewing, regulasies en beleidsingrypings.

Dus sal sektorale of nasionale minimum lone hierby ingesluit word, asook bemagtigingswetgewing wat diskrimineer op grond van ras of geslag.

“So ’n vrystelling moet algemeen wees en na kategorieë van ingrypings verwys, eerder as spesifieke ingrypings, waarvan daar te veel is om in die wet te noem.”

Die organisasie stel ook voor dat die wet die bestuur van die departement van kleinsakeontwikkeling opknap.

“Die missie van hierdie departement moet hersien word en voorts daarop fokus om die reguleringsomgewing vir klein ondernemings te liberaliseer. Die minister van kleinsakeontwikkeling moet eers kan toon dat hy of sy ʼn deeglike kennis van die behoeftes en unieke vereistes van kleinsakeondernemings het. Suid-Afrika se kleinsakesektor self moet ʼn materiële inset hê in wie minister gaan word. Dan moet die minister ook die vetomag kry oor enige nuwe wette, regulasies, of beleidstellings wat kleinsake sal belemmer.

“Voor Suid-Afrika kan begin genees ná die rampspoedige regeringsreaksie op Covid-19, sal die regulatoriese omgewing baie billiker en voldoening makliker gemaak moet word. Die huidige Nasionale Wysigingswetsontwerp op Kleinsake kan self daartoe bydra indien Sakeliga se voorstelle aanvaar word.”

Die tydperk om kommentaar te lewer verstryk op 11 Februarie 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ou bees

Is ek dom of beweeg dit al hoe meer na n komunistiese manier van doen?