
Jay Peters (25) word van moord, opsetlike saakbeskadiging en regsverydeling aangekla. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy ouma, Susanna Kilmister (68), verlede week op ʼn kleinhoewe vermoor het, het Donderdag vir die tweede keer vlugtig in die landdroshof in Mbombela, Mpumalanga, verskyn.
Die 25-jarige Jay (JJ) Peters se borgtogaansoek sou Donderdag aangehoor word nadat hy aanvanklik gesê het hy gaan homself verdedig. Hy het tydens sy verskyning egter aangedui dat hy wél regshulp wil inwin, waarna die saak tot 16 Maart uitgestel is. Hy sal intussen in aanhouding bly.
Peters word van moord, opsetlike saakbeskadiging en regsverydeling aangekla.
Maroela Media het vroeër berig dat Peters en Kilmister die dag van haar dood ʼn hewige stryery gehad het. Dit is glo na aanleiding van dié woordewisseling dat Kilmister aangerand en dood is.
Peters het by sy ouma gewoon en is dieselfde dag nog op die toneel in hegtenis geneem.
Sy pa, ʼn sakeman in die omgewing, het deur die familie se woordvoerder, Albert Gryvenstein, aan Maroela Media gesê dat die familie kwaad, hartseer en baie teleurgesteld is.
“Ons is Christene, so ek weet ons sal hom mettertyd vergewe. Die tyd is net nog nie reg nie,” het Peters se pa gesê. Sy naam word op versoek nie geplaas nie. Hy het ook nie self die hofverrigtinge bygewoon nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
27 Kommentare
Weet nie WAT met party mense aangaan nie, moor links en regs vir wat? Omdat jy kan en meeste wegkom daarmee in SA
Ek hoop hy vrot in die tronk.
Waaroor sou hy en sy ouma so verskil het dat dit op haar moord uitgeloop het? Dalk oor dwelms?
Agge nee, hoe tragies is dit nie. Simpatie met die naasbestaandes.
Die wêreld se morele kompas is gebreek, en ek twyfel of dit ooit weer herstel kan word. Siek siek wêreld.