ʼn 26-jarige man is in hegtenis geneem vir die moord op sy 75-jarige ouma in die Tshikuwi-nedersetting in Limpopo.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Elsie Makhokha het saam met haar kleinseun in die lapa gesit toe sy besluit om in die huis in te beweeg.
“Hy het agter haar aangeloop en die deure toegemaak. Later kon daar rook gesien word wat uit die huis trek,” het Ngoepe gesê.
“Gesinslede het om hulp geskree en die gemeenskapslede het kom help. Hulle het die vensterraam gebreek en die oorledene uit die huis verwyder, maar sy is later deur nooddienste dood verklaar toe hulle by die toneel opdaag.”
Volgens Ngoepe het die kleinseun probeer vlug van die toneel, maar is hy vasgetrek deur lede van die gemeenskap. Hulle het hom toe aan die polisie oorhandig.
Hy sal binnekort in die Dzanani-landdroshof verskyn.