Klerksdorp-burgemeester se bedanking ‘geen verrassing’

James Tsolela (Foto: Matlosana-munisipaliteit se webwerf)

Die skielike bedanking van James Tsolela, die ANC-burgemeester in die Matlosana- plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp), word verwelkom, maar is geen verassing nie.

“Die omvang van die verval en korrupsie in dié ANC-beheerde munisipaliteit onder die bestuur en leiding van Tsolela en sy kaders het eens te veel geword, skynbaar selfs vir die ANC in Noordwes,” sê Fanie Kloppers, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.

Volgens die munisipaliteit se woordvoerder, Nick Mapheele, is hy deur die ANC “herroep”.

Sy bedanking volg ook kort ná die skorsing van Matlosana se hoof- finansiële beampte, Mercy Phetla, ná bewerings dat sy ʼn luukse voertuig, ʼn Amarok-bakkie ter waarde van R1,4 miljoen, van ʼn munisipale diensverskaffer ontvang het.

Die VF Plus het reeds herhaaldelik onreëlmatighede in die toekenning van tenders, wanbesteding en die nadelige gevolge van kaderontplooiing in Matlosana uitgewys.

“Halfhartige pogings deur die Noordwes-regering om by die munisipaliteit in te gryp, het herhaaldelik misluk en is gekelder deur die voortdurende ANC-faksiegevegte om hul hande op die belasting-en regeringsgeld van die munisipaliteit te kry.”

Kloppers sê in Tsolela se dienstermyn het die uitstaande skuld aan Eskom en Midvaal Water toegeneem tot ʼn verbysterende bykans R3,6 miljard wat Matlosana tegnies bankrot laat.

“Hierdie is ʼn klassieke voorbeeld van hoe die ANC-regering met hul kaderontplooiing, plundery, korrupsie en wanbestuur eens vooruitstrewende dorpe soos Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartbeesfontein bykans op hul knieë gedwing het. Dit is daarom belangrik dat kiesers met hul stemme op 29 Mei verenig agter die VF Plus, om saam met ander partye wat deel is van die Veelpartyhandves ʼn verantwoordelike en professionele regering te vorm. Saam kan ons die land herstel en bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Aggie ·

So lyk ons eens wonderlike land oral. Daar kom ongekende woede by my op oor die verval van alle dorpe wat deur die anc bestuur word. Kan nie wag vir 29 Mei nie.

Di ·

Dis so ooglopend dat hierdie korrupte amptenare bedank sodra hulle alles in die grond in gedryf het! HY moes LANKAL uit sy pos geskop geword het. Korrupte ANC het hom seker “herroep” om die skade wat hy aangerig het te probeer verdoesel voor die verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.