Klerksdorp dok miljoene op vir ANC-raadslede se tydelike verblyf

geld 4

Argieffoto.

Die koste vir die tydelike verblyf van ses ANC-raadslede, wie se huise afgebrand het ná gewelddadige diensleweringsbetogings in September verlede jaar, beloop reeds R3,3 miljoen. Die Matlosana-munisipaliteit, wat Klerksdorp in Noordwes bedien, betaal nou al langer as ses maande vir hul tydelike verblyf.

Elmarie Postma, DA-koukusleier in Matlosana, sê ingevolge wetgewing kan tydelike verblyf vir ʼn tydperk van 30 dae aan raadslede en hul gesinne verskaf word. “In November verlede jaar is die ANC egter op ʼn raadsvergadering versoek om die tydperk tot ses maande te verleng, indien Sasria-versekering die koste sal dek,” sê Postma.

Sasria is die regering se korttermynversekeraar vir skade weens oproer en terreur.

Postma sê die DA het hewig teen die voorstel vir die verlenging van die verblyftydperk kapsie gemaak.

Sy sê Sasria het intussen bevestig dat hy nie vir die langtermynverblyf gaan betaal nie. “Dit kan ernstige finansiële gevolge vir die munisipaliteit inhou as hy die R3,3 miljoen moet betaal wat veronderstel was om deur die versekering gedek te word.”

Dit het aan die lig gekom dat slegs een uit die ses raadslede die nodige inligting rakende die waardes van hul huise, voertuie en huisinhoud by die versekeringsmaatskappy ingedien het. Die inligting is nodig om die eis af te handel.

Die DA het verskeie versoeke by die munisipaliteit se speaker ingedien en hom gevra om die raadslede te versoek om die inligting beskikbaar te stel.

“Toe die DA vra wat die finansiële gevolge vir die munisipaliteit sal wees, is besluit dat ʼn spesiale raadsvergadering gereël moet word om die aangeleentheid te bespreek. Daar is tot dusver nog geen spesiale raadsvergadering geskeduleer nie,” sê Postma.

Sy sê die kwessie sal nou na Gordon Kegakilwe, LUR vir plaaslike regering en menslike nedersettings, verwys word. Die raadslede sal by ʼn beleidswerksessie oor sy besluit ingelig word, maar ANC-raadslede het tot dusver versuim om dié werksessie by te woon.

“Die volgende raadsvergadering vind aan die einde van die maand plaas en daar word verwag dat ʼn  volledige verslag oor die verblyf ingedien sal word. Die DA sal die verslag deeglik bestudeer en toesien dat geld van die belastingbetaler nie misbruik word nie, asook dat niemand onbehoorlik baat vind by hierdie situasie nie,” sê Postma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Antjiepat ·

Rerig Postma.. die DA moet ook bietjie wakker skrik. Sien berig: Die DA sal die verslag deeglik bestudeer en toesien dat geld van die belastingbetaler nie misbruik word nie, asook dat niemand onbehoorlik baat vind by hierdie situasie nie,” sê Postma. WORD WAKKER daar het iemand al klaar baat gevind toe die tydperk verleng is na 6 maande .. en sjoe lees jul dan nie jul versekering dokumente.. of is dit lees maar verstaan “gerieflikheidshalwe” niks.. oproer en terreur word 95% nie gedek nie… ja ou Klerksdorp, jul het tot nou ‘n munisipaliteit gehad maar na dese gaan jul ook in die kategorie val van waar belasting betalers jul ook onder hou. Ek sal hoop dat jul onder administrasie geplaas kan word sodat jul korrupte raad en raadslede afgedank kan word…

Benita ·

Fantasties!! Intussen ry ons hier tussen deur die gate, in plaas van op die paaie…..

Scalla ·

En ek verstaan die duur verblyf is in Stilfontein, wie is die eienaar, laat hul self opdok.

Anel ·

Onaanvaarbaar. Dan moet almal wie se plekke gebrand het so vergoed word. Wat van die brandstigters? Alles week verkeerdom in hierdie land

Snowball ·

ANC mentaliteit – as iemand anders betaal dan misbruik jy en mors jy, alles wat jy kan, soveel as wat jy kan, totdat die bloed uit die klip uittap.

Jakes ·

Hulle gebruik seker Eskom se geld om daarvoor te betaal. Stuur maar die balju soontoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.