‘Kletsrymer’ sit lank oor vrou se moord

Farah Thompson van Pringlebaai (Foto: Facebook)

ʼn 22-jarige man, wat glo daarvan gedroom het om een dag ʼn kletsrymer te word, is in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis in verband met die moord op Farah Thompson (53) van Pringlebaai.

Thompson is op 13 Augustus 2017 in haar huis in dié kusdorp vermoor.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Martin Mncube het vir Thompson gewerk voor hy haar beroof en vermoor het. Mncube is tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis op aanklag van roof met verswarende omstandighede en 22 jaar direkte tronkstraf op aanklag van moord. Die hof het beslis dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word.

“Thompson het soveel vertroue in Mncube gehad dat sy hom soms alleen gelos het by haar huis, maar hy het dié vertroue terugbetaal deur haar te beroof en te vermoor,” het Ntabazalila gesê.

Mncube het die dag by haar huis opgedaag en die toilet gebruik. “Toe sy die deur vir hom wou oopmaak, het hy haar van agter om die nek gegryp en gedreig dat sy nie ʼn geluid moet maak nie. Hy het haar na die toilet gesleep en haar mond en bene met kleefband vasgebind. Hy het ʼn ketting uit die motorhuis gaan haal en Thompson met twee slotte op ʼn stoel vasgebind.”

Mncube wou weet of sy ʼn kluis in die huis het. Hy het daarna haar handsak deursoek en bankkaarte uit haar beursie gesteel. Hy het die PIN-kode geëis. Sy het dit vir hom gegee en gepleit dat hy nie met sy optrede moet voortgaan nie. Sy het onderneem om hom te help. “Mncube het haar neus, mond en gesig toegebind. Net voor hy daar weg is, het hy haar met ʼn kunswerk geslaan.”

Hy het ook haar Samsung-skootrekenaar, Huawei-tabletrekenaar, selfoon, voertuigregistrasiedokumente en ʼn gaspistool gesteel. Hy wou met haar BMW X3 vlug, maar kon dit nie aan die gang kry nie. Hy het met haar Honda Jazz gevlug. Thompson se liggaam is die volgende dag gevind.

“Hy het met die motor weggejaag en sy meisie en neef opgelaai en daarna gaan drink. Hy het op twee verskillende geleenthede altesaam R4 000 uit haar bankrekening onttrek. Hy het op pad na Hermanus ʼn ongeluk gehad met die Honda Jazz.”

In sy pleitverduideliking het Mncube aangevoer hy het haar beroof omdat hy ʼn droom het om ʼn kletsrymer in Kaapstad te word en sy eie album uit te reik. “Adv. Sabata Choane het dit egter verwerp, aangesien Mncube eerder gaan drink het, as om sy drome na te streef,” het Ntabazalila verduidelik.

Choane het gesê die beskuldigde het uit gierigheid opgetree. “Dis duidelik dat die rooftog beplan was. Dit is egter nie duidelik waarom hy Thompson as sy slagoffer gekies het en waarom sy moes sterf nie,” het Choane gesê. “Farah Thompson was ʼn geliefde ma, suster en vrou toe die beskuldigde haar lewe beëindig het. Haar familie het haar beskryf as ʼn goedhartige persoon en die hof versoek om ʼn maksimumvonnis op te lê.”

Die hof het egter versagtende faktore in ag geneem, waaronder die beskuldigde se ouderdom, het Ntabazalila bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wortelpoop ·

Julle opskrif en berig maak nie sin nie. Hy “wou” n kletsruimer word.
Kletsruimer sit lank oor vrou see moord… Verwarend

Ja nee ·

Dis kletsrymer…vrou se moord…verwarrend.
Eintlik maak jy nie sin nie…?

Elred Ferreira ·

Sy vonnis is slegs op papier…hy sal na 6 jaar vrygelaat word.Lewe het geen waarde in n Piesang Republiek nie!

Andre ·

Lewenslank behoort 50 jaar of meer te wees sonder die opsie van parool. Wanneer gaan die regstelsel die slagoffers beskerm?

Hanna Hoekom ·

GEEN volksvreemdeling op my erf toegelaat nie. Huis en tuin moet maar lyk soos dit lyk, maar die hand wat voer gaan nie hier afgekap word nie. Verder geen donasies aan volksvreemdes meer nie. Ondersteun slegs ons eie in nood asook die DBV. Genoeg is genoeg!

Bobby ·

Vesagtend. At SHAME . Toe kry die Judge hom jammer. …….?

TP ·

Ah, dankie Snowball. Ek sal liewer nie vra wie Slim Shady is nie :), maar ek verstaan ‘rapper’

Sickening ·

Versagtende faktore … skokkend … sy ouderdom … maak mens siek!

Ja jong ·

Janee nog een wat haar werker so VERTROU het dat sy die huis oopgelos het vir hom .. ja ja .. julle . wanneer gaan mense leer? Die knaap is binnekort uit die tronk uit. Vreemd twee ouens gooi ‘n man in ‘n kis en maak hom bang .. 14 jaar tronkstraf . hierdie moordenaar effektief dan eintlik 15 en as hy homself gedra seker net 6?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.