ʼn Vyfjarige kind het Saterdag in ʼn hotelswembad in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap verdrink.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die voorval het glo omstreeks 18:00 by die Beacon Island-hotel op dié dorp plaasgevind.
Volgens Lambinon het ʼn groep jong kinders geswem toe hulle ʼn voorwerp op die bodem van die swembad gesien het. “Die kinders het ondersoek ingestel en die drenkeling na die wateroppervlak gebring waarna bystanders die kind uit die water getrek het. Die ouers van die kinders wat die seun na die oppervlak gebring het, het onmiddellik kardiopulmonêre resussitasie begin toepas,” sê hy.
Hy sê NSRI-lede, asook ʼn dokter en ʼn verpleegster wat nié aan diens was nie, het hulle na die toneel gehaas.
“Die verpleegster en die dokter het onmiddellik die kardiopulmonêre resussitasie oorgeneem waarna die kind na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is. Dokters kon egter nie daarin slaag om hom weer by te bring nie, en hy is dood verklaar,” sê Lambinon.
Traumaberaders is volgens hom ontbied om berading te bied aan die ma, wat glo ʼn werknemer van die hotel is, en haar dogter.
ʼn Polisieondersoek na die voorval is van stapel gestuur.
Ai my hart sooo seer vir die kind en sy familie. Sterkte
Daar is hierdie jaar net ongelooflik baie verdrinkings in die koerante. Sterkte aan al die families wat geliefdes aan die dood moes afstaan in die tyd.
Dis opvallend hoe baie kinders en selfs grootmense verdink. Dis tragies. Sterkte aan almal se families.