Kleuter buite ouerhuis deur pofadder gepik

WAARSKUWING: Die foto onderaan die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Ciljee Brits in die hospitaal. Foto: Facebook

ʼn Vyfjarige seun van Piet Retief in Mpumalanga is die afgelope naweek na ʼn hospitaal in Johannesburg oorgeplaas nadat hy deur ʼn pofadder gepik is.

Ciljee Brits het Woensdag buite sy ouerhuis op ʼn plaas in die omgewing gespeel toe hy op sy voet deur die pofadder gepik is. Karin du Plessis, Ciljee se tannie, het aan Maroela Media gesê Ciljee se pa, Ruan, was saam met hom buite die huis toe die voorval gebeur het.

“Ruan het gehoor hoe Ciljee gil en dadelik vermoed ʼn slang het hom gepik. Hy het die pofadder gesien en hom doodgemaak. Gelukkig kon hy dus dadelik identifiseer watter soort slang Ciljee gepik het,” het Du Plessis gesê.

Ciljee is na ʼn hospitaal op Piet Retief gehaas en van daar na ʼn hospitaal in Trichardt oorgeplaas waar hy behandel is. Sy voet en been was tot by sy knie blou en blase het op sy voet gevorm.

Volgens Du Plessis het dokters by die hospitaal in Trichardt gesê Ciljee moet geopereer word. Hy is dus na die Sunninghill-hospitaal in Sandton oorgeplaas waar spesialiste hom kan behandel.

“Dokters het gister die blase en dooie weefsel weggeskraap en die voetjie verbind. Vanoggend het die wond heel goed gelyk toe hulle dit oopmaak. Hulle het derhalwe besluit om nie in dié stadium te opereer nie,” sê sy.

Sy sê Ciljee se toestand het aansienlik verbeter sedert gister, maar hy sal nog ʼn paar dae in die hospitaal moet bly. Hy verkeer egter nie in lewensgevaar nie. “Hy neem wel sterk pynmedikasie, want die kind het maar baie pyn.”

Volgens Du Plessis het mense ná die voorval ingespring om geld vir Ciljee se mediese onkoste te help insamel aangesien die gesin nie ʼn mediese fonds het nie.

Ciljee Brits se voet nadat hy deur ‘n pofadder gepik is. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

STELLA MARIE DOS SANTOS Soares ·

Ek.kry.die.kind jammer. Slange.is.maar.n gevaarlik replitile.hoop en bid saam.met die ouers dat hy okay sal wees

Duitser ·

Dit is hoekom die bybel sê die slang se kop moet vermorsel word.

Koos1 ·

Koos, hoe stem ek nie saam met jou nie. Die Bybel praat van satan wat in die gedaante van ‘n slang was, net soos God in die brandende bos met Moses gepraat het of die pratende donkie. Slange het ‘n waardevolle plek in die natuur.

Boeta, ek glo jy gaan ok wees, moet net asb ooit slange haat nie. Die slang het sy instinkte gevolg. Hulle weet nie van beter nie.

Anonieme Lafaard ·

Ja, Duitser. Dit is presies hoekom die skrywers van daardie mite nie van slange gehou het nie. Dit was vir daardie primitiewe nomades ‘n besliste doodsvonnis. Ongelukkig is daar vandag nog mense wat die storie van ‘n pratende slang glo en sodoende word baie van die diere voor die voet uitgeroei.

PJC ·

Dit wil voorkom of daar tans baie meer slangbyt gevalle voorkom as voorheen. Ek wonder of dit so is en of daar ń verklaring hiervoor is.

Piet ·

Dis nou jammer n mens kon nie sien wat Duitser se nie, al het hy twak gepraat.

Etienne ·

Sterkte vir Ciljee. Ek vertrou jy sal spoedig herstel.
Verslaggewers moet besef dat slange byt en hoenders pik.

Mariné Lourens ·

Dagsê Etienne

Dankie vir jou kommentaar. Let asseblief daarop dat volgens Skryf Afrikaans van A tot Z is die korrekte taalgebruik om te sê ʼn slang pik, maar die plek waar ʼn slang gepik het, is ʼn slangbyt.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Phillip ·

Daar is vir my 2 mooi dinge in hierdie storie, eerstens het die seun dit oorleef. Dit is wonderlik dat God kinders beskerm. Tweedens is my hart verheug om te hoor dat die gemeenskap kon help om die mediese kostes te dek. Ons besef nie meer vandag hoeveel mense in ons land net eenvoudig nie meer die vermoë het om die dinge soos medies te kan bekostig nie. Ek bid vir ‘n spoedige en volledige herstel van die jong seun.

Landi ·

Ai toggie dis so jammer ons Afrikaners moet alewig in n woordestryd wees oor enige ding. Die punt is die seuntjie is gepik, gebyt, gehap, seergemaak, so hou tog op negatiewe aanmerkings maak. Ja ek is ook vrek bang vir slange maar genade tog mense moet net ophou om alles wat leef en beef dood te maak. MAAR ek gaan ook nie toelaat dat iets my kinders moet seermaak nie.

Ek sal ook graag so PJC wil weet of Maroela vir ons n artikel kan plaas hoekom daar deesdae so baie gevalle voorkom van kinders wat deur slange gepik, gebyt, of gehap word.

mc ·

Ditto Landi, hoe lekker lag ek nou vir jou skerp kommentaar. As ek na daardie ou opvreet en dood druk gesiggie kyk, voel ek sommer lus en gaan pik, byt of hap daardie slang terug.

Elize Louw ·

Sterkte kleinman, hoop dit gaan gou beter. Soo keelvol vir die alewige slangkenners/kastige vangers, Die een is so slim soos die ander een maar almal ewe onnosel. ‘n kind se lewe is baie meer werd as ‘n vervlakste slang.

Denise ·

Sterkte aan Ciljee bid jy herstel volkome waar ek bly is daar so baie van die pofadders en nog vele ander in die bos!!!!

Dada ·

Cillie se pa Ruan was laasweek by my om planke te koop. Geskok oor hul kind. Hy skuld nog iets maar nou niks meer nie!

Slange pik nie maar byt. Joernaliste nou finaal.

Slange seil nou in herfs vir kos vir lange winterslaap. My kleinkinders moet wegbly uit ruigtes en ‘gumboots’ dra met digte spykerbroek (Hollands vir klinknaelbroek – denim).
Los graan soos mielies bring rotte en dis die Pof se kos. My bokkies een nou net gras met lekke lek. ‘n ou bok hou mos van groen blare! Koos Ras 1968.

Goddank dankbaar vir die fikse rakker se herstel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.