Kleuter ‘deur hel’ ná staalhek op hom val

TJ ‘n dag nadat die hek op hom geval het. Foto: Verskaf

ʼn Enkelma van twee seuns van Polokwane (Pietersburg) oorweeg om regstappe te doen nadat ʼn groot staalhek op haar vierjarige seun geval en sy kop oopgekloof het.

Celeste Grimes (34), ʼn naelterapeut wat sowat 13 jaar lank in dié Limpopo-stad woon, het Donderdag gesê dié stap volg nadat niemand sedert die traumatiese voorval verantwoordelikheid daarvoor wil neem nie.

Grimes verduidelik sy het op Valentynsdag vanjaar oudergewoonte haar twee seuns, JP (16) en TJ (4), by hul onderskeie skole gaan oplaai. Een van JP se vriende ry gewoonlik saam en Grimes gaan laai dié vriend gewoonlik by die huis af wat sy ouers deur ʼn eiendomsagent by ʼn derde party huur.

“Ons het JP se vriend gaan aflaai en daar was hondjies in die erf waarin ek belang gestel het omdat ek een van die hulle wou koop.. Ek het my motor buite parkeer, JP se vriend het die hek oopgemaak en ons is saam in die erf in om na die hondjies te gaan kyk,” het Grimes Donderdag aan Maroela Media gesê.

Toe hulle klaar na die hondjies gekyk het, het TJ vooruit geloop. Grimes het gesê sy het met haar rug na haar seun gestaan om te keer dat die hondjies nie by die hek uit hardloop nie, toe sy hoor hoe die hek val.

“Ek vermoed hy het die hek probeer oopmaak en toe val dit op hom. Daai hek is baie swaar en ek sal dit nie vandag kan optel nie. Ek kan dit eintlik nie verduidelik nie, maar die Here het my krag gegee om dit bo my kop op te tel. JP het nader gehardloop en die hek verder opgetel en weggetrek sodat ek by TJ kon uitkom. Hy het geskreeu en net gesê: ‘Jammer, mamma, ek sal nie weer nie, jammer, mamma.’”

Grimes het gesê JP se vriend se pa lei paramedici op. Hy was gelukkig by die huis en het vinnig bygestaan en TJ se gapende wond van nagenoeg 10 cm aan sy agterkop verbind. Grimes het daarna met TJ na ʼn plaaslike dokter gehaas waar die dokter sy wond met chirurgiese krammetjies geheg het. TJ het ook skraap- en kneusplekke opgedoen.

“Die dokter het ʼn wonderlike werk verrig. Hy het TJ ʼn ruk lank waargeneem, waarna ek hom vir ʼn skandering by die plaaslike Mediclinic geneem het. Hy het gelukkig nie bloeding op die brein opgedoen of enige bene gebreek of gekraak nie. Hy het wel ligte harsingskudding opgedoen. Die Here se hand was beslis oor my kind, anders sou dit erger gewees het.”

TJ en sy ma, Celeste Grimes. Foto: Verskaf

Grimes, wat die eienaar is van haar eie onderneming, sê sy kon vir byna ʼn week lank nie haar werk doen en ʼn inkomste verdien nie. Sy het dié tyd afgevat om na TJ om te sien. TJ was ʼn week ná die ongeluk terug by sy dagsorgsentrum met die krammetjies steeds in sy kop. ʼn Week later is die krammetjies uitgehaal nadat die wond goed genees het.

“Al wat nou oor is, is die battle scar en emosionele trauma. Hy word soms in die aande wakker, dan skreeu hy: ‘Eina, eina!’ Hy is ook baie skrikkerig vir hekke en wag dat ander mense dit oopmaak voor hy deur dit sal loop,” het sy gesê.

Grimes het gesê sy het reeds met ʼn prokureur in gesprek getree om regstappe te oorweeg vir enige toekomstige mediese onkostes wat kan volg, aangesien sy nie ʼn mediese fonds het nie. Sy wil ook graag albei haar seuns vir sielkundige hulp stuur om die traumatiese voorval te verwerk.

“Ons was deur hel en terug. Die voorval spook nog by TJ en JP. Ek self bly die voorval oor en oor voor my oë sien uitspeel,” het Grimes bygevoeg.

Die staalhek wat op TJ geval het

TJ se wond. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

cor ·

Sy gaan sekerlik n eis teen die eienaar van die eiendom instel. As jy as eienaar n plek uit huur moet jy sorg dat alle hekke en deure wat jy aangebring het ten alle tye veilig is. As die huurder dit aangebring het is hy verantwoordelik. Jy sien mos deesdae op Tv die advertensie vir; “as jy op n perseel seerkry of n hond jou byt , kontak ons” Die maatskappy sal die saak dryf want dit is publieke aanspreeklikheid ., klousule in jou versekerings kontrak indien jy so iets het.

Wessel ·

Maklik, die eienaar van die huis. Hy kan weer die ou wat die hek sonder stoppers gebou het hof toe vat. Die wet is so, as jy ñ voertuig het en een van jou werkers is dronk terwyl hy bestuur kan jy ook verantwoordelik gehou word want dit is jou voertuig. Al het jy nie geweet nie. Hoe meer mense vas gevat word oor die onveilige hekke sonder stoppers, hoe beter. Almal bou deesdae hekke, maar min weet hoe.

Peanut ·

Daar is baie vd hekke wat baie swak geinstalleer word wat net n ongeluk is wat wag om te gebeur. Hou die persoon wat die hek installeer het verantwoordelik

Griki ·

Wat van die persoon/maatskappy wat die hek geïnstalleer het. Was dit ‘n beveiligde hek? Hulle laat baie keer na om ‘n stutpaal te installeer.

christa ·

ook nogal nuuskierig om te weet wie sy gaan dagvaar. Toe ek my hek laat instaleer het, het ek persoonlik gaan vrae vra aan die man om seker te maak hy kan nie optel vanaf die spoor nie en kan nie val nie. My hek is bietjie langer as die opening, dus kan die hek nie val nie, so het die man my gewys en verduidelik. Die hek kan ook nie te ver oop gestoot word nie omrede daar ‘n stopper is.

Sunette ·

Ongelooflik dat jy daardie hek kon optel. Eks so verskriklik bly jou lyfie is OK. Liefde vir julle

Maak seker ·

Maak seker dat wanneer die hek ontspoor en by die stopper verbygaan dit dan nie gaan omval. Ook na die sluitkant kan dieselfde gebeur. Daar word gewoonlik ‘n paal geplant aan die kant waar die hek kan omval. Ek het al voorheen gevra dat MM ‘n kundige se menings plaas maar daar gebeur niks.

Mariska ·

Ek dink nie die ma is geld gurig nie. Ek dink sy wil net voorkom dat so iets weer met iemand anders se kind gebeur. Daar is wette in plek vir hierdie tipe insidente. As dit ek was sou ek ook wou he geregtigheid moet geskied. Mamma ek hoop dinge werk uit vir julle gesin. Ons dank Liewe Jesus dat hy TJ gespaar het vir julle.

VanAfrika ·

Geldgierig of te nie, as jy n plek huur moet die plek veilig wees. As dit met my kind gebeur het sal ek ook hof toe gaan. Te veel eienaars kom met moord weg as dit kom by verhurings van hul eiendomme. Hulle is gou om die huurder te penaliseer as dit kom by instandhouding van hul eiendomme maar as hulle self moet betaal, het hulle n problem. Ek het by n vrou gehuur wat geglo het die huurder word verantwoordelik gehou vir die agterstand van haar eiendom. Ek is in die proses om haar hof toe te vat, sy wou hê ek moes verantwoordelik wees vir die sewage pype, gras sny, stukkende vensters, stukkende wasgoed draad, toilet wat lek, kombuis kas deure wat stukkend is, swembad pomp wat stukkend is en die instandhouding van die swembad. Al waarvoor die huurder verantwoordelik is, as n lig blaas moet dit vervang word. Volgens haar ken sy die housing tribunal wette en noem my mal toe ek vir haar sê sy moet haar goed begin reg maak. Dit was n comunial verhuring en dis die eienaar se plig om die swembad en gras in stand te hou vir die families wat op haar grond huur. Moenie dat eienaars julle vat vir n ry. Gaan slaan die housing tribunal wette na en sien wat jou regte as huurder is. Maak nie saak wie die hek ingesit het nie, die eienaar moes seker maak alles is veilig.

Celeste ·

Al my rekeninge is betaal, self betaal… Geen hulp… Geen geld maak storie, ek sorg vir my 2 seuns. Die agent het nie aandag gegee aan die klagte oor die hek nie (tans steeds stukkend)
Lekker aand!!

Tong in die kies ·

Sê bietjie vir daai mannetjie, hy is sommer lekker sterk, kyk hoe buig hy so hek. Sterkte vir jul & as die berig help om daai hek behoorlik heel te kry, viva! Jy het ook die reg om te eis van installeerder, tyd dat mense trots raak op hul werk.

Mrs.B ·

Baklei mamma, die eienaar moet verantwoordelik gehou word. Dit was natuurlik ‘n DIY projek. Bly jou seun is op die pad van herstel. Yslike battle scar wat hy het om te wys en om eendag die verhaal te kan vertel van die wonderwerk dat hy nog lewe en sy sterk mamma wat ‘n hek bokant haar kop kan optel.

Pop ·

DS, jys nou baie lelik?daardie hek is nie veronderstel om ooit op enigiemand te val nie. Wat nog te se n klein kind. Ons het ook n huis gehuur. En toe val die hek op ons motor. Ons het n nuwe motor uit die eienaar gekry. Daardie hek kon op enigeen van ons geval het en dan kon ons dood gewees het. Instelasie was pateties om die minste te se. En sederdien sien ek baie sulke hekke wat vir n ongeluk wag. Ons hou nou maar by elektriese hekke wat oopswaai.

leser ·

sterkte aan Celeste en seun, bid vir vinnige herstel. as installeerder van sekuriteit stelsels en hekke, MOET alle hekke met veiligheids meganismes voorsien wees. OOP en TOE “stops”, ordenlik groot, uitval na buite, inval na binne, en dan elektries moet dit ook voorsien wees van TOEMAAK infrarooi beskerm eenhede. baie mense wil nie laasgenoemde hê nie, maar dis verpligtend, lees die wet daaroor. begin by die eienaar, hy/sy moet dit maar verder vat

LouE ·

Daar gaan jaarliks ‘n klomp kinders dood met hekke wat omval. Gewoonlik is dit as iemand aan die hekmotor werk en die hek eenkant staangemaak word. ‘n Jong kind kan homself nie help nie – hy gaan klim teen die hek op. Dan val die hek om en die kind is dood. Daar moet maar ‘n paar hofsake kom, dan sal mense kennis neem en wakker word. Hierdie geval is anders, maar nogtans dieselfde beginsel.

Kobus ·

As ek kan raad gee.as die eienaar en agent geweet het van die hek wat stukkend was moet stappe teen hulle ingestel word.as dit die eerste keer was dat die hek dit gedoen het.so ek nie stappe gevat het nie.want niemand het geweet daarvan nie.ek is baie dankbaar dat jou kind lewe
Sterkte vir julle

Net 'n mamma ·

Celeste, ‘n baie groot hek het ook eendag op my dogtertjie geval, gelukkig het sy nie seer gekry nie, sy het gesien dit gaan gebeur en toe gekeer, hek het bo-op haar beland en steeds het agente niks maar niks gevoel om dit reg te maak dat dit nie weer met iemand gebeur wat dalk nie so gelukkig is nie, ‘n vriend van my het by die dood omgedraai oor ‘n hek wat op hom geval het, hulle het hom duisende in versekering uitbetaal. Jy hoef vir niemand te verduidelik nie, gaan hoor gerus op die facebook groep Legal talk south africa, jy sal daar ook bietjie raad kry. sterkte vir jou en jou gesin

Lion ·

Ek is baie baie bly dat die jongman ok is. Dit kon erger gewees het. Ek en my man het so ‘n jaar en paar maande gelede by bonanza vakansie oord in gauteng huisie gehuur..
. Ons het die eienaar gese van haar hek wat losserig is..
Toe net een aand toe my man die hek toe stoot ,. Val daai afgryslike swaar staal hek bo op hom.. Sy hele linker borskas was blou
. Hy het baie seer gehad!! Nou ja net sorry…dis wat gese was.. Toe ons trek wou sy nie eers ons deposit terug gee nie!! Nou kry jy sulke mense in die samelewing
…?? Baie swak.!!! Skelm.

Essa ·

Celeste, jou terugvoer op al die onsinnige kommentare plaas alles in perspektief. Jy is ‘n pragtige mamma vir jou twee seuns en het die reg om die saak te hanteer soos jy goed dink. Die eienaar van die perseel en sy agent behoort minstens die saak met jou te bespreek. Sterkte vir julle drie, hoop die trauma vervaag gou.

faith ·

Hi weet hoe dit voel het met my kleinseun gebeur. sy skedel was soos n puzzle gebreek op 7 plekke. hy moes vir drie maande soos goud opgepas word sodat hy nie sy kop stamp of val nie. neurochirug was amazing. geen skade oor gehou nie maar die koppie is maar sensitief as hy hom nou stampe. sterkte vir julle

rm ·

FB Legal Talk SA gratis advies. As jy assuransie het, vind uit, die meeste bied deesdae regsadvies. Gaan sien n prokureur, meeste van hule doen deesdae ook Pro Bono sake.

Anna ·

Sterkte! Ek dink die kind was gelukkig om nie erger beserings op te gedoen het nie. Daar was beslis ‘n Hoër Hand betrokke. My niggie se kind is dood nadat ‘n hek uit ‘n betonblok op haar geval en haar voorkop verpletter het. Ons treur vandag nog oor my niggie se dogtertjie wat net 6 jaar oud was toe dit gebeur het. As die huurder nie aan die eienaar gerapporteer het dat die hek los is nie, kan dit as ‘n blote ongeluk beskou word of nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.