Kleuter en pa sterf, suster en ma kritiek

Argieffoto

ʼn Swanger vrou wat kritieke beserings opgedoen het in ʼn botsing Vrydagaand waarin haar man en driejarige dogter gesterf het, sal moontlik na ʼn ander hospitaal oorgeplaas moet word weens die erns van haar beserings.

Monica Mohibidu (35), haar man, Poloko (38), hul twee kinders, Boitumelo (3) en Bono (13), en nog twee mans, Vincent Kgosimang en Nyo Monnanyama, was met hul Audi-motor na ʼn begrafnis in Taung op pad toe die ongeluk omstreeks 18:00 op die N4 buite Rustenburg gebeur het.

Kapt. Elsabé Augoustides, woordvoerder van die polisie, het gesê Boitumelo, Poloko en Monnanyama is op die toneel dood. Kgosimang, Monica en Bono is met ernstige beserings na die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg gehaas.

Dit is nie tans bekend wie bestuur het nie.

Volgens Augoustides word daar vermoed dat die bestuurder die afrit na Zeerust wou neem, maar per abuis verbygery het. Die voertuig het daarna glo ʼn U-draai gemaak en probeer om op die N4 in die rigting van Zeerust te kom en toe teen ʼn sementvragmotor gebots.

Die vragmotorbestuurder is nie in die botsing beseer nie.

Augoustides het gesê volgens hospitaalpersoneel sal Monica moontlik na die Dr. George Mukhari-hospitaal in Pretoria oorgeplaas word weens die erns van haar beserings. Bono word tans in die waakeenheid van die Job Shimankana Tabane-hospitaal behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adele ·

Ons is net na 17h00 by die toneel verby. Daar is geen veiligheidsmaatreels op die N4 hoofweg by af-en opritte nie en meeste van die fatale ongelukke is onwettige U-draaie op hierdie pad. Die impak was by die Waterfall Mall afrit, die kar het so 600meter verder tot stilstand gekom en te oordeel na die rem-merke van die vragmotor het hy regtig probeer stop. Ek hoop daar is berading vir die vragmotorbestuurder.

Pieter ·

6 mense in ‘n motor….wanneer gaan alle voertuie oor weegbrûe beweeg soos die geval met my vragmotor? En u-draaie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.