Kleuter erg beseer in swaai-ongeluk: ‘Ons is vol moed’

Jaco en Juané Bothma. Foto: Facebook

Jaco en Juané Bothma. Foto: Facebook

Juané Bothma, die tweejarige kleuter van Johannesburg wat erge bloeding op die brein opgedoen het nadat ʼn swaai haar teen die kop getref het, is steeds in ʼn koma.

Maroela Media het vroeër berig Juané is op Sondag 10 Julie ernstig beseer nadat sy voor haar broer ingehardloop het wat op ʼn swaai gespeel het en dit haar bokant haar oor getref het. Juané se skedel is gekraak en sy het bloeding op die brein opgedoen. Sy word sedertdien in ʼn geïnduseerde koma gehou in die waakeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal.

Jaco Bothma, Juané se pa, het Saterdag aan Maroela Media gesê hoewel Juané steeds in die koma is, gaan dit baie beter met haar. “Haar lyfie word nie meer verkoel nie, die swelling het baie afgeneem en sy lyk sommer net beter,” het hy gesê. Hoewel ʼn asemhalingsmasjien Juané steeds help asemhaal terwyl sy verdoof word, is daar geen skade aan haar ander organe nie.

“Die dokters het al probeer om haar uit die koma te bring, maar dan plaas hulle haar weer onder verdowing. Dit is maar ʼn stadige proses en nogal frustrerend, maar ons is geduldig,” het Jaco verduidelik. “Die pyp in haar keel irriteer haar as sy wakker is en dan probeer sy dit byt, maar byt haar tong raak. Haar lyfie is ook ʼn bietjie styf, maar al hierdie goed is heeltemal normaal. Ons is vol moed en ons hele familie is hier om saam met ons te bid. Ons glo sy sal ten volle herstel.”

Jaco het vroeër gesê dit lyk nie asof Juané enige langtermyn-breinskade opgedoen het nie, maar dit sal eers werklik bepaal kan word wanneer sy wakker is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

André ·

Dit al amper ons kleintjie oorgeneem, dit kan so vinnig gebeur. Op daai ouderdom besef hulle nie. Voorspoed aan familie.

Sus ·

So baie kindertjies was al ‘n breukdeel van ‘n sekonde weg van dieselfde ongeluk…..om voor ‘n swaai in te loop. Baie sterkte aan die familie. Ons bid vir volledige herstel.

johann cb ·

Ai Juané, kleine mensie, jy sal nog gesond word. Jou pappa en mamma is baie lief vir jou en hou nie op bid nie. Jou Pappa in die Hemel sal ons almal se Gebede verhoor! Oom bid ook vir jou, sodat jy binnekort by die huis in jou eie kamer kan slaap. Mooi soet wees en luister na omie dokter.

Wat-ek-lees ·

Die beskermengel het vir ‘n oomblik weggekyk . . . Sterkte kleintjie en jou familie.

Cheryl ·

So pragtige ou dogtertjie – Sterkte aan die gesin, hoop en glo sy sal volkome herstel

Joann ·

Sterkte aan ouers. Hoop en bid sy herstel volkome. Krag en wysheid aan Dr.en verpleeg personeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.