Kleuter herstel ná hy in swembad beland: ‘Absolute wonderwerk’

Klein Cianu van der Watt in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Klein Cianu van der Watt (2) van Krugersdorp het in ’n kwessie van 24 uur tekens van wonderbaarlike herstel getoon nadat hy sowat twee weke gelede in ’n swembad by sy grootouers se huis beland het en sedertdien aan ’n ventilator gekoppel was.

Riaan van der Watt, Cianu se pa, sê hy het nie woorde om die gesin se dankbaarheid te beskryf nadat hul blondekopseuntjie se toestand onverwags oor die naweek in die waakeenheid van die Garden City-hospitaal in Johannesburg verbeter het nie.

“Dit is absoluut ’n wonderwerk. Hy doen alles op sy eie. Hy kan loop, eet en praat,” vertel Riaan Maandagoggend aan Maroela Media.

Hy verduidelik dat Cianu teen Vrydagoggend nog aan ’n ventilator gekoppel was. Hospitaalpersoneel het voor Kersfees probeer om hom van die ventilator af te haal, maar weens ’n terugslag is die kleinding weer aan die ventilator gekoppel.

“Ons het Vrydagoggend nie geweet hoe ons deur die dag gaan kom nie. Cianu was wakker met ’n pyp in sy keel en het naar geword. Ek en my vrou [Jolandi] het gaan koffie drink elders in die hospitaal en gebid. Toe ons ’n halfuur later terugkeer, was hy van die ventilator af.

“Dinge het in ’n oogwink vir ons gedraai. Van ’n kind wat Vrydagoggend aan ’n ventilator gekoppel was tot ’n kind wat Saterdagaand in die waakeenheid rondhardloop. Hy het Sondag al fietsie gery en vanoggend sit hy regop en eet pap,” vertel Riaan.

Cianu sal na verwagting vandeesweek nog na ’n gewone saal oorgeskuif word. Hy is wel ietwat van balans af en ontvang tans fisioterapie.

“Ek het nie woorde nie. Dit is ’n bonatuurlike ding wat gebeur het. Ons is ongelooflik dankbaar teenoor die Here,” sê Riaan.

Cianu van der Watt voor die ongeluk.  (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig Riaan en Jolandi het hul twee ouer seuntjies die dag van die amperse verdrinking by hul grootouers in Roodepoort gelos terwyl hulle saam met Cianu gaan Kersgeskenke koop het.

Hulle het teruggekeer en saam met die grootouers in die huis gekuier terwyl die drie seuntjies in die televisiekamer gespeel het.

Cianu het egter ongesiens na buite geglip en in die swembad beland. Die tuinier het hom in die water opgemerk en alarm gemaak waarna die kleinding uit die water gered is. Hy het nie in daardie stadium asemgehaal nie.

Riaan kon Cianu eindelik sover kry om weer asem te haal waarna hy na die kombuis geneem en aan sy grootouers se suurstofmasjien gekoppel is voordat paramedici tien minute later opgedaag het.

Jolandi het toe vertel dat Cianu een van vier kinders in een hospitaalsaal is wat onlangs byna verdrink het.

“Daar is te veel van hierdie gevalle,” sê Riaan nou. “Ons gebede gaan uit na daardie mense wat ook hierdeur moet gaan. Ons sit vandag met gemengde gevoelens, want jou kind is beter, maar vanmiddag kom hier weer ’n kind in wat dieselfde oorgekom het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.