Kleuter herstel wonderbaarlik ná breinbesering

Nhlelo Chauke ‘n jaar ná die ongeluk. (Foto: Verskaf)

ʼn Kleuter wat meer as ʼn jaar gelede ʼn ernstige breinbesering opgedoen het en byna haar lewe verloor het in ʼn motorongeluk, floreer nou danksy ʼn intensiewe rehabilitasieprogram.

Die driejarige Nhlelo Chauke het gesondheidswerkers verstom met haar merkwaardige vordering nadat sy in Januarie verlede jaar saam met haar ma in ʼn ernstige motorongeluk was. Hulle was op pad huis toe ná ʼn besoek aan familie in Limpopo. Die ongeluk het Nhlelo byna dood gelaat en sy moes op die toneel geresussiteer word.

Slegs drie weke later, nadat dokters aanvanklik gedink het sy sal nie eers ʼn nag in die hospitaal oorleef nie, is sy van die Netcare Montana-hospitaal na die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Johannesbrug oorgeplaas.

Nhlelo se span dokters en rehabilitasiepersoneel het geweet dat daar ʼn lang pad vir haar voorlê, maar niemand het geweet dat sy hierdie berg sal kan oorsteek nie.

Prof. Andre Mochan, neuroloog wat by die pediatriese eenheid van die rehabilitasiefasiliteit praktiseer, het kort ná die ongeluk gesê dat Nhlelo ʼn ernstige breinbesering opgedoen het en dat dit geruime tyd sou neem voordat sy haar breinfunksie sou kon herwin.

“As gevolg van die ongeluk het die senuwees en selle in haar brein erg geskud, wat tot bloeding in verskeie dele in haar brein gelei het,” sê Mochan.

“By haar aankoms het sy glad nie gekommunikeer nie en gesukkel om op visuele stimuli te reageer. Haar bewegings was totaal en al ongekoördineerd en sy kon nie regop sit of haar kop regop hou nie.”

Hoewel Nhlelo reeds ‘n kleuter was ten tyde van die ongeluk, moes haar rehabilitasiespan dadelik aan die werk spring om haar weer basiese bababewegings leer, soos hoe om te rol en te sit.

Kort voor lank was daar egter merkwaardige verbetering in Nhlelo se toestand en haar pa, Mzamani, sê hy het ʼn tasbare verligting begin voel.

“Ten tyde van die ongeluk was ek nog in Limpopo, want ek sou eers ʼn paar dae ná my vrou, wat moes terugkeer werk toe, teruggery het,” sê hy.

“By my aankoms by die Netcare Montana-hospitaal se noodafdeling is ek ingelig dat Nhlelo ʼn baie skraal kans staan op oorlewing. Daar was niks anders wat ek kon doen as om te bid nie, en ons gebede is waarlik verhoor.

“Nhlelo het oorleef en teen haar tweede week in die hospitaal het sy my weer begin herken – dis toe dat ek geweet het iets positiefs gebeur.”

ʼn Omvattende rehabilitasieproses

Nhlelo Chauke tydens haar rehabilitasie. (Foto: Verskaf)

Nhlelo het ure se rehabilitasie deurgemaak en moes talle soorte terapie ondergaan om haar weer op die been te bring.

Sy moes vir ʼn tyd lank ʼn kanteltafel gebruik om haar vertroud te maak met die sensasie van regop staan en ʼn neurale oogkundige het visuele stimulasie-oefeninge met haar in ʼn donkerkamer gedoen om haar oogspiere te versterk.

“Die rehabilitasiesentrum se spraakterapeut het daaraan gewerk om gebare na te boots, soos om te waai en te glimlag, om Nhlelo aan te moedig om te kommunikeer. Binne die eerste week wat sy in die sentrum was, het sy al hoe meer betrokke en entoesiasties geraak oor haar vordering,” sê Charne Cox, Nhlelo se fisioterapeut.

“Nhlelo het die hidroterapie in die verhitte swembad geniet, waar ons met drywende speelgoed gespeel het. Dit is altyd ʼn vreugdevolle ervaring vir kinders, aangesien die gewigloosheid in die water hulle ʼn gevoel van vryheid gee.

Nhlelo sou aanvanklik drie maande in die rehabilitasiesentrum moes deurbring, maar ná net twee maande het sy so goed gevorder dat sy huis toe kon gaan.

“Teen die einde van haar tyd in die sentrum het sy geglimlag en gehardloop om my te omhels wanneer ek soggens by die sentrum aankom. Dit was werklik hartverblydend om te sien hoe goed sy herstel het,” sê Cox.

“Terwyl Nhlelo se vordering ver bo ons verwagtinge was, vind ons oor die algemeen dat kinders ongelooflike geestelike krag het en makliker kan aanpas as ʼn volwassene, mits hulle die nodige ondersteuning het.”

Nhlelo is in April verlede jaar ontslaan en nou, ʼn jaar later, sê haar pa dat hy haar herstel as ʼn wonderwerk beskou.

“Sy woon elke dag kleuterskool by en hoewel sy steeds probleme ondervind met haar balans weens ʼn voortslepende probleem met haar oor, verbeter sy daagliks. Sy is baie slim en hou daarvan om te tel; die dae van die week en die maande van die jaar op te sê; en is gefassineer met kleur,” sê Mzamani.

“Nhlelo het ook baie geheg geraak aan die foto’s wat ons van haar geneem het in die rehabilitasiesentrum. Sy hou hulle op haar spieëltafel en raak nogal ontsteld as iemand hulle skuif.”

Breinbeserings anders vir almal

Mochan sê skade aan die brein deur beserings of ʼn tumor verskil van persoon tot persoon en dus verskil die rehabilitasieproses ook hemelsbreed.

Volgens hom is die proses baie eenders as om ʼn rekenaar te herlaai nadat dit onklaar geraak het. Elke program moet stuk vir stuk oopgemaak en gefynkam word om te sien waar die probleem lê.

“Ons kan nie die brein dwing om dinge te doen wat dit nie kan doen nie, maar die brein wys ons wat dit kan doen tydens die behandelingsproses. Soos dit aan die lig kom wat die brein kan doen, kan ons ons strategie aanpas en daaruit ʼn trajek van verbetering begin sien.

“Rehabilitasie is ʼn delikate proses en jy wil nie die brein oorstimuleer nie, want dit sal die risiko inhou dat die rekenaar weer onklaar gemaak word. Dit is belangrik vir gesondheidswerkers en die familielede om dit te verstaan. Ons moet stap vir stap vorder, teen die tempo waarteen die brein kan herstel.”

Hoewel kinders dikwels vinniger van groot breintraumas kan herstel, meen Mochan dat dit nietemin baie meer kompleks is in vergelyking met die volwasse brein wat reeds ten volle ontwikkel het. Breinbeserings by ʼn kind versteur normale ontwikkeling, en dit moet tesame met die werklike besering aandag kry.

“Soms lyk dit asof ʼn kind vinnig herstel ná ʼn breintrauma en hoewel dit verstaanbaar is dat ouers hul kleingoed so gou moontlik by die huis wil kry, sal dit die kind ʼn groot onguns doen om die rehabilitasieproses oor te slaan omdat dit moeilik is om te weet watter skade aan langtermyn-ontwikkelingsprosesse aangerig is,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ONTPS ·

Wonderlike nuus. Baie sterkte vir die pad vorentoe meisiekind. Ek wens jou net sterkte en beterskap toe.

Johan ·

Lekker om bietjie ‘n storie van wonderwerke te kan lees. Dankie Here.

Jax ·

Wonderlike nuus. Traumatiese breinbeserings het, na vinnige optrede van resus-behandeling, n baie goeie kans om baie goed te herstel. Hypoxia en anoxia breinbeserings is n perd van n ander kleur. Dis goed dat sulke berigte geplaas word sodat Jan Publiek meer te wete kan kom oor wat als in n oogwink kan skeefloop. Ek hoop, bid en glo sy sal volkome herstel en n goeie lewe kan lei.
NS: ek wonder of die klein Chauke-seuntjie in 7de Laan na haar vernoem is. Interessant dat die naam en van dieselde is. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.