Kleuter herstel ‘wonderbaarlik’ ná slangbyt

Een week nadat die dokters twee insnydings by die bytplek gemaak het om die melkerige vloeistof te dreineer (Foto: JPRAS Open)

WAARSKUWING: Die berig se inhoud kan kinders of sensitiewe lesers ontstel.

’n Nederlandse gesin se vakansie in Suid-Afrika het in ’n nagmerrie ontaard toe hul vierjarige seun deur ’n Mosambiekse spoegkobra in die gesig gepik is. Hoewel dokters aanvanklik gesê het dat die kleuter dalk permanent verlam in sy gesig kan wees, het hy ná maande se rehabilitasie ten volle herstel.

Dr. Willem Rinkel van die Universiteit Utrecht in Nederland wat die seun behandel het, beskryf sy herstel as ’n “wonderwerk”.

Volgens ’n artikel wat Rinkel in die mediese vaktydskrif JPRAS Open gepubliseer het, was die kind en sy ouers op ’n safari in Suid-Afrika toe die kobra hom in sy slaap net onder sy regteroog gepik het. Die naam van die kind of sy ouers is nie in die artikel bekendgemaak nie.

Volgens Rinkel sou die kind sy oog verloor het as sy oë nie toe was nie.

Die kind se gesig 12 dae nadat hy gepik is (Foto: JPRAS Open)

Die ouers het die kind na ʼn plaaslike hospitaal geneem, kort nadat hy gepik is. Daar is hy in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en het die dokters hom teengif toegedien.

Die Mosambiekse spoegkobra (Foto: JPRAS Open)

Die kind is 12 dae later na Nederland vervoer waar Rinkel toe sy behandeling begin het.

Rinkel skryf in die artikel dat die kind se onderste ooglidspiere en regterwang reeds verlam was. Die regterkant van sy gesig was ook erg opgeswel en hy het baie pyn ervaar.

“Ons het eers twee insnydings by die bytplek gemaak om die melkerige vloeistof te dreineer. Weens die dreinering het die swelling bedaar, maar het dit ook daartoe gelei dat die vel rondom die bytplek verhard het. Hy het ook gevoel in daardie gedeelte van sy wang verloor,” verduidelik Rinkel in sy artikel.

Rinkel en die mediese span het “mimiekterapie” begin toepas – wat massering, asemhalingstegnieke en verskillende oefeninge vir die sametrekking van spiere ingesluit het – wat daartoe gelei het dat die kind weer sy gesigspiere kan beweeg.

Sewe maande ná die slangbyt. Hy kon sy oë oop en toe maak (Foto: JPRAS Open)

“Die seun kon ná sewe maande weer sy regteroog oopmaak en die simmetrie van sy gesig is ná 21 maande weer herstel.”

Rinkel bevestig in die artikel dat die kind byna volkome herstel het en sê dié geval getuig van die doeltreffendheid van die gebruik van mimiekterapie as rehabilitasie-behandeling by slagoffers wat deur slange gepik is.

The Mirror berig die Mosambiekse spoegkobra kan so ver as drie meter spoeg. Dié slang spoeg sy prooi gewoonlik ook in die oë. Dié slang se gif kan jou blind, verlam of self dood maak.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in 2017 berig dat tussen 1,8 en 2,5 miljoen mense jaarliks deur slange gepik word. Sterftes weens slangbyt kom te staan op tussen 94 000 en 125 000. Van die pasiënte wat wel oorleef sukkel daarna met gestremdhede.

Volgens die WGO woon die meeste mense wat gestremdhede weens slangbyte oorhou gewoonlik in landelike gemeenskappe wat swak toegang tot gesondheidsorg en rehabilitasie het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeuwyfie ·

Ek is so dankbaar dat die Here die seun se oë gespaar het. Gelukkig was daar die dr Rinkel wat hom kon help. Baie sterkte braaf seun. Mag jy ten volle herstel.

Frank ·

Voorwaar ‘n WONDERWERK uit die Here se Hand, aangesien ‘n Mozzie se gif weefselvernietigend is. En hierdie pik was reg langs sy oog!!
Onthou so ruk gelede die meisie van Limpopo wat ook op die hand gepik was en hoe siek sy was!! Jou voorarm swel soos ‘n ballon op, meestal moet van die weefsel verwyder word.

Linda ·

Nou wonder ek net, is slang byte dan nie ook ‘n pandemie nie? Dit vat dan jaarliks ook duisende lewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.