Kleuter in Baai vermoor: Inwoners se huise word ‘misdaadtonele’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Frederic J Brown/AFP)

Die gemeenskap van Helenvale in Gqeberha (Port Elizabeth), een van die gevaarlikste buurte in die metro, is in rou gedompel ná die skietdood van klein Emilio Hutchinson, ʼn driejarige seuntjie wat saam met sy ouma, Ellen (52), in die slaapkamer van hul huis vermoor is.

Emilio is glo geskiet omdat hy gehuil het.

Maroela Media het vroeër berig drie mense is dood toe ʼn groep verdagtes Dinsdagaand omstreeks 23:15 ʼn deur van die gesin se huis oopgeskop en op die inwoners losgebrand het. ʼn Hawelose man, Claudeo Thomas (44), aan wie Hutchinson daardie nag skuiling gegee het, is dieselfde aand saam met die ouma en haar kleinkind doodgeskiet.

Hutchinson se tienerseun en dogter is ook in die voorval geskiet, maar het die aanval oorleef. Die huis is glo slegs ʼn paar meter van die naaste polisiestasie.

Luidens berigte was bendelede glo op soek na Hutchinson se tienerdogter wat die getuie van ʼn bendemoord was. Sy was egter nie die betrokke aand tuis nie.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder vir polisie, sê soos soveel ander jong mense wat van hul toekoms in hierdie land beroof is, het Emilio ook nooit die geleentheid gekry om skool toe te gaan nie.

Whitfield het die skietery waarin die kleuter “aan die hand van bloeddorstige bendelede in die veiligheid van sy eie huis gesterf het” ten sterkste veroordeel.

“Dit is die tragiese herinnering dat niemand misdaad, wat in Nelson Mandelabaai hoogty vier, ontsnap nie.

“Inwoners van die misdaadgeteisterde noordelike gebiede is in hul huise vasgekeer weens die geweld wat deur bendelede gepleeg word. Nou het hul huise, wat hul heiligdom van veiligheid behoort te wees, ook misdaadtonele geword.”

Whitfield sê hoewel Emilio nie skool- of universiteitsopleiding beskore was nie, en ook nie die geleentheid om ʼn leier in sy land te word nie, sal “sy lewe nie verniet wees nie”.

“Die DA sal veg vir geregtigheid vir Emilio en sal nie rus voordat die polisie sy moordenaars vasgetrek het nie.”

Hy sê die land hoor by herhaling hoe Bheki Cele, die minister van polisie, leë beloftes maak dat daar planne is om misdaad in Nelson Mandelabaai in bedwang te bring. “Sy beloftes is net lippediens.”

Altesame 45 mense is sedert die begin van die jaar in die noordelike gebiede van die stad dood. Verlede jaar alleen was daar 78,33 moorde per 100 000 mense en die moordsyfer het met 37% gestyg.

Whitfield sê tussen 2021 en 2023 was meer as 88% van alle bendegeweld in die noordelike gebiede.

“In hierdie tydperk is 361 bendeverwante skietvoorvalle aangemeld, waarvan 319 in die noordelike gebiede aangemeld is. Dit het tot die moord op 180 mense gelei en 22 van hulle was kinders.”

Hy het in Oktober verlede jaar aan die minister geskryf en sy dringende ingryping versoek om spesialiseenhede van die polisie na die gebied te stuur om die voortgesette moorde in die bende-geteisterde Nelson Mandelabaai te stuit.

“Die minister het op 29 Desember verlede jaar in ʼn skriftelike antwoord bevestig dat hy ʼn versoek vir die ontplooiing van nasionale gespesialiseerde eenhede oorweeg. Ons sien egter nog geen sinvolle ingryping nie.

“Ek het nou weer aan die minister geskryf om hom aan sy verpligtinge te herinner voordat nog onskuldige lewens geëis word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.