Kleuter in hospitaal ná hy in swembad beland

Foto: Rescue Care-ambulansdienste

ʼn Kleuter is Donderdagmiddag in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal in Durban gehaas nadat hy by die gesin se huis in die swembad beland het.

Garrith Jamieson, bedryfsdirekteur van Rescue Care-ambulansdienste, het gesê die voorval het omstreeks 14:30 by ʼn huis in Devon Grove in Bluff gebeur.

Jamieson het aan Maroela Media gesê die pa en sy twee en ʼn half jaar oue seun was buite die huis toe die pa vir ʼn oomblik in die huis gegaan het. Met sy terugkeer het hy sy seun in die swembad gevind. Volgens Jamieson was die kleuter vermoedelik ongeveer een minuut lank in die water.

“Paramedici is deur die buurtwag na die toneel ontbied en hulle het die seuntjie op die toneel gestabiliseer. Hy is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal in Durban gehaas.”

Jamieson het gesê die seun was teen Vrydagoggend steeds in die hospitaal, maar by sy volle bewussyn en buite gevaar.

Die seuntjie se ma het egter die inligting wat deur Jamieson verskaf is betwis. Volgens haar was daar baie min water in die swembad en het haar man skaars sy rug gedraai toe die seuntjie in die water beland het. Sy het gesê haar seuntjie is reeds dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.