Kleuter in koma ná leeu-aanval

Een van die Weltevrede-leeuplaas se leeus wat ‘n kleuter beetgekry het. (Foto: Margaritha Hulscher)

“Op hierdie stadium vra ons net vir gebede, ons wil net hê mense moet bíd.”

Só het Pieter de Beer, pa van die vierjarige Dinamari gesê, nadat ʼn leeu by die Weltevrede-leeuplaas tussen Sasolburg en Heilbron haar gister deur ʼn draad beetgekry en ernstig beseer het.

Dinamari het ernstige beserings, onder meer aan haar skedel, opgedoen en word steeds in ʼn kunsmatige koma in ʼn Albertonse hospitaal verpleeg, het De Beer gesê. Sy is aan ʼn ventilator gekoppel en word deurlopend vir infeksie dopgehou.

Dinamari is Sondag per helikopter van Heilbron na dié hospitaal gehaas.

Die kleuter en haar ouers was deel van ʼn begeleide toer toe die voorval op die leeuplaas plaasgevind het.

Volgens De Beer was hulle net op pad uit ʼn kamp waar een van die leeuwelpies aangehou word, toe ʼn leeu hom om die nek beetgekry het. Dinamari was op dié stadium in sy arms, het De Beer gesê.

Hy het gesê hy was ʼn ent van die heining weg en dat die toergids die groep gewaarsku het dat daar ʼn leeu agter hulle in die kamp is.

Die leeu het kort daarna opgespring.

De Beer het gesê sy vrou, Ansia, se hande is potblou waar sy die leeu met haar vuiste geslaan het om die dogtertjie te bevry. De Beer het self ook beserings aan sy keel en arm opgedoen.

De Beer het gesê hy onthou ʼn vrou se gil en hoe hy teen die draad teruggetrek word. Hy het gesê hulle is geweldig getraumatiseer deur die voorval.

Claudia Hulscher, wat saam met haar ma, Margaritha, en dogtertjie, Zeva (5), op dieselfde toer was, het gesê ʼn toergids het die groep gewaarsku teen ʼn leeu in die kamp langsaan. “Nie tien sekondes later nie het die leeu opgespring,” het Hulscher gesê.

“Dit was terrible. ʼn Helse skok. Die kind was vol bloed. Al die ander kinders het begin huil,” het sy vertel.

“Die leeu wou nie die kind se kop laat gaan nie. Die arme ma het ingespring en die leeu met die vuis geslaan en geskreeu ‘los my kind’,” het Hulscher gesê.

Hulscher het vertel nog een van die besoekers het gehelp om die leeu te verwilder.

Charlene van Wyk, bestuurder van die leeuplaas, het gesê hulle betreur die voorval.

Sy het gesê daar is oral op die perseel waarskuwingsborde wat besoekers maan dat die diere wild is, wat mense vra om versigtig te wees en watter reëls om op die plaas te volg. Toergidse wat besoekers op begeleide staptogte deur die kampe neem, waarsku besoekers ook deurlopend om versigtig te wees en veiligheidsmaatreëls te gehoorsaam. Besoekers word onder meer gemaan om minstens ʼn meter weg van die kampheinings te staan en nie te hardloop of te skree nie.

Dit is die tweede keer die afgelope week dat ʼn besoeker aan die plaas beseer word toe ʼn leeu hulle beetkry. Woensdag is ʼn man beseer toe hy voor ʼn heining gebuk het sodat iemand ʼn foto van hom voor die leeukamp kan neem.

Volgens Van Wyk het die persoon verskeie krapmerke opgedoen en is hy self na ʼn dokter toe om behandeling te ontvang.

Oor gister se voorval het Van Wyk het gesê hulle wens die kleuter spoedige beterskap toe en sal haar gesin bystaan so ver moontlik.

“Ons bid vir die klein meisietjie,” het Van Wyk aan Maroela Media gesê.

Die plaas het nege leeus, waaronder twee jong welpies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Mike ·

Gaan kyk leeus in Wildtuin….veilig vanuit ‘n motor.
Wilde diere hoort nie in hokke of dieretuine nie.

PJC ·

Ek dink die leeukampe waar die publiek beweeg moet ander tipe heinings kry sodat leeus nie hulle pote daardeur kan druk nie en mense ook nie hul hande nie want dit het ook al gebeur.

phillip ·

Dar moet n tweede heining wees wat sal vrhoed dat mense naby die kamp kom en hande deur steek nie.

Aiaiai ·

Wanneer gaan die MENS leer dat n DIER. ….en RERIG veral n LEEU…….G E V A A R L I K is????

Lize ·

Ek het ‘n geweldige probleem met “leeuplase”. Dis net ‘n dekmantel vir canned hunting en leeu gebeentes vir uitvoere. Mens behoort hulle glad nie te ondersteun nie. Wens ons het strenger wetgewing teen hierdie euwel gehad.

phillip ·

Lize ek kan nie genoeg met jou saamstem nie. Hulle hoort in n wildtuin en nie in kampe nie.

Chris ·

Dit is nie die waarheid nie. Daar is plase wat hulle leeus in aanhouding laat skiet maar verseker nie alle leeuplase nie.

M'Lady ·

Leeus moet in die vrye natuur wees. Nie in kampe op leeu plase nie. Afskuwelike bedryf. Waar is SAPA? Is hulle nie veronderstel om hierdie “plase” te monitor nie?

Iens ·

Ek stem saam met jou. Leeus op sogenaamde leeuplase en waar jy klein leeuwelpies kan “pet”, is die begin van geblikte leeujag. Ek verafsku mense wat dit aan hierdie pragtige diere doen. Voel ook bitter jammer vir die beseerde dogtertjie. Hoop sy genees volkome.

Karlahari ·

Logika sou sê dat daar 2 drade moet wees waar toeriste loop. Minstens n meter uitmekaar om mens en dier te skei.
n Enkel draad tussen my en n leeu doen dit nie vir my nie…..

Daleen.Becker ·

Hoekom moet die arm dier altyd die skuld kry..dis mense soos die wat waarskuwings borde verontagsaam..hoekom kyk jy nie na jou kind nie…dit maak nie saak waar die diere aan gehou word nie.hulle waarsku mos en se bly n meter weg van die draad..en hoekom n siviele saak.is mense wat altyd reels oortree…maak nie saak of hulle in wildtuin is of in hokke is nie…as mense reel verontagsaam is dit mos nou die ouers se probleem…

Jacoelien ·

2010 was daar oor 2 sussies 3 en 5 jr oud ook gebyt deur die leeus op dieselfde plek oor hul een wou “pet” moet dan nie dat die kidies toegelaat word om dit te doen nie!!! Dink jul nie ook dis bietjie tyd dat daar meer veiligheid toegepas word aan die gaste nie???!

Felicia Fourie ·

Ek bly uit sy hok en hy kom nie in my sitkamer nie. So maklik soos een… twee… drie!

Anoniem ·

Die voorval was Sondag en sy is direk daarna per helikopter hospitaal toe, nie Vrydag nie.

HJ Pienaar ·

Sulke plekke moet toegemaak word. Tweede voorval in een week. Daardie draad hou nie eers bokkies in nie, hoe verwag hulle dat dit n leeu kan inhou. Dan gee hul die publiek die skuld. Daardie leeu het die heining platgespring en die pa van agter 3m binne die sogenaamde veilige area omgespring. Die leeu het toe die kind aan haar kop weggesleep. Ondenkbaar. Dan hardloop die gidse eerste weg. Die arme Dinamarie. Ek hoop Pieter sue die kak uit hierdie onverantwoordelike idiote uit. Pieter Ansia en Nico Julle is flippen dapper gewees om die kind uit die leeu se kake te kon red.

Jan Karsten ·

Hoekom is die draad se gate so groot? Die leeu kan sy kop omtrent deur druk. Sluit die plaas vir toeriste. 2 aanvalle in ‘n week.

Anoniem ·

Ek ken die man wat Woensdag aangeval is. Hy het ook met sy kind in sy arms gestaan en die leeu het sy kop deur die heining gedruk. Die plaas se hokke is duidelik onveilig!

J ·

Hoekom wil mense heeltyd aan wille diere vat. Selfies neem of selfs fotos as hulle die gevare ken. Ongelukkig is jy die oorsaak van jou eie nalatigheid en onnoselgeid.
Enige wildedier bly altyd gevaarlik al is hy mak.

J ·

Enige wilde dier bly gevaarlik ………. Al is hy mak…… Instink om sy prooi te vang.

Elsa ·

Moet om vadersnaam nie die leeu doodskiet nie asb die mense was verkeerd

Gideon ·

Ek is gewoonlik aan die kant van die dier maar daardie heining lyk regtig swak! Hoe kan die eienaar toeriste ontvang op so plaas sonder behoorlike heinings?
Enige dier wat teen so heining opspring sal die draad laat meegee en dan gaan die slagoffer wat 1 m wegstaan gebyt kan word!

Bly liewer stil! ·

Vir almal hier wat so oordeel en gal braak…. Ek is seker daai pa het nie die oggend opgestaan en gedink “oh kom ek laat my dogtertjie deur n leeu byt vandag” nie!!!! Ek is seker Hy wou sy gesin net bietjie met n dag uit bederf en het gedink om vir hulle leeus te gaan wys in wat verondrstel was om n VEILIGE kamp te wees sal iets besonders wees!!! Bly eder stil want jul was nie daar nie, bid eder dat daai kind volkome sal herstel! Haar pa Kon mos nou nie wet so iets gaan gebeur nie!

DR ·

Bonnox heining baie sterk, maar moes dalk geelektrifiseerd gewees het aan binnekant, en loop area aan buitekant waar besoekers moet bewweg, sterkte aan almal

Cherokee ·

Of geëlektrifiseerd aan die buitekant om die besoekers op ‘n afstand te hou.

Genis ·

MM – Julle skryf die kleuter is gister aangeval deur die leeu , maar is Vrydag per helikopter vanaf Heilbron na Alberton vervoer .

Mariné Lourens ·

Dagsê Genis

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Onnie MP ·

Ek is glad nie ‘n voorstaander van geblikte leeujag nie, maar besef wel die waarde van wildsplase wat leeus aanhou. As dit nie die geval was nie, het ons geen vrylopende leeus meer in die suide van Afrika gehad nie. Leeus in die dieretuin is in klein kampe met weinig gras en bome. In die wildtuin word leeus blootgestel aan tering omdat heinings tussen plaaslike nedersettings en die wildtuin byna nie bestaan nie. Gaan doen gerus navorsing. Vir elke leeu wat wettig en eties gejag word,word 10 leeus in die natuur se lewe gespaar. Dit bly die toeriste se verantwoordelikheid om te alle tye bewus te wees daarvan dat dit wilde diere is en hierdie plaas leeus het juis hul vrees vir die mens verloor. Ek bid dat die dogtertjie vinnig sal herstel en geen nagevolge oorhou nie. Moet asb nie alle leeu eienaars onder dieselfde kam skeer nie. Daar is van hulle wat regtig omgee vir bewaring. En dis hulle wat ons moet ondersteun.

Anoniem weer ·

Jammer weet daar is erger dinge in die lewe maar ernstig alles begin êrens.

Phumba ·

My Jackrussel/wors kruising byt daai draaitjies af, die leeu is net ordentlik deur die draad nie heeltemal te ignoreer nie.

Hansie ·

Ek was self al n paar maal op die spesifieke leeuplaas, gewoonlik saam oorsese besoekers. Die oord het oral waarskuwings op, en as jy die begeleide toer doen word almal eers ingelig oor die gevare en moets en moenies. As daar nou een ding is wat wilde katte kriewelrig maak, is dit jong kinders wat alleen loop of hardloop, en hulle waarsku dus ook daarvoor. Die plaas het al jare hulle leeus en nog vele ander diere, en slegs as die welpies te groot word om te troetel word hulle verkoop. Hul self laat geen leeus jag nie. Ek dink almal het al die skermgreep gesien van die man wat vir “kietsie” deur die draad wou vryf. Party mense glo reels is daar om gebreek te word, wat dan later tot sulke onnodige en ongelukkige voorvalle lei.

GM ·

Sterkte aan die kleinding en haar ouers.

Wat my opval is dat die bestuurder sommer dadelik die blaam skuif na die besoekers. En hulle was seker ook foutief, maar…. Hoekom is die gate in die heinings so groot? Dit lyk so timmerig. En dan is dit die tweede voorval in ‘n week se tyd en hulle voel nie die fout lê by hul veiligheidsmaatreëls nie? As mens so ‘n plaas wil bedryf, dan moet daar voorsorg getref word – nie net waarskuwingsbordjies opsit en dan is jou deel gedoen nie. Hulle weet dat kinders ook die plek besoek, wat as een hul hand deur die heining gaan druk die oomblik as mamma of pappa wegkyk? Mense moenie toegelaat word om so naby aan die diere te kan kom nie.

Op ‘n ander noot, ek het eenkeer gesien hoe ‘n man ‘n klip na ‘n cheetah toe gooi by die dieretuin – om sy aandag te trek vir ‘n foto.

Attie. ·

As hulle leeus laat skiet vir groot geld is dit hul saak maar wat die leeujag ‘n stink kleur gee is dat die welpies eers deur toeriste vertroetel word, teen betaling, en daarna wys hulle die leeus, teen betaling en op die einde word hulle geskiet, vir groot geld. Blykbaar is daar meer leeus op plase as in nasionale parke. Mense moet wegbly van die leeu telers. Hulle voel niks vir jou nie, net vir jou beursie. As dit ek was wat betrokke was sou ek die beste regsadvies ingewin het. Daardie leeuteler kry vir ‘n geblikte leeu maklik 500 duisend rand en dan maak hy nog goed geld terwyl die leeu leef.

Anoniem ·

Ons gebede met die slagoffertjie en haar gesin. Was ook al paar keer op die spesifieke plaas ongelukkig is hul agterlosig en veiligheids maatreels is nie op standaard of in plek nie. Moet nie die leeu skiet nie dis nie die dier se skuld nie maar die eienaars en die bestuur wat duidelik geen verantwoordelikheid neem nie vir hul onverantwoordelikheid nie
En dis nie gal braak nie dis net die waarheid.

Anoniem ·

Sterkte aan die familie en klein dogtertjie hoop sy word gou gesond. Ons was ook al op daaiselfde leeuplaas hul is onverantwoordelik en geen veiligheids maatreels is in plek nie hul is onprofesioneel en dis hartseer dat die leeu of die slagoffers die skuld moet kry. Die eienaars moet aanvaar hul het gefouteer. En dis geen gegal braak nie dis blote feite. Indien hul veiligheid in orde was sou dit nooit gebeur het nie. Van ons gaan nie met oogklappe deur die lewe nie. En soek nie verskonings vir onaanvaarbare gebeure nie. Dit is onaanvaarbaar wat gebeur het. Het hul die nodige noodhulp opleiding of middels vir as daar iets gebeur nee ek glo nie hul het enige nie. ………. Se maar net.

Realis ·

Die arme kind en leeu lei onder swak fasiliteitbeplanning en bestuur. Gaan kyk by enige ordentlike plaas hoe lyk die hokke en wat die veiligheidsstandaarde is. Hul hoort elkgeval nie daar nie, punt stop en klaar. Dis so hartseer. Ek kry die familie en kleinding bitter jammer. Maar die diere in hierdie fasiliteite ook. Nie eers die dieretuin nie.. gaan wildtuin toe en sien en geniet hoe hul vrylik en in hul natuur is. Hou op hierdie plekke ondersteun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.