Kleuter in waakeenheid ná hy byna verdrink

Klein Cianu van der Watt (Foto: Facebook)

’n Kleuter (2) van Krugersdorp sterk tans in die waakeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal aan nadat hy die naweek byna in ’n swembad by sy grootouers se huis in Roodepoort verdrink het.

Jolandi van der Watt vertel aan Maroela Media dat sy haar ouers gevra het om Saterdag na haar en haar man se twee ouer seuntjies, onderskeidelik agt en nege jaar oud, om te sien sodat hulle vir die kinders Kersgeskenke kon gaan koop. Hul jongste seuntjie, Cianu, het saam met hulle winkels toe gegaan.

Volgens Van der Watt het hulle die middag omstreeks 12:30 teruggekeer en sy het nog vir haar ouers gevra om hulle motorhuis oop te maak sodat hulle twee fietse wat hulle die dag vir Cianu se boeties gekoop het, skelmpies kon bêre tot Kersfees. Daarna het die volwassenes in die kombuis gesels terwyl die seuntjies in die televisiekamer gespeel het.

Dit is egter tóé dat klein Cianu ongesiens na buite kon glip terwyl sy boeties televisie gekyk het.

“Die volgende oomblik hoor ons die tuinier skree en toe gil my ma: ‘Waar is Cianu?’” vertel Van der Watt van die oomblik wat elke ouer vrees. Hulle het dadelik geweet Cianu het in die swembad geval.

Volgens Van der Watt het haar man, Riaan, van die boonste dek van haar ouers se huis na onder tot in die swembad gespring terwyl sy haar na onder gehaas het. Die tuinier het reeds vir Cianu uit die water gehaal toe sy by die swembad kom. Hul blondekop-seuntjie het in dié stadium nie asemgehaal nie.

“Daardie oomblik voel so onwerklik. Ek het nie gedink my kind gaan doodgaan nie. Ek het vir myself gesê dat ek drie seuntjies het, nié twee nie. Hoe kan ek aangaan as my kind doodgaan?” vertel sy nou.

Riaan het noodhulp op Cianu uitgevoer, maar klein Cianu het geen teken van lewe getoon nie. “Ek het vir Riaan gesê hy moet net aanhou. Toe blaas hy en ek druk, maar Cianu het nie beweeg nie. Ek staan toe op, loop ’n tree weg en begin net bid. Ek het kliphard begin bid,” verduidelik ’n emosionele Van der Watt.

Klein Cianu van der Watt (Foto: Facebook)

Sy vertel dat sy daarna straat toe gehardloop het waar sy haar pleidooi aan die Here gemaak het: “God is goed. Asseblief, gee my my kind terug.”

Volgens Van der Watt kon haar man eindelik Cianu sover kry om weer asem te haal waarna hulle die kleinding na die kombuis geneem en hom aan sy grootouers se suurstofmasjien gekoppel het voordat die paramedici tien minute later opgedaag het.

Cianu is tans aan ’n ventilator in die waakeenheid van die Garden City-hospitaal gekoppel. Hy het ook ’n pypie in sy kop wat sy breinfunksie en die swelling van sy brein monitor. “Dit is verskriklik. Natuurlik blameer ek myself. Ek moes na my kind gekyk het.”

Volgens Van der Watt is Cianu een van vier kinders in een saal wat onlangs byna verdrink het. “Ons was gelukkig en het nog geskenke gekoop. ’n Mens besef nie dat daar soveel mense is wat hierdeur gaan nie. Jy hoor van hierdie dinge tot die dag dat dit met jou gebeur.”

Van der Watt vertel dat sy nou ander ouers bewus wil maak van die gevare wat water vir kinders inhou. “Ons kan net dankie sê ons kind leef. Ek het vir Riaan gesê, maak nie saak hoe ons kind hiervan af kom nie, ek sal vir maande hier sit en aanhou bid.”

Besoek die Facebookblad “Cianu kort gebede” om die kleuter se vordering te volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spikkels

Baie sterkte aan die ouers en klein seuntjie ons bid vir hom en al die ander kindertjies wat saam hom in die hospitaal is. ????????

O Wee

Geen verwyt nie, maar maak asb die swembad toe met ‘n behoorlike seil. Sterkte vir die familie en veral die ouers. Ek bid vir die kleinman!

Connie Georgiou

En se dankie aan die swart man war begin skreeu het en in die swembad gespring het. Was dit nie vir hom nie dan het die kind dalk nie nou gelewe nie.

Johan Louw

God is Koning. Ons kleinkind het ook `n amper verdrinking deurgemmak met die genade van God op `n 2 jarige ouderdom. Netcare en Gardencity was fantasies goed behulpsaam en so ook die Netcare Rehab. Kean is vandag 9jaar oud en doen baie goed. Wees sterk, Moet nie moed verloor nie. Volhard met HOOP. Die Here sal voorsien.

Deloris

Baie sterkte aan julle ons bid en glo saam met julle hy en die ander kindertjies gaan volkome herstel. Dankie Jesus.