Kleuter kry 70 steke ná hond haar byt

Charlaine Guarini nadat sy deur ʼn hond gebyt is. Foto: Verskaf

ʼn Kleuter van Brits in Noordwes moes 70 steke in haar gesig kry nadat sy vandeesweek onverwags deur die gesin se hond aangeval is.

Charlaine Guarini, wat môre drie jaar oud word, is Maandag in die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria geopereer waartydens ʼn erge bytwond aan haar gesig geheg is.

Franco Guarini, Charlaine se pa, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy was Maandag by die werk toe een van die gesin se twee boerboele vir Charlaine gegryp het. Volgens Guarini is die gesin besig om te trek en het Charlaine saam met haar ma in die motorhuis ingegaan om bokse te gaan haal.

“Daar is ʼn spoorweg oorkant ons huis en daar loop gereeld mense verby die huis wat die honde tart. In daardie oomblik het die honde weer blaffend hek toe gehardloop en Charlaine het agter hulle aangehardloop. My vrou het dadelik agter haar aangehardloop, maar voor sy by haar kon kom, het sy haar hoor skree,” het hy gesê.

Charlaine Guarini nadat sy deur ʼn hond gebyt is. Foto: Verskaf

Een van die honde het Charlaine op haar bors plat teen die grond getrap en haar aan haar gesig gebyt. Toe Charlaine se ma om die draai kom, het die hond haar dadelik gelos en weggehardloop. Charlaine is na die provinsiale hospitaal in Brits gehaas van waar sy later na die hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.

“Haar beserings was baie, baie erg. Haar wang was heeltemal oopgeskeur dat jy tot binne haar mond kon sien en haar lippie is aan die linkerkant ook oopgeskeur. Die hond het ook twee van haar tandjies uitgebyt – dit moes in die teater getrek word. Sy is Maandag 17:30 in die teater in en het 20:15 uitgekom,” het Guarini gesê.

Foto’s van Charlaine se beserings net nadat sy gebyt is, het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei met baie mense wat beweer het sy is Carli Swart, ʼn dogtertjie van die Wes-Kaap wat ook vandeesweek deur ʼn hond gebyt is. Dit is nie duidelik waar die valse bewerings begin het nie.

Charlaine is vir ʼn paar dae in die hospitaal behandel voor sy vanoggend ontslaan is. Sy moet môre teruggaan hospitaal toe wanneer die wond skoongemaak sal word en volgende week sal haar steke in die teater uitgehaal word.

Charlaine Guarini nadat sy deur ʼn hond gebyt is. Foto: Verskaf

Guarini het gesê ʼn veearts het later na hulle huis gekom waar albei die boerboele van kant gemaak is. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om te bepaal of die honde hondsdolheid gehad het en indien wel, sal Charlaine daarvoor behandel word.

“Ons het ons eerste boerboel gekry toe Charlaine drie maande oud was en die tweede boerboel net ʼn jaar later. Sy het saam met daardie honde grootgeword en hulle was nog altyd baie liefdevol en beskermend teenoor haar,” het Guarini gesê. “Die veearts sê hy vermoed omdat mense altyd die honde deur die hek getart het, het hulle mettertyd al meer aggressief geword. Maar dit bly ʼn baie traumatiese ervaring vir ons almal – dit is nie ʼn lekker ding om deur te maak nie.”

Hy sê tot hulle verbasing toon Charlaine geen tekens van trauma of vrees vir honde nie. “Toe sy uit die hospitaal uit gekom het, is ons eers na my tannie toe omdat ons haar nie wou ontstel deur haar terug te vat na ons huis nie. Die tannie het ʼn Jack Russell-hondjie en toe ons daar aankom, het Charlaine dadelik nadergestap om die hondjie te vryf. Sy is so ʼn ongelooflike sterk dogtertjie. Ten spyte van wat gebeur het, is sy nog steeds die wonderlike vriendelike dogtertjie wat sy nog altyd was.”

Veronica Guarini, Charlaine se ouma, het aan Maroela Media gesê sy glo daar was ʼn beskermengel wat oor Charlaine gewaak het. “Dit kon soveel erger gewees het. Sy kon selfs dood gewees het. Ek wens so ek kan haar pyn vir haar wegvat, maar ons is baie dankbaar dat sy oukei is.”

Aangesien Charlaine nie ʼn mediese fonds het nie, moet die familie al haar mediese onkoste en medikasie self betaal. Mense wat graag die familie wil bystaan, kan Veronica by [email protected] nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

64 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hanna

Sterkte poplap, Jesus sal jou gesond maak

Me

Arme poppie! Ek hoop werklik sy word gou beter en genees ten volle!!!

Miem

Ai.. Dis vreeslik. Sterkte. My seuntjie is ook deur ‘n liefdevolle boerboel gebyt oor sameloop van omstandighede en wat nie regtig die hond se skuld was nie, maar meer ‘n reaksie.. (hy was 4 dae in die hospitaal) Die feit dat sy nie bang is vir honde wys dat die hond nie regtig aggressief teenoor haar wou wees nie, maar net uitinge aan aggressie gegee het, en sy was ongelukkig daar op die verkeerde tyd..(dus maar bloot my mening) My seuntjie is ook nie bang vir honde na sy byt nie.. Maar nog steeds nie lekker dat die kind so… Lees meer »

Werklik

Hoekom die hond uitsit? Dit was nou regtig onnodig en bloot ‘n ongeluk.

Clyvia

Werklik, ek kan werklik nie glo wat jy so pas gesê het nie. Sou jy ook gesê het dit was net n ongeluk as dit dalk een van jou kinders was. Dit is nie lekker om die diere uit te sit nie maar dit is beter so. Shame sterkte julle!