Kleuter na hospitaal gehaas ná hy in oop drein beland

Deur Mary-Ann Gontsana/GroundUp

Juan Pieterse wys na die drein waarin sy tweejarige seuntjie, CJ, geval het. (Foto: GroundUp/Verskaf)

ʼn Tweejarige seuntjie van Piketberg in die Wes-Kaap is per helikopter na die Tygerberg-hospitaal gehaas nadat hy in ʼn oop drein naby sy huis geval het. Inwoners van die plaas, asook die omliggende gebiede, kla glo al bykans drie jaar lank oor die onbedekte drein.

CJ Smith se familie sê die seuntjie het met sy maats gespeel en ʼn bal probeer kry wat in die drein beland het, toe hy self ingeval het.

Laticia Pienaar, woordvoerder van die Tygerberg-hospitaal, sê CJ is aanvanklik in die Radie Kotze-hospitaal op Piketberg opgeneem, van waar hy per helikopter na die Tygerberg-hospitaal geneem is.

“Hy is tans in ʼn bestendige toestand.”

Billy Claasen, verbonde aan die Landelike en Plaaswerkersontwikkelingsorganisasie, sê die voorval het Woensdag omstreeks 13:00 plaasgevind. Die oop drein is volgens hom net enkele meter van waar CJ saam met sy ouers en ander werkers woon.

“Die plaaswerkers het die boer by talle geleenthede gevra om die drein te bedek, maar niks is gedoen nie,” sê Claasen.

CJ se pa, Juan Pieterse, het hom uit die drein gered nadat die seuntjie se maats na die huis gehardloop het om alarm te maak. Hy het CJ in die groen rioolwater gesien spartel.

Die kleuter se pa en ma, Crismally Smith, waak intussen by sy bed by die hospitaal. Die twee werk nie op die plaas nie, maar op ʼn nabygeleë een.

CJ se ouma, Grieta Smith, sê dat die familie, ook CJ se sibbe van onderskeidelik vyf en 13 jaar oud, uiters ontsteld is ná die voorval. Sy sê dit is die eerste keer dat ʼn voorval soos dié plaasvind, al is die boer volgens haar ook by herhaling gevra om die drein toe te maak.

Sy sê ook die polisie het die familie en die plek waar CJ ingeval het besoek. Volgens haar het die boer op wie se plaas die voorval gebeur het, dit egter nie gedoen nie.

Die voorval benadruk die haglike lewensomstandighede en sorg teenoor sommige plaaswerkers, voer Claasen aan. Hy beweer ook dat plaaswerkers van grond afgesit word nie ver van waar Woensdag se voorval plaasgevind het nie.

Die organisasie beoog nou om aan pres. Cyril Ramaphosa te skryf oor die opdraande stryd wat sommige werkers het en dreig om ʼn klag van poging tot moord teen die boer aanhangig te maak. Claasen sê die boer het intussen ʼn heining opgerig om die plaas af te kamp.

Ray van Rooy, burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, sê die plaas is enkele kilometer buite Piketberg geleë. Volgens hom is die drein op private grond, wat die munisipaliteit verhoed om in te gryp. Hy het wel ʼn gesondheidswerker gevra om die toneel te besoek.

GroundUp se oproepe aan die persoon wat glo die eienaar van die plaas is, was onbeantwoord en so ook navrae op Whatsapp.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rina

Aangesien die mense op die plaas bly en die drein by hulle huise is hoekom maak hulle die drein nie self toe nie. Hoekom moet alles vir hulle gedoen word. Of hoekom trek hulle nie weg daar nie dan kan die man mos maar elke dag plaas toe gaan om te gaan werk en saans teruggaan na sy dorps huis toe. Die boer is mos nie vir alles verantwoordelik nie.

Stephanus

Swak beriggewing. Klaarblyklik daarop gerig om op n eensydige en sensasionele wyse verdeeldheid onder die plaaslike gemeenskap te saai. Datums en tye word nie vermeld nie maar die indruk word geskep dat die plaas in n dag of twee (teen waarskynlik veel groter koste) omhein word terwyl daar niks aan die riool gedoen word nie. Wat het ouers gedoen om die die veiligheid van hul kinders te verseker? Dit bly egter tragies dat n kind as gevolg van die nalatigheid van volwassenes, veral sy ouers, aan sulke traumatiese gebeure blootgestel word.

Tanniepetoors

In die eerste plek lyk dit nie vir my na ‘n drein nie, maar dit daar gelaat. Dis ‘n plaas. Op ‘n plaas is daar gewoonlik plekke waar daar water is. ‘n Klein kindjie kan in ‘n baie klein bietjie water verdrink! Die ouers is self verantwoordelik vir hul kinders se veiligheid.

Shakespeare

Mesh of n metal “sheet” wat oor die gat geplaas word en vasgeboud word is goedkoop en sal nie langer as 3 uur vat om te installeer nie. Ek was 35 jaar lank n boer en ongelukkig is dit die boer se verantwoordelikheid.

Sean

Die arme boer Dis n ouer se plig om te verseker dat sy of haar kinders veilig speel 2 jaar oud En hull kla al lankal oor die oop gat Ag nee man!!!!! Kla die ouers van daai arme kleuter aan