Kleuter na twee dae by ma se lyk gevind

Natasja Nel. Foto: Facebook

Natasja Nel. Foto: Facebook

ʼn Kleuterdogtertjie het twee dae lank saam met haar ma se lyk in ʼn huis in die noorde van Pretoria deurgebring voordat hulle deur die polisie gevind is.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die polisie, het gesê Natasja Nel (27) se liggaam is Donderdag op haar bed in haar huis in Montana gevind. Haar vierjarige dogtertjie was saam met haar.

“Mense wat haar ken, het onraad vermoed toe hulle haar nie in die hande kon kry nie en geen beweging in en rondom haar huis gesien het nie. Hulle het die polisie ontbied en beamptes is na die huis om ondersoek in te stel,” het Van Dyk gesê. “Met ons aankoms by die huis het ons [Nel] se liggaam op haar bed aangetref. Haar dogtertjie het vir die beamptes gesê, ‘Mamma slaap. Sy wil nie wakker word nie’.”

Van Dyk het gesê ʼn nadoodse ondersoek is reeds gedoen, maar dit sal ʼn paar maande neem voordat die verslag bekendgestel word. Hy kon dus nie dadelik die oorsaak van Nel se dood bevestig nie. “Geen vuilspel word vermoed nie, maar ons kan nie nou oor die oorsaak van haar dood bespiegel nie. Die nadoodse ondersoek sal dit moet bevestig,” het hy gesê. Hy het gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Intussen is talle boodskappe van medelye op Nel se Facebook-profiel geplaas. Volgens inligting op haar profiel het sy vermoedelik weens ʼn epilepsie-aanval gesterf.

Maroela Media het Louise Joubert, Nel se suster, gekontak, maar sy het gesê die familie wil nie nou kommentaar lewer nie.

ʼn Gedenkdiens is vandag vir Nel by Lewende Woord Montana gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gerd Lourens ·

Sjoe! My hart breek vir die blootstelling wat die arme kind gehad het. Sterkte aan die familie.

Alida ·

Ai dit is erg. Mens wonder net wie het vir die kindjie kos gegee?

Adeline ·

Ai dis vreeslik hartseer! Arme kleinding. Sterkte vir die familie

Wenner ·

Dink net hoe honger en bang moes die arme kindjie gewees het! Arme arme kindjie! Ek is net dankbaar sy het nie in haar bangheid die hasepad gekies nie. Die kindjie sal net berading moet ontvang om hierdie tragedie te verwerk

Dankbaar ·

Ondanks die groot hartseer en tragedie is ek dankbaar dat haar Mamma nie op enige ander manier van haar weggeruk is nie! Sy is n superster, sy het kalm gebly en niks onverantwoordeliks gedoen nie, 2 dae vir n 4 jarige is ongelooflik lank. Met terapie sal sy alles so goed moontlik kan verwerk soos in n situasie waar jy n ouer verloor het. Ek is meer hartseer omdat sy nie meer haar eie Mamma het nie!

Monique ·

Hello, ek is Natasja se niggie. Ek wil net laatweet dat haar dogtertjie ‘n baie groot familie het wat omgee en na haar gaan kyk. Ons gaan nie haar mamma se plek kan inneem nie maar ons gaan mooi na haar omsien. Sy gaan by haar pappa bly, sy het ‘n ouma en oupa wat baie lief is vir haar. Sy sal nog deur hierdie moet werk en dit is ‘n lang pad, sy het nie verstaan hoekom groet ons mamma nie.

Yolanda ·

So hartseer vir die kleinding, gedink mamma slaap. Ai, mens se hart skeur in stukke. Voel jammer vir die ma ook, wat nie eers haar kleinding kon sien groot word nie.

Theresa B ·

Dis vreeslik. Arme kind. Hoop maar sy het ietsie gevat om te eet. Sy moet ook nou net by mense wees wat haar kan oorlaai met liefde en aandag. Ai hier van einde September tot Desember is dit altyd of sulke hartseer sake net meer en meer word. (Asof die hele jaar se tragedies nie genoeg is nie).

Sue ·

Die meisietjie is regtig n voorbeeld vir baie mense. Hoe het sy gevoel toe dit donker word en sy begin honger raak? Dis hoekom dit belangrik is om jou kindertjies van kleins af te wys hoe ‘n foon werk.
Kleinding ek is baie trots op jou. Mag jy eendag verstaan wat gebeur het.

Johanna ·

Liewe Jesus, troos hierdie dierbare ou dogtertjie. o hoe seer is my hart vir haar ervaring en verlies. Dankie ons Here dat sy n liefdevolle familie het wat haar mooi sal oppas. Rus in vrede moedertjie.

Christine ·

Dankie Monique vir jou boodskap , dis voorwaar so hartseer dis met trane in my oe dat ek nou antwoord, dankie Jesus dat sy Engele kleinding beskerm het. Sterkte aan die kindjie se pappa en die hele familie. Mag die Here julle seen vir julle bystand en liefde vir hierdie kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.