Kleuter ondergaan operasie ná trok oor hom ry

Michael Nortjé voor die operasie. Foto: Verskaf

Michael Nortjé, die vyfjarige seuntjie van Kinross in Mpumalanga wat ernstig beseer is toe ʼn vragmotor oor hom gery het, is Saterdagoggend met groot ogies teater toe gestoot waar dokters ʼn operasie aan sy been sou uitvoer.

“Hy was maar bang terwyl hulle hom afgestoot het teater toe. Ek kon darem by hom bly tot hy aan die slaap geraak het en toe moes ek gaan. Nou sit en bid ek dat alles goed sal afloop,” het Monica van der Merwe, Michael se ma, aan Maroela Media uit die Sunshine-hospitaal in Benoni waar Michael behandel word gesê.

“Sjoe, ek is gestres hoor. Ek weet nie wat om met myself te maak nie. Dit is so moeilik dat ek nie by hom kan wees nie. Maar die dokters is baie goed vir ons en vriendelik en ek weet hy is in goeie hande.”

Maroela Media het vroeër berig Michael het Donderdag laatmiddag onder ʼn 8-ton-trok beland toe hy op dié voertuig op sy ouers se plaas gespeel het. Die werktuigkundige wat ʼn werkswinkel op die plaas het, het nie besef Michael is agterop die vragmotor nie, en het die voertuig aangeskakel en weggetrek. Michael het van die trok afgeval en die voertuig is bo-oor hom.

Michael Nortjé het baie seergekry toe ’n vragmotor op sy ouers se plaas oor hom gery het. Foto: Verskaf

Michael se been en sleutelbeen is gebreek en sy skedel is op drie plekke gekraak. Van der Merwe het vroeër gesê dit is net genade dat die kleuter nie enige breinbloeding opgedoen het nie. Dokters is ook verbaas dat hy deurentyd by sy bewussyn was.

“Dokters gaan nou vanoggend penne in sy been sit om te verseker dat dit behoorlik herstel. Michael moes ook vroeër bloed kry en kry ook tydens die operasie ʼn bloedoortapping,” verduidelik Van der Merwe.

“Die dokters sê sy ouderdom tel in sy guns en omdat hy so jonk is, behoort hy vinnig te herstel. In dié stadium lyk dit nie of dit nodig is om ʼn operasie aan sy skedel of sleutelbeen te doen nie, maar hulle hou hom maar dop.”

Sy sê Michael was nog tot voor die operasie deurentyd by sy bewussyn, verstaan wat gebeur het en gesels land en sand met sy ouers. “Hy is baie positief.”

Van der Merwe en haar man, Walter Nortjé, het vroeër gevra dat die publiek moet bid vir Michael se volkome herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Al ·

Dankie Here U sal hom ten volle genees.
U genade is groot.
Sterkte aan julle.

Estelle ·

My dogtertjie het in 6 jaar meer as 25 kosmetiese en ook ander operasies ondergaan nav ñ motorongeluk. Ek wonder of die narkotiseurs besef hoeveel dit vir ñ mamma soos ek beteken en hoeveel dit die pasientjie help om die angs en vrees te oorkom, wanneer hul ons toelaat om by hulle in teater te bly tot hul slaap.

leser ·

sterkte aan gesin
ek sal julle ook in my gebede aan GOD opdra

willem heitlager ·

sterkte mijn jongen en helemaal aan je ouders wij bidden mee nedrland staat bij jou en je ouders

Ada ·

Ai tog seuntjie ek dink aan jou.Sterkte aan die gesin en ek hoop hierdie dapper seuntjie herstel gou want die Engeltjies kyk na hom.

Jannie ·

Baie sterkte en seën en baie gou herstel!! Jy lyk soos ‘n bulletjie wat hom nie sal laat onder kry nie!!

Driekie ·

Reeds n wonderwerk dat hy nog leef. God is met hom. Dankie Here dat hy nou ook ten volle sal herstel

Oom Kalahari ·

Ons dank die Hemelse Vader vir sy hand wat Hy oor klein Michael gehou het om die ongeluk te oorkom. Vader ons bid ook dat hy ten volle sal herstel en hom genees en dat U te alle tye met hierdie gesin, familie en vriende sal wees en hul vertroos deur hierdie tyd met klein Michael herstel en bystand. Sterkte aan die familie en jul is in ons gebede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.