Kleuter op minder suurstof ná ongeluk by skool

Klein Marno Muller in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Marno Muller, die vyfjarige seuntjie wat moontlik tien minute lank aan ’n glyplank by sy kleuterskool gehang het nadat die toutjies van sy baadjie vasgehaak en om sy nek gespan het, ontvang nou minder suurstof in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg.

“Marno was gister op 80% verdowing en 100% suurstof. Hy is vandag weer op 100% verdowing maar 40% suurstof,” het Nadia Minnie, Marno se tannie, vanmiddag (Saterdag) aan Maroela Media gesê.

Die kleuter is ook steeds aan ʼn ventilator en ʼn hartmasjien gekoppel.

Minnie sê klein Marno se bloeddruk het tussen Vrydagaand en Saterdagoggend geval. Hy is sedertdien medikasie toegedien sodat sy bloeddruk kan stabiliseer.

Daar is aanvanklik beoog om die verdowing waaronder Marno tans is teen vandag (Saterdag) stelselmatig te verminder. Daar is intussen daarteen besluit om Marno se liggaam kans te gee om te rus.

Minnie sê Marno se ouers, Rudie en Helga, probeer sterk staan.

“Ek dink Marno se pa is die sterker een in dié stadium. My sussie het vanoggend weer verskriklik gehuil. Sy eet nie. Sy slaap nie. Onder die omstandighede probeer sy cope omdat sy nog na Marno se ouboet moet omsien.”

Klein Marno Muller het op die glyplank gegly toe die toutjies van sy baadjie iewers vasgehaak en hom gewurg het. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig onderwysers by ’n kleuterskool in Brakpan het hulle Donderdag met Marno na die Life Dalview-hospitaal gehaas. Die kleuter het by sy aankoms by die hospitaal nie hartklop of polsslag gehad nie en hy was blou. Daar was ook blou merke aan sy gesig – vermoedelik soos hy gekrap en spartel het. Daar was ook merke aan sy nek waar die toutjies hom gewurg het.

Marno was sowat ses uur in dié hospitaal waarna hy na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is.

Die gesin het ʼn hospitaalplan, maar volgens Minnie word dié plan nie deur die hospitaal aanvaar nie.

Sowat R207 000 is sedert die fratsongeluk ingesamel om Marno se mediese koste te dek. Die kwotasie wat die hospitaal aan die ouers vir behandeling by dié hospitaal verskaf het, kom egter op sowat R350 000 te staan.

Enigiemand wat die gesin met die mediese uitgawes wil help, kan Minnie by 078 249 1971 kontak.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik publiseer is nadat die familie nuwe inligting oor Marno se toestand verskaf het. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TO ·

Ek bid God se genade oor hierdie liefie lyfie. Ek weet ook die wraak kom ons nie toe nie, MAAR ek wil die vraag vra. Waar was die toesig toe hierdie ongeluk gebeur het, want soos ek verstaan het hy reeds nie hartklop of asemhaling gehad met sy aankoms by hospitaal???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.