Kleuter op verjaarsdag ontslaan ná sy by dood omdraai

Kaylin Dedekind (Foto: Verskaf)

’n Kleutermeisietjie van Mpumalanga het vanoggend, op haar derde verjaarsdag, self uit ’n Johannesburgse hospitaal gestap nadat sy twee weke gelede ná ’n tragiese ongeluk sonder enige hartklop gelaat is.

“Ons is só opgewonde. Sy is 100% soos sy was voor die ongeluk. Ons is baie dankbaar,” sê Juanita Dedekind oor haar jongste spruit, Kaylin, se wonderbaarlike herstel. Sy sê die gesin sien daarna uit om ná die beproewing huis toe terug te keer. “Ons mis ook ons ander dogtertjie, Ashley. Ons was lank van haar af weg.”

Juanita en haar man, Siegfried, se grootste nagmerrie het op 23 Desember by hul huis in Middelburg ’n werklikheid geword. Juanita vertel dat hulle op die dag in die sitkamer gespeel het. “Kaylin het net onder ons oë uit verdwyn. Dis seker maar instink wanneer jy ’n swembad het, maar ons het dadelik by die swembad gaan kyk en haar daar in die water sien dryf.”

Dit is onduidelik hoe lank Kaylin in die water was voordat haar ouers op haar afgekom het. Siegfried het dadelik mond-tot-mond-asemhaling toegepas voordat hulle met haar na die naaste hospitaal gehaas het. “Dit is ’n gevoel wat ek geen ouer sal toewens nie. Ek kan nie die gevoel verduidelik nie,” sê hy. “Ons het aanhou lewe spreek en bid.”

By hul aankoms by die hospitaal is vir hulle gesê dat daar niks is wat dokters meer vir Kaylin kon doen nie. “Daar was geen hartklop of polsslag nie. Sy was dood,” sê Siegfried.

Kaylin Dedekind (Foto: Verskaf)

“Ek en haar ma het in aparte kamers gaan sit en net gebid.” Dokters het onverpoosd gewerk om klein Kaylin weer by te bring en wonderbaarlik het haar hartjie weer begin klop. Met flou tekens van lewe, is sy dadelik vanaf die hospitaal in Middelburg per helikopter na ’n Johannesburgse hospitaal geneem wat in verdrinkings spesialiseer.

Kaylin is gevolglik vir sowat 72 uur onder verdowing geplaas en koud gehou. Juanita verduidelik deur die liggaamstemperatuur by 34 °C te hou, word verhoed dat die brein verder skade opdoen indien daar reeds breinskade is weens ’n tekort aan suurstof.

“Daardie 72 uur voel soos ’n ewigheid.”

Nooit het hulle gedink dat Kaylin só vinnig en ongedeerd uit die hospitaal sou stap nie. “Ek het wel geglo sy sál uitstap. Ek moes positief bly,” sê Juanita.

Sy meen Kaylin se moeilike herstelpad het eintlik verbasend vinnig gegaan gegewe dat sy eers Maandag uit die waakeenheid ontslaan is. “Die tyd in die hospitaal het soos ’n ewigheid gevoel en tog is ons nie so lank hier soos party ander ouers nie. Dit leer jou om op God te vertrou en sterk te bly in geloof, maak nie saak of dit ’n goeie of slegte dag was nie,” sê sy.

Vir Siegfried voel dit egter asof dit maar gister gebeur het. “Dit was ’n verskriklike moeilike tyd, maar ons dien ’n groot God. Daar was regtig wonderwerk op wonderwerk,” sê hy.

Die Dedekind-gesin se tuiskoms is net betyds aangesien ousus Ashley môre graad een toe moet gaan.

Verder beplan dié gesin om net rustig by die huis te wees saam met familie. Hulle sal wel later vandag ’n dankseggingsdiens hou om dankie te sê dat Kaylin weer veilig by haar huis is.

Ja, hierdie Kersfees en Nuwejaar was g’n feestydperk vir hulle wat by hul kind se siekbed moes waak nie, erken Siegfried. Juanita sê dat hulle egter tog die beste Kersgeskenk ontvang het waarvoor hulle kon hoop. “Die Here het tog vir ons die beste Kersgeskenk kom gee – ons begin ’n nuwe jaar saam as gesin en ons kan net vir die Here dankie sê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

zoeye ·

as jy enigsins twyfel in geloof of die Krag van Jesus in gebed
dankie dat julle ons weer herhinder
alle LOF en EER aan Koning Jesus!
hallelujah ons loof HOM saam met julle

Linda ·

Prys die Here!! Dalk kan die ouers dit oorweeg om n net oor die swembad te sit. Sterkte!

Susan ·

Wonderlik!!! Wonderwerke gebeur elke dag om ons! Die Here is GROOT! Ek is so bly en dankbaar vir julle as gesin. Ons het ook so wonderwerkie in ons gesin. Groot, ontsettende groot dankbaarheid!

Hallelujah ·

Sing Hallelujah in Jesus se naam, Sjoe our God is good all the time and all the time our God is good.

GM ·

Ek is vreeslik dankbaar dat die ouers ‘n tweede kans gegun word – daar is baie wat nie so gelukkig is nie. Leer tog net uit ander se foute en beveilig swembaddens en visdammetjies. Moenie klein kindertjies alleen los in die bad nie, moenie dromme water laat rondstaan op jou erf nie, ens.
Ek is nie ‘n perfekte ouer nie. Ek het al dikwels verstom en uiters dankbaar gestaan teenoor die Here as ek of my kinders iets doms aangevang het, en mens na die tyd eers besef wat verkeerd kon gegaan het – Soos my woelwater wat een dag oor die bankreling wou duik, kop eerste, en ek haar net betyds aan haar voete kon gryp. En ek het heeltyd langs haar gesit. Wonderwerke gebeur elke dag, hoe klein dit ookal vir ons mag lyk, daar word nie van ons vergeet nie. Mag elkeen ‘n geseënde 2019 beleef!

Skapie en Sterrietjie ·

Pragtige foto, die blonde koppie met die skapie…dit lyk kompleet soos n engel wat n skaap vashou..myns insiens..God se bewys dat daar hoop is..dis absoluut fantasiese nuus hierdie verhaal spreuk boekdele..dankie vir sie plasing dit gee party van ons hoop vir 2019!!

Charne nel ·

Ek is so bly vir julle die Here is goed ons het nie gestop om te bid nie Juanita Ons by die Apteek wil net se ons kan nie wag om julle weer te sien nie ons is opreg dankbaar vir almal wat saam julle gebid het liefde xx Die Clubville apteek span

Liefie ·

Ek is baie bly sy is gesond. Maak asb daardie swembad ordentlik toe of gooi die verduiwelse ding toe. Ek weet nie vir wat neek almal alewig met n oop swembad nie.

Almie Goosen ·

Maandag 7 Jan was dit 13 jaar terug wat ons in ‘n soortgelyke situasie was. Ons seuntjie was pas 2 toe ons hom ook gesig na onder in ons swembad gevind het ook sonder ‘n hartklop of asemhaling. 12 dae in ‘n koma en op ys met ‘n ventilator wat vir hom asemhaal was nie pret nie maar vandag is hy ‘n jong bul van 15 en vir die laaste 12 jaar se ons elke 7 Jan dankie dat ons ‘n 2de kans gegun is om sy ouers te wees. Ons dien ‘n groot God.

Ook n mamma ·

Ek is bitter dankbaar hierdie dogtertjie is nou gesond.

Ek is wel bitter teleurgesteld dat die ouers nie die swembad beveilig het nie. Al verlaat jy die swembad vir slegs 5min, sit jy weer die net oor. N kleuter verdwyn in n oogwink.

Ek wens daar was strenger maatreels en afdwinging daarvan itv swembaddens, dammetjies ens.

Dit was onverantwoordelik. Ja ek weet, niemand van ons is perfek nie, maar n ouer maak nie sulke foute nie. Ek hoop daardie swembad is nou beveilig.

My hart kan net nie meer al hierdie stories hanteer van kinders wat verdrink, amper verdrink ens nie.

Natascha ·

Ja nee, by God is niks onmoontlik nie, vra en vertrou net. Als gebeur in Sy tyd nie ons sin nie. Hy gee ons daagliks iets om voor dankbaar te wees, al die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar is net n genade uit Sy Hand.

Jozi ·

Inderdaad ‘n wonderwerk.
Hoop egter haar ouers maak onmiddelik ‘n plan met hul swembad.
Mag dit vir almal ‘n les wees – heining, slot of net oor die swembad. Is nie so moeilik nie.
Dan kan almal ontspan en die kinders is veilig.

Miekie ·

Mens kan nie genoeg dankbaar wees oor die dogtertjie veilig en sonder probleme uit die water gekom het nie. As familie en vriende bymekaar is watse dag ook al en dit is somer sal dit kinders wel wil begin swem. As mens op ‘n plaas bly kan mens nie babatjies van 6 of 9 maand neem vir swemlesse nie. Daar sal darem seker in elke dorp iemand wees wat lesse aanbied. Weet die kind sal nie kan swem maar net leer om veilig om te draai en te dryf. My een vriendin wat op ‘n plaas bly het al haar kinders vir lesse geneem en so die jongste se lewe gered. Die net was net eenkant oop en toe val die baba van 9 mnde in die swembad en het dadelik op sy ruggie gedraai om te dryf. Gelukkig was die ma by en kon die babatjie dadelik uithaal maar sy het net na iets geluister wat haar dogtertjie se toe val die baba in,

Wonder maar net ·

Wonder net of na soveel genade ontvang daardie swembad ten minste nou toe gegooi is. Hoop regtig soi

Angie ·

Wat kan ek se, GOD is groot en ongelooflik ek was 4 jaar oud toe presies die sele met my gebeur het! Geen hartklop niks gehaat nie my oupa het ook mond tot mond gedoen was ook hospitaal toe gejaag en dokters het ook hard gewerk om my te help! 27 jaar later en I’m still going strong! Jys sterk my skat en GOD is met jou eks so dankbaar jys ok!

Poppie ·

Ek was ook 4 toe ek ook amper verdrink het. En dit met my hele familie in die water. Na wat soos n ewigheid gevoel het, het die 1 tannie my aan my hare gegryp en uitgetrek. 50 Jaar later, en as ek nog steeds daaraan dink, dan voel ek hoe benoud ek word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.