Kleuter se familie geskok deur moordenaar se ‘belaglike vonnis’

Argieffoto

Argieffoto

Natasha Hansen, ʼn 36-jarige vrou wat skuldig bevind is aan die moord op haar vyfjarige stiefseun, is Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Regter James Yekiso het Hansen tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hansen is in Desember skuldig bevind aan moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, nadat sy haar stiefseun, Gershwin Isaacs, so erg mishandel het dat hy ná drie maande in haar sorg dood is.

Gershwin se ma, Catherine Wannenburg, se oë het vol trane geskiet toe die vonnis uitgelees is. “Vyf jaar is baie min vir iemand wat ʼn kind aangerand en doodgemaak het,” het sy gesê. Beredine Isaacs, Gershwin se tannie, was ook geskok oor die “belaglike vonnis”.

“Ons het foto’s van die kind se liggaam gesien. Sy hande was geswel van die aanranding, daar het bloed by sy oor uitgekom en selfs op die dag van sy begrafnis was daar nog merke aan sy gesig,” het sy gesê.

‘n Emosionele Wannenburg se stem het gebewe toe sy gesê het sy dink heeltyd aan haar seun en verlang die heel meeste na hom op sy verjaarsdag en oor Kersfees.

Megan Blows, die staatsaanklaer, het Donderdagoggend weer van die getuienis gedurende die verhoor aan die hof voorgelê. Sy het die hof gevra om die grusame foto’s van die seuntjie se liggaam te onthou, asook die getuienis van die dokter wat hom by die Rooikruis Kinderhospitaal behandel het, wanneer daar oor ʼn vonnis besluit word.

Gershwin het in Maart 2004 by sy pa en Hansen, sy stiefma, gaan bly, omdat sy biologiese ma nie finansieel na hom kon omsien nie. Hy is in Mei dood weens herhaalde aanranding deur Hansen. Prof. Sebastian van As, wat Gershwin behandel het, het gesê die beserings waarmee die seuntjie in die hospitaal opgeneem is, kon nie gebeur het omdat hy geval het, soos Hansen beweer het nie.

Hansen is in boeie by die hofsaal uitgelei. Sy kan na drie en ʼn half jaar weer vrygelaat word, wanneer sy twee derdes van haar vonnis uitgedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leeutjie ·

Toemaar! Die ladies agter tralies gaan haar versorg! Sy gaan haar pakkie met probleme kry en sy verdien elke hou wat na haar toe kom. Hetsy verbaal, met die vuis of met die voet of erger! ‘n Kind is vermoor en dis haar skuld. Al het die hof die kind gefaal is die monsterma se straf geboek!!!

Ghost ·

Net weer n bewys die gereg het geen behoefte om mene lewens te beveilig nie. Dde oortreders kom so lig daarvan af dat hulle eintlik meer reg het as die onskuldiges.

Winston ·

Dit is hoe goedkoop n mens se lewe in SA werd is. Skandalig vir ons regsmasjienerie. Ek blameer nie die landdros/regter nie. Hy of sy het voorskrifte om by te hou, maar dit was erger as dieremishandeling.

tina ·

Dit breek my hart wanneer ek sulke berigte lees. Wens ek kon daar wees om ‘n verskil te maak en die outjies te help, wat in hierdie situasies van grootmense vasgevang is.
Ek wil beroep doen op ouers en familie. As die omstandighede so uitdraai in gebroke huwelike, waar kinders by betrokke is..wie ook al die toesig kry, vergewis jul van die welvaart van hierdie kindertjies deur gereeld besoek af te le ( ou mensies loop ook dikwels deur ). Wees die held/heldin van hierdie kindertjies, oumense , vroue , wat hul self nie kan verset of verdedig teen groot mense se dreigemente, afknouery of mishandeling. Dikwels is hierdie liefdeloosheid van die derde party, jaloesie of om die betrokke volwasse partye by te kom.
Wees die stem van hierdie slagoffertjies. Jy kan ‘n verskil maak en sodoende keer dat emosionele, geestelike en liggaamlike kinders met afwykings grootword.

Liewe lulu ·

Sulke kinders word altyd benadeel. Ons het n 6 jatige dogtertjie in pleegsorg. Op versoek van die welsynwerkster moes een naweek na haar ouma toe gaan. Raai wat, die kind se oorbelle en klere is gevat en vir die niggie gegee. Daar is mense wat nie omgee, steel van die wesies…..

pop ·

Die Justisie faal ons kinders herhaaldelik!!! Weet daai landdros hoe lank is 3 maande as jy so verniel word, ai en hy kon nie eers een keer terugbaklei nie. Wat het met die pa gebeur, hy moes en kon mos ingetree het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.