Kleuter se liggaam naby ouerhuis gevind

(Argieffoto: SA Polisie)

Die liggaam van ʼn vierjarige seuntjie is Vrydag langs die N11 naby Middelburg gevind, skaars vyf kilometer van sy ouerhuis af.

Mpendulo Ngcukani is reeds op Saterdag 30 Julie as vermis aangemeld. Die polisie, met behulp van lede van die gemeenskap, het destyds ʼn soektog van stapel gestuur, maar kon die kind nêrens kry nie. Die hulp van ander polisie-eenhede is toe ook ingeroep om die soektog uit te brei.

“Met behulp van die polisie se berede eenheid, polisieduikers en die eenheid vir familiegeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, is die kind se lewelose liggaam ongelukkig Vrydag naby sy ouerhuis gevind,” het brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie in Middelburg, gesê.

“Die polisie het ʼn nadoodse ondersoek begin om vas te stel of hy aan natuurlike oorsake dood is of nie.”

Die provinsiale polisiekommissaris het ouers weereens gewaarsku om altyd bewus te wees van waar hulle kinders hul bevind en seker te maak hulle speel nie sonder ouertoesig nie. “Ons meegevoel gaan uit aan die ouers in hierdie tyd. Ek is seker ondersoekers sal meer inligting oor die kind se dood bekom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.