Kleuter se moordenaar: ‘Asseblief, vergewe my’

Mortimer Saunders (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

“Courtney het nie dít verdien nie, ook nie haar ouers nie. Ek is opreg skaam vir wat ek daardie dag gedoen het. Ek sal voortaan moet leef met die wete dat ek verantwoordelik was vir ʼn kind se dood.”

Só lui die brief wat Mortimer Saunders geskryf het kort voordat hy gevonnis is vir die moord op die driejarige Courtney Pieters. Saunders is Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op en verkragting van Pieters.

Die hof het tydens die verhoor gehoor hoe Saunders op 4 Mei 2017 die kleuter miergif ingegee het in haar ouerhuis in Elsiesrivier waar hy ʼn kamer by haar ouers gehuur het. Hy het haar daarna verwurg. Die hof het ook bevind dat Saunders vir Pieters verkrag het voor hy haar vermoor het.

Hy het haar liggaampie in die Epping-nywerheidsgebied gaan stort waar dit op 13 Mei gevind is. Saunders is die dag daarna in hegtenis geneem.

In Saunders se brief aan Pieters se familie vra hy om verskoning vir almal wat deur sy optrede geraak is. “Ek wil jammer sê aan Aaron en Juanita [Courtney se ouers] vir wat ek gedoen het. En as hulle dit in hul harte kan vind om my eendag te vergewe.” [sic]

Hy vra ook aan ander familielede om verskoning, asook die hele gemeenskap wat geruk is deur die dogtertjie se wrede dood. “Dit was ʼn gruwelike misdaad en ek neem volle verantwoordelikheid vir wat ek gedoen het. Hierdie brief is vir almal wat ek seergemaak het deur my optrede, veral vir my vriend, Aaron.”

Courtney Pieters.

Saunders vra ook in die brief aan die vermoorde Courtney om verskoning. “Ek hoop jy kan my vergewe, want ek kan nie. Ek het nie ʼn verduideliking vir wat ek gedoen het nie. Hoekom het ek dit gedoen? Maar asseblief, vergewe my.”

Dié brief het egter geensins gehelp om Saunders se vonnis te versag nie. In die hofuitspraak stel regter Pearl Mantame dit dat die brief geskryf is ʼn week voordat die vonnisverrigtinge begin het.

Mantame sê dit lyk asof die brief eerder strategies geskryf is om ter versagting van vonnis te dien, aangesien Saunders nie tydens die verhoor bereid was om in die getuiebank te verskyn en daar vir die familie om verskoning te vra nie.

“Die brief staan in sterk teenstelling met wat met mnr. Kessie, die proefbeampte, bespreek is. Inteendeel, mnr. Kessie het getuig die kwessie van berou het nie eens deel gevorm van hul gesprek nie. Daar was geen verwysing na die oorledene se familie of ʼn verskoning in die proefbeampte se verslag nie,” lui die uitspraak.

“Hierdie hof kan dus slegs tot die gevolgtrekking kom dat hierdie brief van verskoning niks anders as ʼn nagedagte is nie met die doel om skadebeheer toe te pas. Dit het omtrent ʼn jaar en ʼn half geneem vir die verskoning om aan die lig te kom. Daarby het die beskuldigde nie die hof in sy vertroue geneem oor hoekom hy sulke gruwelike misdade gepleeg het nie, ondanks die feit dat hy duidelik bewus is daarvan dat hierdie misdade inderdaad afgryslik is.”

Die hof het wel ter versagting van vonnis in ag geneem dat Saunders ʼn eerste oortreder is, dat hy werksaam was voordat hy in hegtenis geneem is, asook die tyd wat hy reeds in aanhouding deurgebring het as verhoorafwagtende gevangene.

Saunders se twee lewenslange vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Lees alle vorige berigte oor Courtney Pieters op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hartseer ·

Weet jy die hof smeer net heuning om ons monde om 2 lewenslange vonnis op te lê en dit dan gelyklopend te laat uitdien. Wat is die doel daarvan? Hel hy verdien nie simpatie nie. ‘n Engelskind is van ons weg gevat en hy word vir ‘n paar jaar versorg soos ‘n koning.

Johan H. ·

Dink nie daar waar hy gaan kan hy aansoek doen vir n vuurwapen nie…. onbevoeg om n wapen te besit????

HESTER ·

hIERDIE MAN IS NIE JAMMER NIE , KYK UITDRUKKING OP SY GESIG DEUR DIE HELE HOFPROSES. H GLUUR ALMAL SMALEND AAN. HY IS JAMMER HY IS GEVANG.

Skerpioen ·

Ek stem saam met Robert. Mens moet probeer vergewe. Al gebeur dit nie dadelik nie. En al vra die skuldige party nie eens verskoning nie. Ek wonder net in hierdie geval hoe eg hierdie verskoning is en of hy net jammer is dat hy wel uitgevang is. As hy werklik berou gehad het oor dit wat hy gedoen het…. hoekom nie vroeer daarmee uitgekom het nie en homself gaan oorgee het nie. Ek hoop dat hierdie ouers hom wel sal kan vergewe… en ek bid dat God julle die vrede en krag sal gee wat julle nodig het.

AW ·

“Sometimes the things in our heads are far worse,
Than anything they could put in books or on film.
– C.K Webb

“Is evil something you are?
Or is it something you do ?
– Brett Easton Ellis, American Psycho

Robert ·

Andrea: ek weet dit is baie moeilik vir ons as mens. As taxi voor my in swenk wil ek hom vermoor, maar na die tyd besef ek as ek hom nie vergewe nie dan het ek ‘n las. hoe meer kere ek nie mense vergewe nie hoe swaarder word die las. Die betekenis van vergifnis is “om te laat gaan” en ja dis partykeer baie moeilik maar op die ou einde is dit vir my persoonlik ‘n verligting. Die Saunders het nie berou nie maar sy berou gaan nie sy vergifnis van iemand noodwendig vergemaklik nie. Hy het die hele ding vooruit beplan wat die terleurstelling by die ouers nog erger maak e nsoveel moeiliker maak om te vergewe. Die kind het in haar onskuld het die man ongelukkig vertrou en hy het dit uitgebuit. Dis tragies!

Francois le Cochon ·

Vonisse is nie gelyklopend, maar agtereenvolgend. D.w.s. 50 jaar.

Treurgrond ·

Almal almal kom net weg met als. Doodstraf moet terugkom. Hierdie man het ‘n kind se lewe weggeneem. ‘n onskuldige doggertjie Courtney het hy gedoen met wat hy wil. Daar is niks regverdigheid nie – sit die persoon in ‘n tronk en hulle gaan net aan. Mmm mmmm nie regverdig nie.

Zelda ·

Almal wat so doodstraf skree….. dis n maklike uitweg… hoekom hom so maklike uitweg gee.

LM ·

Ons kan jou vergewe maar die gevolge van jou dade sal jy dra. As ons nie vergewe nie kan God ons nie vergewe nie. Mat 6 – net onder die Onse Vader.

Petro ·

Druk daai brief waar die son nie skyn nie…. RiV kleinding ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.