Kleuter sterf toe bus met rugbyspan verongeluk

Die bus is aan die onderkant van die wal, langs ‘n huis, aangetref. (Foto: ER24)

ʼn Bus wat ʼn rugbyspan, ondersteunende personeel, ondersteuners en familielede ná ʼn rugbywedstryd huis toe vervoer het, het teen ʼn wal afgery. ʼn Driejarige kleuter is in die ongeluk dood en 36 ander insittendes is beseer, nadat die bus se remme glo onklaar geraak het.

Die ongeluk het Saterdagaand in die omgewing van Wildernis in die Wes-Kaap plaasgevind.

“Paramedici van ER24 het 18:30, gedurende beurtkrag, op die toneel aangekom, saam met die brandweer en ander mediese nooddienste. Die bus het glo van George na Wittedrift naby Plettenbergbaai gereis, nadat die rugbyspan by NMMU Saasveld, naby George, gespeel het,” het Ross Campbell, woordvoerder van ER24, Sondag gesê.

“Die bus het klaarblyklik ʼn pad aan die agterkant van Wildernis gevolg om by die N2 aan te sluit, aangesien die Saasveldpad weens vloedskade gesluit is.”

Die bus is aan die onderkant van ʼn wal gevind, waar dit 80 grade op sy kop gedraai was nadat dit deur die houtdek van ʼn privaat eiendom geploeg het.

“Die kleuter het ongelukkig noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Twee mans in hul 30’s het kritieke beserings opgedoen en was binne die voertuig vasgekeer. Hulle is deur ʼn lang en moeilike proses uit die voertuig bevry en het gevorderde lewensondersteuning nodig gehad,” sê Campbell.

Die proses om die mans uit die bus te bevry is deur Metro EMS gelei. ER24 het die mans toe na die George- provinsiale hospitaal vir verdere behandeling vervoer.

Nog 34 mans, vroue en kinders is vir minder ernstige beserings behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer.

Die polisie ondersoek die ongeluk.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Darts girl ·

My gebede aan almal van julle wat in die onfeluk betrokke was, veral aan die familie van die kleuter

Mrs H ·

Bus of minibus? Kon al 36 daarin pas? Baie jammer vir die hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.