Kleuter sterk aan ná hondebyt: ‘Sy is so sterk’

Charlaine Guarini herstel goed nadat sy op 11 September deur ʼn hond gebyt is. Foto: Verskaf

Charlaine Guarini, die driejarige kleuter van Brits in Noordwes wat erge wonde aan haar gesig opgedoen het nadat sy deur die gesin se hond gebyt is, sal vandeesweek weer geopereer word om die 70 steke aan haar gesig uit te haal.

Franco Guarini, Charlaine se pa, het Maandag aan Maroela Media gesê Charlaine se wond is vroeër vandag weer by die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria skoongemaak. “Die dokter is baie tevrede met haar herstel en gelukkig met hoe ons die wond versorg. Charlaine vorder goed en het ook darem weer begin eet,” het hy gesê.

“Die steke sal Woensdag onder narkose verwyder word en dan is daar nog twee plekkies wat die dokter net wil toemaak.”

Maroela Media het vroeër berig Charlaine is ʼn week gelede deur een van die gesin se twee boerboele in die gesig gebyt. Albei honde is later van kant gemaak.

Charlaine Guarini kort nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

Franco het verlede week vertel Charlaine en haar ma was in die motorhuis by die huis, toe die honde begin blaf en hek toe gehardloop het. Charlaine het agter hulle aangehardloop en een van die honde het haar op haar bors teen die grond vasgedruk en gebyt.

Charlaine se ma was binne oomblikke by haar en die hond het dadelik weggehardloop. Charlaine het egter erge beserings aan albei kante van haar gesig opgedoen en twee van haar tande is ook uitgebyt. Sy is na die provinsiale hospitaal in Brits gehaas van waar sy later na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.

Sy is Donderdag weer ontslaan en kon haar derde verjaarsdag Vrydag by die huis vier. “Charlaine was Vrydag baie ‘af’ tot haar nefie na haar toe gekom het. Toe het die twee lekker gespeel. Sy is ook bederf met speelgoed vir haar verjaarsdag,” het Franco gesê.

“Charlaine wys nie sy het pyn nie. Sy is so sterk. Sy is nou en dan bietjie ‘af’, maar dan is sy weer oukei en speel en hardloop rond. Dit gaan goed met haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrea ·

Dit is sulke goeie nuus dat dit goed gaan met die klein prinsessie.

Ek is nou ekstra versigtig met my eie kinders met die honde wat na die hek hardloop dit gebeur in in oogwink en of dit nou ‘n boerboel/Labrador was honde raak opgewonde en vergeet wie langs hulle staan by die hek.

Ek wens julle alle sterkte toe dit is nog ‘n lang pad om ten volle te herstel.

Asb ·

Bid dat elke letsel liggaamlik en geestelik volkome sal herstel. Jong Kinders moet baie mooi naby enige Hond opgepas word. HOND bly dier.. .,al probeer hy liefdevol teenoor mensekind asook sy baas optree.

anita ·

ek is jammer maar as n hond my kind byt dan sal ek die hond met my kaal hande dood maak
n dier is n dier en is vervangbaar
geen kind is vervangbaar nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.