Kleuter veg om lewe ná ongeluk by skool

Jayden Helberg. Foto: Facebook

ʼn Kleuterseuntjie van Pretoria is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy Donderdag baie ernstige beserings by sy skool opgedoen het.

Jayden Helberg moes Donderdag ʼn noodoperasie ondergaan en is ná die operasie in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem waar hy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel is.

Maroela Media verneem Jayden het seergekry toe ʼn sementwasbak op hom geval het, maar sy pa, Werner Helberg, wou nie meer besonderhede oor die ongeluk aan Maroela Media bevestig nie. Hy het Sondag gesê hy en sy vrou wil nou eers fokus op hul seun se herstel voordat hulle met die media oor die voorval gesels.

Hy het Maroela Media wel verwys na ʼn Facebook-blad wat op die been gebring is om mense op hoogte te hou van Jayden se vordering en hulle aan te moedig om vir hom te bid. Volgens inligting op die Facebook-blad het een van Jayden se longe ná die ongeluk platgeval.

Jayden was Saterdagaand steeds in ʼn kritieke toestand nadat hy ʼn terugslag gehad het. “Sy een longetjie het ʼn gogga. Dit word weggestuur vir verdere toetse. Ongelukkig het die een longetjie wat swak is die gesonde longetjie aangesteek. Sy hartklop was te vinnig wat ook komplikasies veroorsaak het. Susters het dadelik aan die werk gespring om hom weer stabiel te kry,” lui ʼn inskrywing op die blad.

“Bid asseblief sonder ophou. [Ons] seuntjie het elke gebed só nodig.”

Die Helberg-egpaar het ook op die blad gesê hulle vertrou op die Here vir volkome genesing. “Ons weet God hoor elke gebed en sien elke traan. Jaytjie, ons ou bulletjie, jy is ʼn regte vegtertjie. Jesus het jou styf vas teen Sy boesem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Buitestander ·

Baie sterkte aan die Heilberg ouers en gesin.
God sien opgenade neer op julle.
By God is niks onmoontlik nie.

Tersia ·

Ai liefie kind hierdie ouma bid baie hard vir jou en jou ouers. Ons dien lewendige God. Hy sal voorsien.

Lena Jonk ·

Ons het vir jou gebid en sal nog steeds so doen liefste seuntjie, ons bid ook vir julle as ouers om net te glo in ons Almagtige God, Sy Genade is Groot. Ons verstaan nie altyd wat met ons in hierdie wereld gebeur nie maar vertroue moet ons nooit verloor nie. Baie sterkte vir julle, julle ou seuntjie gaan gesond word. Hou ons altyd op hoogte hoe dit gaan.

Piet Pompies ·

Hierdie kind se bloed klop in die ouers se are, want dit is hulle kind en die herstel is in hulle geloof op God. Daar is geen verantwoordelikheid teenoor die media.
Ons bid ook vir Jayden.

Yvonne Lessing ·

Ons bid dat God jul gebede sal verhoor en dat jul seuntjie vinnig volkome sal herstel

Rita van der Merwe ·

Al wat ek en jy hoef te doen is om dit te respekteer. Die pa sê mos hulle konsentreer nou op hul kind se herstel…die regte ding om te doen?

Marie Steyn ·

Jayden tannie bud saam met dieres van die wêreld. Weet dat Jesus elke oomblik by jou bedjie is en oor jou waghou. Sterke aan die mamma en pappa my hart en gebede gaan uit na julle. Bly net bid en vertrou. God sal julle hierdeur dra

OUER ·

Baie sterkte aan die gesin en die seuntjie. Ek bid dat jy volkome herstel. Laat ek nou maar die negatiewe een wees wat almal met klippe gooi, maar ek het self kinders in ‘n voorskool en skool gehad en glo my daar is nie genoegsame toesig nie, en daar word nie voorsorg getref vir moontlike ongelukke nie. My kind het eenkeer op ‘n klimraam gesit, toe ek daar aankom het die helfte van die klimraam in die lug gehang (want hulle kon hom nie vassit nie want die toerusting is gehuur), net ‘n maand daarna is ‘n kind DOOD nadat daar ‘n klimraam op sy lyfie geval het. Die juffrouens by sommige skole sit met sonbrille aan in die son en tee drink en die kinders kry seer, as jy as ouer kla oor potensiele probleme dan word daar vir jou gese ” nou vat dan jou kind uit die skool uit”. Voordat TRAGIESE gevalle soos hierdie nie gebeur nie, word mense nie wakker nie. GAAN KYK Wat gaan in jou kinders se naskole en skole en voorskole aan .. daar is MIN na GEEN toesig nie, potensiele gevare word nie aangespreek nie, jy as ouer is ‘oorbeskermd’, wel net tot ‘n kind seerkry of sterf, dan OEH EN AH almal skielik. Val my maar aan, ek het eerstehandse kennis.

Marilise Van Wyk ·

Baie sterkte!!! Ek bid vir julle seuntjie asook vir julle as ouers!!!!

Gesiggie ·

Ons bid vir jou Jayden… Jesus neem asb die klein engel kind en plaas U hand op sy eina.. genees hom in Jesus naam,,, kan nie wag om te verneem van sy vordering.. Sterkte aan Mamma en Pappa- n ongeluk kan gebeur, of dit nalatigheid was? ons sal van die ouers die volle inligting ontvang as hul reg is… so ons fokus nou net op die kind se herstel, en vergeet van hoe kan so iets gebeur”’of wie verantwoordlik is daarvoor… word gou beter Jayden…

Naas Vermaak ·

Die media soek sensasie en sal heel waarskynlik nou al wil begin fokus op nalatigheid en regstappe terwyl die ouers alreeds deel met ‘n moontlike verlies en nou hulle volle aandag aan gebed, ondersteuning ens wil gee. – verstandig…ons weet immers die media is nie te vertrou nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.