’n Driejarige dogtertjie van die Oos-Rand het Maandagaand weer in haar eie bed geslaap nadat sy verlede week by haar skool in Springs ontvoer is.
Die kind is ongedeerd en is gisteraand met haar familie herenig.
Volgens die polisie is die meisie Donderdag by haar skool ontvoer deur ’n vrou wat haar as die kind se oppasser voorgedoen het. Die dogtertjie se ontvoerders het daarna miljoene rande van haar familie geëis in ruil vir haar vrylating.
Die losprys is nooit betaal nie, maar wel gebruik om haar ontvoerders, vermoedelik deel van ’n sindikaat, in ’n lokval te lei.
Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die losprys was veronderstel om Maandagaand by ’n voorafbespreekte perseel naby die East Gate Mall betaal te word.
Dit is hier waar die polisie se nasionale taakmag en onder andere lede van die metropolisie, paramedici van Netcare 911 en verskeie veiligheidsmaatskappye die ontvoerders gister omstreeks 20:00 ingewag het.
“Die span het ingestorm net toe die vier verdagtes opgedaag het om die losprys te gaan haal, en die dogtertjie is gered.”
Die vier is op die toneel in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op twee voertuie en twee ongelisensieerde vuurwapens.
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom.
“Welgedaan aan die span wat die veilige terugkeer van die dogtertjie verseker het, gesond en lewend. Die span se slapelose nagte het beslis vrugte afgewerp.”
Masemola het voorts gesê die inhegtenisnemings behoort as ʼn waarskuwing vir ander betrokke by soortgelyke misdade te dien. “Ons is sekerlik besig om hierdie sindikate vas te trek. Hul dae is getel.”
Die polisie doen opnuut ’n beroep op ouers om die volle name en besonderhede van hul kinders se naasbestaandes of voogde aan die skool te verskaf om te verseker dat vreemdelinge nie maklik toegang tot hul kinders kry nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Hoe gee die skool n leerder aan enige een ,ek sal mal geraak het by daardie skool,maar bly die dogtertjie is veilig
Masemola en sy span ‘ngroot welgedaan en duisend maal dankie dat jul die kindjie gered het uit die kloue van sulke kommuniste! Die probleem is môre loop hul weer vrylik rond na borgtog toegestaan is. Ek juig saam met die ouers van die 3 jarige dat hul kindjie ongedeerd terug in hul sorg is.
Sit n 3 jarige deur HEL en dit als vir . . . mammon geld god!!!!!
Ek hoop hulle bly in aanhouding tot hille gevonnis word. Bose mense…..
Suid-Afrika is ‘n misdaadhool!!