Kleuter wat byna verdrink terug by die huis

Die gesin het op 6 Junie by vriende in Centurion gekuier toe Dan-Roux Page in die swembad beland en byna verdrink het (Foto: Bees Dan-Roux Page, Facebook)

Dan-Roux (Bees) Page, die driejarige van Pretoria wat verlede maand byna verdrink het, is Maandag uit die hospitaal ontslaan en herstel tans tuis. Volgens sy ouers, Annelize en Stephen Page, beskryf die verpleegpersoneel en dokters Dan-Roux se vinnige herstel as wonderbaarlik.

ʼn Video wat op die Dan-Roux se gebedsblad op Facebook gedeel is, wys hoe die kleuter saam met sy pa in die kar huis toe ry, nadat hy langer as ʼn maand in die Garden City-hospitaal in Johannesburg gelê het. Hy word dan met stywe drukkies deur sy ma en ouboet, SJ (4), by die deur gegroet.

Die gesin het op 6 Junie by vriende in Centurion gekuier toe Dan-Roux in die swembad beland en byna verdrink het.

Maroela Media het vroeër berig Stephen het Dan-Roux vanuit ʼn venster in die huis in die swembad gewaar en dadelik gereageer. Stephen se vriend het hom uit die swembad getrek en hy en Stephen het byna vyf minute lank kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas. Hulle het daarna hospitaal toe gejaag.

By Garden City het dokters die kleuter in ʼn kunsmatige koma geplaas terwyl dokters sy hart, longe en brein dopgehou het om vas te stel of daar enige skade is. Hy was byna drie weke lank onder verdowing.

Terwyl hy onder verdowing was, het Dan-Roux  ʼn prosedure, genaamd Ecmo, ondergaan, waartydens dokters ʼn kunsmatige long aan hom gekoppel het. Die masjien word deur die nek direk aan die hart en brein gekoppel. Bloed word dan deur die eksterne, kunsmatige long en weer terug in sy lyf gepomp.

Voor die prosedure was daar ʼn 83%-kans vir permanente longskade en die proses het dit tot 30% afgebring.

Dan-Roux is vir 72 uur in ʼn kunsmatige koma geplaas terwyl dokters sy hart, longe en brein dophou om vas te stel of daar enige skade is (Foto: Verskaf)

Volgens die gebedsblad het Dan-Roux kort na die prosedure self begin asemhaal en sy algemene gesondheid het daagliks verbeter. Hy het die nodige fisio-, spraak- en arbeidsterapie ontvang.

Dan-Roux is op 7 Julie, sowat ʼn maand na die voorval, na ʼn gewone saal oorgeplaas.

Hy sou Maandag na ʼn rehabilitasiesentrum in Aucklandpark oorgeplaas word, maar die ambulans kon hom weens die onluste in die stad nie daarheen neem nie. Annelize en Stephen het toe besluit om hom huis toe te neem. Die ouerpaar sal tuis met rehabilitasie begin en Dan-Roux ook vir terapie vat.

Annelize en Stephen sê op die gebedsblad hulle gaan hierdie week vir Dan-Roux kans gee om weer tuis te raak en sy roetine te vind.

“Hy vorder so mooi. Vir nou is sy emosionele intelligensie nog bietjie agter. Ons leer van voor af geduld daarmee. Ons sal hom vir ’n volle evaluasie by die rehabilitasiesentrum neem om te sien waarop ons presies moet fokus. Ons is wel bly ons het hom eerder huis toe gebring,” skryf die ouerpaar op die blad.

Annelize en Stephen sê die gebede, ondersteuning en donasies wat hulle van vriende, familie en selfs vreemdelinge gekry het, laat hulle weer in die goedheid van die mensdom glo.

“ʼn Mens sal nooit weet hoe om dankie te sê nie.”

Die ouerpaar sê hulle hoop Dan-Roux se storie sal ook ander mense se lewens verander of aanraak.

Besoek die Facebook-blad hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Phillip ·

Bly om te hoor . Drie Eninege God is Groot dien n lewende God Strekte suen

Christel Cornelissen ·

Dagsê Johan
Baie dankie vir jou boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig en het die fout reggestel.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Mieke ·

So bly hy is weer tuis!! En ek is seker dat hy sy agterstand binne ‘n kort tyd gaan inhaal! Ons dien ‘n magtige God!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.